Terwyl die Nasionale Minimumloonkommissie ’n verhoging van die minimum loon vir 2026 voorstel, waarsku TLU SA dat verdere verpligte loonverhogings in die huidige ekonomiese klimaat werksverliese, meganisering en verdere armoede kan vererger, veral in landbou en klein ondernemings.

Die huidige minimumloon van R28,79 per uur word reeds betaal binne ’n ekonomie wat sukkel om te groei. Suid-Afrika se BBP-groei is na raming sowat 1,9%, ver onder die vlak wat nodig is om betekenisvolle werkskepping en ekonomiese herstel te ondersteun. Hierdie swak groei word verder ondermyn deur die energiekrisis, stygende insetkoste, korrupsie, beleids-onsekerheid en ’n staat wat toenemend nie daarin slaag om ’n gunstige sakeklimaat te skep nie.

“Die regering se primêre taak is om ’n omgewing te skep waarin ondernemings winsgewend kan funksioneer. Sonder wins is daar geen belegging, geen uitbreiding en geen nuwe werksgeleenthede nie,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Wanneer die staat toenemend in produksiefaktore inmeng, veral deur loonvasstelling, word presies daardie groei ondermyn wat nodig is om armoede en werkloosheid aan te spreek.”

Vir produsente en werkgewers het die afgelope jaar buitengewone kostedruk gebring. Diesel, elektrisiteit, saad, kunsmis, finansieringskoste en lone het almal skerp gestyg, terwyl marktoestande verswak het en belangrike uitvoermarkte verlore gegaan het. In landbou beteken dit dat feitlik elke komponent van produksie duurder geword het, sonder dat produsente die koste eenvoudig kan deurgee aan verbruikers.

Terselfdertyd bly werkloosheid op ’n krisisvlak van 33,9%. In só ’n konteks het elke beleidsbesluit oor lone verreikende gevolge. Wanneer arbeidskoste bo produktiwiteit en ekonomiese realiteite uitstyg, word ondernemings gedwing om arbeid te vervang met meganisasie, herstrukturering of afleggings. Die eindresultaat is minder werksgeleenthede en meer mense wat in die informele sektor of op staatstoelaes beland.

“’n Stelsel wat beoog om werkers te beskerm, maar terselfdertyd werkskepping vernietig, help uiteindelik niemand nie,” sê Van Zyl. “Dit is beter om meer mense in werk te kry teen volhoubare lone, as om minder mense teen administratief opgelegde vlakke in diens te hou terwyl miljoene uitgesluit bly.”

TLU SA voer aan dat loonbepaling groter ruimte moet laat vir markkragte soos vraag, aanbod, vaardighede, ervaring en produktiwiteit. Verder behoort daar ruimte te wees vir gedifferensieerde loonvlakke volgens sektor, streek, ondernemingsgrootte en ekonomiese werklikhede. Wat op ’n groot stedelike onderneming van toepassing is, kan nie sonder meer op ’n plaas of klein besigheid in ’n landelike gebied afgedwing word nie.

Die organisasie stel ook voor dat alternatiewe benaderings oorweeg moet word, soos gedeelde verantwoordelikheid tussen die staat en werkgewers. Dit kan byvoorbeeld geskied deurdat die staat ’n inkomste-aanvulling voorsien vir lae-inkomste werkers, terwyl werkgewers ’n basiese loon betaal. Só kan werkloosheid verminder word sonder om individuele ondernemings te verpletter, en kan maatskaplike toelaes geleidelik afgebou word namate meer mense volhoubaar in diens kom.

“Ware sosiale geregtigheid lê nie in meer regulasies nie, maar in meer werk,” beklemtoon Van Zyl. “’n Ekonomie groei wanneer entrepreneurs die ruimte kry om sake te doen, wanneer belegging aangemoedig word en wanneer werkgewers nie voortdurend deur nuwe kostedruk versmoor word nie.”

In die lig van die huidige ekonomiese werklikheid, stygende insetkoste en rekordhoë werkloosheid, meen TLU SA dat daar geen ruimte is vir ’n verdere verhoging in die minimumloon nie. Die organisasie doen ’n beroep op die regering en die Minimumloonkommissie om beleid te volg wat werkskepping, volhoubare ondernemings en langtermyn ekonomiese groei vooropstel, nie korttermyn politieke simboliek nie.