Weeklikse nuusoorsig | 27ste September 2019 Vrydag | 27 September | 2019

Reënval steeds broodnodig oor groot dele van SA (Uit Pro-Agri)

Dit is steeds droog oor groot dele van die land en reën word dringend benodig vir die somer wat voorlê. Lees hieronder meer oor Johan van den Berg se weervoorspelling.
Die aantal veediefstalsake wat vir die jaar 2018/19-jaar by die SAPD aangemeld is, het met 2,9% toegeneem. Boere word aangeraai om hulle vee wat gesteel word aan te meld.
Henna du Plessis is TLU SA / Old Mutual Insure Agri / Manitou / Mahindra se nuwe Jongboer van die Jaar vir 2019. Baie geluk Henna!
Tot volgende keer.
Boer slim!
Benine Ackermann- benine@proagri.co.za

 

Nuusflits:

Daar was die afgelope boekjaar vir die soveelste keer ʼn groot onderbesteding van die begroting van Gauteng se onderwysdepartement onder sy LUR Panyaza Lesufi terwyl daar groot infrastruktuur-agterstande in die provinsie is omdat bykomende skole nie gebou word nie, aldus adv Anton Alberts, VF Plus-voorsitter en LPW in Gautengse wetgewer

Lesufi se onvermoë om sy begroting doeltreffend aan te wend, probeer hy dan beredder deur op arrogante wyse Afrikaanse skole te teiken en te verengels deur nie-Afrikaanssprekende leerlinge op die skole af te dwing.

Die LUR doen dit deurlopend, selfs al weet hy dit is onwettig, soos gebeur het by die Overvaal Hoërskool waar sy eie departement se amptenare twee ander skole se hoofde onder eed laat verklaar het dat hul skole vol is terwyl dit nie die geval was nie. (Lees volledige berig hier).

 

Kanker eis twee bekende Bloemfonteiners in dieselfde week

Op dieselfde dag as wat ‘n afgetrede direkteur en stads- en streekbeplanner se begrafnisdiens gehou is, is nog ‘n bekende Bloemfonteiner, dr. James Brink, se dood aan kanker op Volksblad se voorblad aangekondig.

Piet de Bie (67), die afgetrede direkteur van die Vrystaatse Provinsiale Regering, was byna die helfte van sy lewe in ‘n stryd met kanker gewikkel. Hy het die afgelope 29 jaar gereeld chemo en bestraling ontvang, en is verskeie kere geopereer om kankerweefsel te verwyder.

Nogtans het sy vrou, Marietjie, hom in die begrafnisbrief as ‘n persoon beskryf wat onthou sal word vir die sonskyn wat hy in die lewens van haar, sy kinders en kleinkinders gebring het. Sy vrolike geaardheid is deur verskeie begrafnisgangers in herinnering geroep.

Die diens is deur die Hervormde Gemeente Bloemfontein-Wes se leraar, dr. Johan Nel, waar Piet en sy gesin lidmate was, behartig. Piet en dr. Nel was ook goed bevriend.

Dr. Brink (61) was ‘n lid van die Nasionale Museum in die stad se paleontologiedepartement, en hoof van die paleontologiese en argeologiese uitgrawings by Florisbad.  Hy het breinkanker gehad, en was volgens sy vrou, Marianne die laaste jaar bedlêend. Die breinkanker is in 2016 by hom gediagnoseer. ‘n Kollega het hom as ‘n persoon met wysheid, ‘n humor sin en ‘n beskeie geaardheid beskryf berig Volksblad vanoggend. https://www.netwerk24.com/Nuus/Algemeen/bekende-paleontoloog-van-bloem-sterf-aan-breinkanker-20190925

Nota deur skrywer.

