Landbou ervaar tans vele uitdagings. By elke geleentheid wat aangebied word, is dit die onderwerpe van bespreking. Talle eksterne faktore beïnvloed landbou in sy geheel, en daarmee saam ook die boer op die plaas. Sonder om net op ‘n paar aspekte te fokus, kan daar tog genoem word dat dinge soos klimaatsverandering, ekonomiese druk, politieke onsekerheid, swak veiligheidstoestande en stygende insetkoste maar enkele van die aspekte is wat die omgewing redelik negatief beïnvloed. Maar te midde van hierdie uitdagings is daar steeds hoop en geleenthede om nie net volhoubaar te boer nie, maar om te floreer.
Eerstens, erken die krag van landbou. Boerdery is die ruggraat van ons samelewing. Landbou voorsien voedsel en vesel, wat miljoene mense afhanklik maak van elke boer se toewyding. Sonder die boer sou ons ekonomie in duie stort. Landbou se werk is van kardinale belang en het ’n diepgaande impak op die lewensgehalte van elke inwoner in Suid-Afrika. Elke boer kan trots wees op sy of haar bydrae.
Tweedens, onthou dat in elke uitdaging daar ‘n geleentheid skuil. Innovasie en tegnologie het boerdery onherroeplik verander. Dit is nou die tyd om tegnologie soos presisieboerdery, slim besproeiing en volhoubare praktyke aan te gryp. Deur aan te pas by hierdie moderne tegnieke kan jy jou produktiwiteit verhoog en terselfdertyd jou impak op die omgewing verminder.
Onthou dat veerkragtigheid een van die grootste eienskappe van ’n boer is. Jou vermoë om aan te pas, vol te hou en uit moeilike situasies te leer, verseker dat jy nie net kan oorleef nie, maar ook kan groei.
Moenie moed verloor nie. Bou voort op jou kennis, ontgin nuwe geleenthede en vertrou dat jy en jou grond ‘n helder toekoms kan skep.
Hierdie dinge word alles gedoen met die wete dat ons die voorreg het om daagliks ons kultuuropdrag uit te oefen, en dit in diepe afhanklikheid van God Drie-enig.
Sterkte en voorspoed!



