TLU SA het Dinsdagaand tydens sy jaarlikse mediafunksie die eerste Sonneblom-toekenning oorhandig aan Carien Kruger, ’n joernalis wie se werk die kernboodskap van TLU SA – ekonomiese volhoubaarheid in landbou – op uitsonderlike wyse uitgedra het.
TLU SA besef dat verslaggewing nie altyd foutloos is nie en dat daar soms verskille van mening oor sekere benaderings bestaan. Juis daarom wou ons hierdie geleentheid gebruik om die joernaliste te vereer wat getrou bly aan hul roeping – om eerlike, gebalanseerde en akkurate berigte die lig te laat sien en sodoende ’n positiewe impak op gemeenskappe te maak.
Die simboliek van die sonneblom – helderheid, waarheid en hoop – is ’n gepaste simbool vir hierdie toekenning. Dit weerspieël nie net die waardes waarna ons streef nie, maar ook die deursettingsvermoë van joernaliste soos Carien en haar medefinaliste, wat deur hul werk ’n beduidende impak maak.
Benewens Carien Kruger, wil ons ook graag die volgende finaliste erken vir hul waardevolle bydraes:
- Nico van Burick
- Marizka Coetzer
- Mia Slabbert
- Glenneis Kriel
In ’n wêreld waar daar soms misverstande en onakkurate inligting versprei word, speel joernaliste ’n kernrol om die regte narratief na vore te bring. Hul werk is onontbeerlik, veral in die landboubedryf, waar betroubare inligting krities is vir ingeligte besluitneming en volhoubare praktyke.
Die mediafunksie was ’n geleentheid om waardering te wys en om TLU SA se verbintenis tot die ondersteuning van volhoubare landboupraktyke te herbevestig. Ons glo dat groei en voorspoed vir Suid-Afrikaanse boere moontlik is deur geloof, rentmeesterskap en ekonomiese verantwoordelikheid.
Ons bedank almal wat die funksie ondersteun het en wil weer vir Carien Kruger geluk wens met hierdie spesiale toekenning. Jou werk dien as inspirasie, en ons waardeer jou positiewe bydrae tot die bevordering van landbou en die gemeenskap.