Ek en Piet is oudkollegas by die provinsie, en later ook saam in die gemeente Bloemfontein-Wes. Kort na ek self vier jaar gelede met kanker gediagnoseer is, het ek onderweg na my eerste bestraling vir Piet in die hospitaal gaan kuier na hy geopereer was. Hy het baie goed gelyk, was opgewek en het vreeslik uitgesien om huis toe te gaan omdat daar, so het hy gekorswel, meer TV-kanale is waarna hy kyk. Hy het na sy aftrede by ‘n privaat firma gewerk, en het nog lank na hy behandeling begin ontvang het gaan werk (iets wat ek toe reeds nie meer kans voor sou sien nie – ek het my vryskutwerk van die huis af, of uit die hospitaal gedoen. Hy het sy kleinkinders ook soms fliek toe geneem.

Ek en James het albei in Dalsig, Stellenbosch, grootgeword. Hy is egter jonger as ek en was meer bekend aan my jonger broer en suster. James is ook met ‘n skoolvriendin van my suster getroud. Omdat ek baie in veral argeologie, maar ook paleontologie belangstel, het ek gereeld by hom by sy werk aangedoen vir meer inligting oor iets wat ek opgetel het. Hy was altyd behulpsaam en vriendelik.

Piet se begrafnis het my emosioneel erg getref. Die eerste lied wat opgegee is, was “O Heer my God..” Dis is dieselfde lied wat my toe nog aanstaande skoondogter, vier jaar gelede in die  kerk vir my gesing het na die twee kankers by my ontdek is. Dit was vir my erg emosioneel en die emosies is met die sing van dieselfde lied net so rou.

Herman

 

Brexit en die Skotse, Walliese, Noord-Ierse en selfs die mense van Cornwallis se opmars  (Uittreksel uit MaroelaMedia)

Verskeie nuusbronne dui daarop dat premier Boris Johnson se optrede oor Brexit nie net ongelukkigheid onder die Skotte, Wallisers, Noorsd-Iere en die mense van Cornwallis laat eskaleer het nie, maar dat steun téén Brexit toegeneem het, en dat selfs onder die Wallisers wat sedert die 1300’s by Engeland ingelyf is, nou sterker voel oor onafhanklikheid van Brittanje.

Die nuus het soos ’n skokgolf oor die wêreld gespoel – Brittanje se hoogste hof het premier Boris Johnson se prorogering van die Britse parlement ongrondwetlik verklaar. Baie regsgeleerdes het die uitspraak egter verwag, maar dit het nogtans vir baie as verrassing gekom omdat die koningin eers haar troon-regsadviseurs geraadpleeg het voor sy haar kop in hierdie byenes gesteek het.

Intussen is berig dat die mees onlangse peilings toon dat die Skotte wat nou weer op ’n referendum oor onafhanklikheid van Brittanje aandring op 49% staan, maar dit kan reeds ’n meerderheid wees volgens een peiling. Na raming het vier persent Skotte in die onlangse verlede van mening hieroor verander, en die Skotte se teenstand teen Brexit word as “die enigste rede” vir die swaai genoem. Die leier van die Skotse Nasionale Party (SNP) (wat hom vir Skotse onafhanklikheid beywer) het na die jongste hofuitspraak gesê dit is ondenkbaar dat Johnson as premier aanbly (sy kantoor het laat blyk dat Johnson nie oorweeg om te bedank nie) en het ’n beroep op die premier gedoen om te bedank.

Met die Britse referendum oor Brexit het die meerderheid Keltiese volke binne Brittanje, naamlik die Skotte, die Walliesers en die Noord-Iere teen Brexit gestem. Die grenskwessie tussen Ierland en Noord-Ierland, wat sedert die vredesooreenkoms effektief nie meer bestaan nie, is met Brexit nou ’n brandende kwessie. Die SNP het ook ’n groot optog gereël om teen Brexit bewaar te maak.

Intussen het ’n ou spook weer by Johnson vir diens, om Johnson tot slapeloosheid te treiter, kom aanmeld. Vyftien jaar gelede toe Johnson redakteur van Spectator was, het hy ’n gedig gepubliseer wat die Skotte erg verkeerd opgevryf het. Dit lui onder meer die Skotte is ’n “verminous race” wat “comprehensive extermination” verdien.

