2023 snel ten einde en dit is wanneer mens gewoonlik bestekopname doen van jou persoonlike lewe. Op plase het die produksieproses nooit ‘n afsluittyd nie, want die verantwoordelikheid om boer te wees is ‘n 24 uur per dag, 7 dae ‘n week taak.
Dit bly egter ‘n tyd waar ons die feestyd met hoop ingaan en vertrou dat ons saam met ons geliefdes kan kuier, dat besondere dae vir ons voorlê. Mag elkeen Kersdag ervaar as ‘n ware Christusfees en soos ons inderdaad elke dag behoort te doen, die dag met dankbaarheid deurbring vir die genade wat daagliks ryklik oor ons uitgestort word. Op Geloftedag gee ons as Christene met diepe dankbaarheid erkenning aan die klein groepie mense wat ‘n verbintenis gemaak het dat hulle, en hul nageslag, die eer van ‘n oorwinning by Bloedrivier volledig aan God sal gee.
Ons is met dankbaarheid, vrede en liefde gevul, maar ons mag nie ons waaksaamheid verslap nie. Wees ekstra bedag wanneer u saamkuier – misdadigers raak al hoe meer arrogant en slaan toe wanneer mens dit die minste verwag.
In hierdie dae van vreugde en vrede is dit ook so dat daar so baie mense is wat gebuk gaan onder trauma in verskillende vorme. Ons wens is dat julle gevul sal word met die liefde van Christus om juis daar waar dit saak maak, blywend vrede sal vind.
Volgende jaar lê voor met sy eie unieke uitdagings en ons verwag dat baie emosie rondom die verkiesing ontketen gaan word. Vir ons is dit belangrik om te fokus op daardie aspekte waar ons wel ‘n verskil kan maak, al is dit hoe klein, en om seker te maak dat ons kern besigheid, naamlik om te boer, so winsgewend as moontlik bedryf sal word.
Mag 2024 vir elk ‘n baie geseënde jaar wees.
Groete
Bennie
Image by wirestock on Freepik





