Europese Parlementslede van 19 lande teken verklaring teen plaasmoorde in SA
Agt en veertig Europese Parlementslede uit 19 lidlande het plaasmoorde op blanke boere in Suid-Afrika veroordeel.
Op inisiatief deur mnre. Philip Claeys (Vlaams Belang, Vlaandere), Andreas Mölzer (FPÖ, Oostenryk) en Fiorello Provera (Lega Nord, Italië) is ‘n verklaring aan die Europese Parlement voorgehou waarin sterk beswaar gemaak is teen die golf plaasmoorde in Suid-Afrika, waartydens meer as duisend boere vermoor is. In die verklaring spreek die Europese Parlement besondere kommer uit oor die nougesette wyse waarop plaasaanvalle beplan en uitgevoer word, en die Suid-Afrikaanse regering word gevra om dringend maatreëls in te stel om die veiligheid van sy landbouers te verseker.
Die verklaring is onderteken deur 48 parlementslede vanuit 19 Europese Unie-lidstate en is verteenwoordigend van 7 verskillende politieke groeperinge, waaronder sosialiste, liberales, Christen-Demokrate, onafhanklikes, nasionaliste en selfs ‘n lid van die kommuniste. Europese Parlementslid, Philip Claeys, sê in sy reaksie op sy inisiatief dat die protes teen Suid-Afrikaanse plaasmoorde in Europa heen klink bo-oor lands- en partygrense. Slegs die Groenbeweging en ‘n lid van die Vlaamse N-VA het nie die mosie onderteken nie, en volgens mnr. Claeys hulle goedkeuring verleen aan die moord op boere in Suid-Afrika.
Dié verklaring volg nouliks ‘n maand nadat TLU SA se Assistent-Hoofbestuurder: Kommunikasie, mnr. Henk van de Graaf, ‘n vergadering in die Europese Parlement in Brussel toegespreek het waarin hy die problematiek en omvang van plaasmoorde verduidelik het en gevra het dat desnoods persoonlike sanksies teen Suid-Afrikaanse regeringsmense ingestel moet word as hulle nie daadwerklik die plaasmoorde wil aanspreek nie.
“Dit is duidelik dat plaasmoorde nou internasionaal begin aandag trek en dat die Suid-Afrikaanse regering dit nie langer onder die mat kan invee nie”, sê TLU SA se Hoofbestuurder, mnr. Bennie van Zyl. “Ons is gevolglik baie dank verskuldig aan die inisieerders van hierdie aksie.”