Berigte uit Wallis lui dat die hoofminister (first minister), Mark Drakeford, vir Johnson erg gekritiseer het en onder meer gesê het Johnson het die demokrasie geskaad, en dat Johnson se regering alle respek vir die waarheid verbeur het.  Protesoptogte het ook reeds plaasgevind waar vlae met die Walliese rooi draak op, geswaai is. Die media bespiegel oor of die onmin oor Brexit daartoe kan lei dat Wallis sy onafhanklikheid van Brittanje kan opeis.

In Noord-Ierland is die jongste hofuitspraak oor Brexit as ’n groot oorwinning vir alle mense van Noord-Ierland beskryf.

Al meer stemme gaan op vir ’n “Northern Ireland only” oplossing vir veral die grenskwessie.

Selfs Cornwallis wat oor minder selfbeskikkingsreg as die ander Keltiese lande en gebiede beskik, het volgens mediaberigte nou hul mening oor Brexit verander sedert die referendum daaroor. Toe het ’n betreklik geringe meerderheid inwoners vir Brexit gestem, maar aldus die berigte word nou gevoel hulle was nie goed ingelig oor die stap nie, of hulle was selfs mislei. Hulle wil nou weer referendum hou oor die kwessie.

Na berig word voel veral die Wallisers dat die stem teen Brexit nog sterker sou wees as so baie Engelse wat in Wallis woon nie daarvoor gestem het nie.

Dit lyk inderdaad of Johnson die Keltiese onafhanklikheidsdenke aangevuur het. Die implikasies van die Britte (eintlik die Engelse meerderheid) se vermoë om met hul meerderheid die Engelse wil op die Keltiese minderhede af te dwing, is nog selde so duidelik gedemonstreer deur die Brexit-kwessie. Boonop word die ongelykheidstatus tussen Engeland en die Keltiese lande en gebiede gedemonstreer deur die feit dat die Engelse nie ’n eie parlement het nie, en dat die Engels-oorheerste Britse parlement as voldoende hiervoor beskou word.

https://www.businessinsider.co.za/scottish-people-polls-brink-of-backing-independence-from-uk-brexit-2019-9?r=US&IR=T 

Besoekers van ander sterre kan agternagesit en besoek word

Die twee hemelliggame wat ons sonnestelsel kom besoek het kan met bestaande middele en tegnologie agternagesit word en bestudeer word, aldus navorsers wat meen dat sou ’n tuig so groot soos New Horizens, wat Pluto besoek het, teen 2021 op die nuwe Falcon Heavy van Space X gelanseer word, kan dit teen 2049 by die sigaarvormige Oumuamua aankom. Hulle het ook bereken dit sal moontlik wees om die komeet C/2019 Q4 (Borisov) wat pas ontdek is en in alle waarskynlikheid ook van ‘n ander ster kom, in te haal, maar met ’n veel kleiner tuig. Die twee voorwerpe beweeg vinnig, teen onderskeidelik 30 kilometer per sekonde en 26,3 kilometer per sekonde terwyl dit buite die sonnestelsel reis. Die tuigie sal die komeet, wat vasgestel is dat dit bloedrooi is, teen 2045 bereik. Beide tuie sal deur planete se swaartekrag deur die slingervel-metode versnel moet word om die twee haastige hemelliggame te kan inhaal. Die tuigie wat Borisov gaan inhaal, moet boonop digby die son verby maneuvreer.

Intussen lyk dit of die aarde deur ’n derde hemelliggaam van buite die sterrestelsel besoek is. Dié meteoor is in 2014ontdek en het in die lug bo Papa Nieu-Guinee ontplof. In Januarie vanjaar is daarop aanspraak gemaak dat dit ook van buite ons sonnestelsel kom na die trajek bereken is. Dit is egter nog nie bevestig nie.

https://www.space.com/interstellar-comet-borisov-mission-possible-borisov.html

 http://www.astronomy.com/news/2019/09/early-results-hint-newfound-interstellar-comet-is-very-red 

Kubersatelliet gaan Gateway-stasie om maan se baan toets

Met die VSA se planne om teen die tweede helfte van 2024 weer mense op die maan te laat wandel,  deur die regering vasgemaak, moet die proses om die Gateway-ruimtestasie om die maan te laat wentel, ook momentum kry. Pas is bekend gemaak dat ’n kubersatelliet, genaamd Capstone,  eers in dieselfde baan om die maan geplaas gaan word om die kinkels in die kabel te bepaal. Die elliptiese baan sal van 3 000 kilometer bo die maanoppervlak tot 70 000 strek. Die maanoppervlak het verskeie kolle waar die gravitasiekrag veel hoër is as andersins, skynbaar veroorsaak deur voorwerpe wat op die maan geval het. Gateway se omwentelings om die maan sal waarskynlik eerder deur die LaGange-punt beïnvloed word, deurdat die roete net buite die punt se gravitsie-neutrale punt verby loop, en die stasie se hoogte dus gereeld aangepas sal moet word.

Die idee is dat sendings na die maan by Gateway sal aandoen, en van daar met ’n landingstuig op die maan neergelaat sal word. Om regstreeks van die aarde op die maan te land sal veel meer brandstof gebruik. Gateway sal ook as halfwegstasie na Mars dien.

http://www.astronomy.com/news/2019/09/nasa-cubesat-will-test-lunar-space-station-orbit

https://www.sciencealert.com/just-look-at-this-animation-of-how-the-first-lunar-outpost-is-going-to-orbit-the-moon 

Oom Herrie se kerrie.

As ouma Tsjier-tsjier die ouetehuis op horings neem
Een van die grootste geskenke wat oom Herrie nog gekry het, was ’n deftige, byna nuwe loopring kort voor daar soveel beterskap met die kanker was, dat die loopring nou vir ’n behoeftige tante geleen is wat dit tydelik na ’n besering nodig het. Sy getroue krukke het kort tevore dieselfde pad geloop, en toe moes mev. Herrie maar weer ’n nuwe stel aanskaf, want skielik was daar weer ’n gebodder met die bene. By die hospitaal het die loopring as oom Herrie se Ferrari bekend gestaan, want so ’n voorslag loopring met brieke en resieswiele moes eenvoudig “volspoed” in die gange op die proef gestel word. Maar dit het oom Herrie laat dink aan oumatjie Tsjier-tsjier wat in dieselfde gang van die ouetehuis as sy eie ouma gewoon het. Oumatjie Tsjier-tsjier en haar raserige loopring het legendes geword.
……………………………
“Ek wag tot ek eendag oud is voor ek dinge begin rustiger vat,” het oumatjie Tsjier-tsier gereeld gesê as sy aangespreek is oor sy so wild met haar loopring in die tehuis vir bejaardes se gange tekere gaan. Nog kort voor haar afsterwe op 95, het sy verduidelik sy wag tot sy eendag oud is voor sy beplan om rustiger deur die lewe te gaan.

Die loopring het sy gekry toe sy as 83-jarige haar enkel swik, en nie meer so verbete die gange “volspoed” kon aandurf nie. Toe eendag daag een van haar kleinkinders met die loopring op, en van toe af is ouma Tsjier-tsjier weer volspoed in die gange alewig iewers heen op pad.

Daai loopring het selfs ‘n draskak gehad, en in daai drasak was haar breiwerkie of ’ naaldwerkie. ’n stel speelkaarte vir ingeval sy ‘n slagoffer raakloop wat kans sien om met kaartspel gou ’n paar rand kwyt te wees. Die volgende dag sal sy die een wat ’n geldjie kwyt is, weer met ’n pak beskuit of kleinkoekies uit die sak kom bederf.
“Jammer ouma,” het die kleinseun beduie toe hy met die loo[ring by ouma Tsjier=tsjier aangesit gekom het, “ek het nie my draaie betyds kon kry om olie te koop en daai loopring se ge-tsjier-tsjier stil te kry nie .”Maar ek sal kom olie sodra ek ‘n kansie kry.”

“Dit doen julle g’n,” het ouma Tsjier-tsjier gesê. “My oghe is nie meer wat dit was nie, en ek sal mos deurmekaar raak en die verkeerdes vat na ete.”
Ja, met etes daar in die eetsaal staan gereeld tot 12 loopringe “geparkeer” en wag vir hul jokkies om klaar te eet. Dis ’n aardigheid aan tafel as ’n inwoner se telefoon iewers in die gang tydens ete aan’t luie gaan, soos die oues al die skete vergeet en hul loopgoed gryp, en die gang stormloop on te kyk of die beller lank genoeg sal aanhou dat die gelukkige gebelde betyds by die telefoon kan uitkom. Dit gebeur egter selde.

My eie ouma sou dan die telefoon vat, en almal wat sy meen dalk kon gebel het, op die ry af bel om te hoor of dit nie dalk die beller was nie. Want vir die ou mense is geselskap ’n kleinood. Die volgorde waarin ouma gebel het, was die volgorde waarin sy mense volgens haar siening van hul belangrikheid beskou het. Heel eerste was haar seun, want die dogters het wyd gewoon en hooflynoproepe is noodwendig beperk. Hierna is ander nabye familie gebel, dan verlangse familie. Dan baie goeie vriende, dan net gewone vriende, dan aangetroude familie, dan kwaaivriende en dan stieffamilie. Sy het darem opgehou bel voor sy by die einde van haar lysie gekom het.

Oumatjie Tsjier-tsjier was egter selde te laat by die foon – ‘n mens hoor net tsjier-tsjier soos die loopring en sy jokkie die een landspoedrekord na die ander opstel. Dan kom rapporteer sy aan diegene wat intussen hul wind teruggekry het, en hul weg terug tafel toe kon vind: “Dit was my agterkleinseun wat opgelui het. Hy gaan aanstonde week grens toe om te loop terroriste skiet.
Oom Herrie onthou ook van daai dae. Een Kersfees het oom Herrie vir ouma ‘n Blye boodskap gegee, wat die lig gesien het terwyl aan die 83-Bybelvertaling gewerk is. Na ouma se afsterwe erf oom Herrie die Bybel terug – vol potloodaantekeneinge van dinge wat gebeur het, of gaan gebeur, wat vir ouma na-aan die hart gelê het. Een van oom Herrie se neefs, neef Nic, is doerrietyd knaend opgeroep Grens toe. Dit het ouma aan die hart geruk, en die inskripsies in die Bybel het gereeld verhaal hoe sy bid dat die Hemelse Hand hom moet bewaar.

En toe tref die ramp vir ouma Tsjier-tsjier. ‘n Goedbedoelde kuiergas loop olie haar loopring terwyl sy gou ’n draaitjie moes loop. Nie ’n piep as daai loopring ingespan word nie. ’n Paar keer was sy al terug in die kamer wanneer iemand kom klop en vra of ouma nie perdalks die verkeerde loopring na ete gevat het nie. En ja, dan hét ouma vir Rosie, of Amandel in plaas van ou Tsjier-tsjier gevat. Maar die ramp der rampe was dat ouma Tsjier-tsjier twee keer al ander gangbewoners omgery het as die “ou ding” uit hul kamers die gang inloop sonder om eers uit te loer of daar nie verkeer in aantog was nie. Voorheen het hulle bloot geluister of hulle nie ’n getsjier, tsjier hoor aankom nie. Die ander loopringridders het heeltemal te stadig gekruie om enigsins gevaar te loop om omgery te word.

Met die een omryslag wil die slagoffer se familie nou prosedeer. Hieroor was ouma Tsjier-tsjier smoorkwaad. “Laat die blik^%$s maar kom. Dis mos nie my skuld as iemand nie by ‘n stopstraat stilhou en eers kyk nie.”

Dit het ‘n ruk geneem voor die rolstoel se tsjier-tsjier teruggekeer het. Maar toe het niemand se hande darem weer gejeuk om die loopring te loop olie nie.

Know people who may be interested in The Conversation’s stories? Click here to forward this newsletter to them and ask them to sign up at https://theconversation.com/us/newsletter