Wanneer ons bespreking voer oor “boer tot bord”, is een van die belangrikste aspekte wat dit moontlik maak, gesonde water. Die toenemende waterprobleme in Suid-Afrika se munisipaliteite word dikwels voorgehou as ’n natuurlike gevolg van droogtes, klimaatsverandering en beperkte hulpbronne. Dit is egter ’n gerieflike verskoning wat die werklikheid verbloem. Die waarheid is eenvoudiger en meer ontstellend: Suid-Afrika se waterkrisis is in wese nie ’n tekort aan water nie, maar ’n tekort aan bestuur, instandhouding en aanspreeklikheid en veral die wyse hoe daar toegelaat word dat ons waterbronne besoedel word.
Vir die landbousektor, wat afhanklik is van betroubare, gesonde en konstante watervoorsiening, is hierdie realiteit nie net ’n frustrasie nie, maar ’n direkte bedreiging vir produksie, voedselsekerheid en ekonomiese stabiliteit.
Die mees ooglopende probleem is vervalle infrastruktuur. In baie munisipaliteite is pyplyne, pompe en opgaarfasiliteite lankal verby hul lewensduur. Onderhoud word uitgestel totdat stelsels breek en selfs dan word herstelwerk dikwels stadig en ondoeltreffend gedoen. Die gevolg is dat bykans die helfte van behandelde water in sekere gebiede verlore gaan nog voordat dit die eindgebruiker bereik. Dit is nie net ’n tegniese mislukking nie, maar ’n morele een, veral in ’n land waar water as ’n skaars hulpbron beskou word.
Hierby kom die probleem van swak bestuur en ’n gebrek aan tegniese kundigheid binne baie munisipaliteite. Waterdienste vereis gespesialiseerde kennis en langtermynbeplanning, maar te dikwels word hierdie funksies ondermyn deur onbevoegdheid, politieke inmenging en ’n gebrek aan institusionele stabiliteit. Projekte word aangekondig, begrotings word bewillig, maar implementering bly gebrekkig.
Finansiële wanbestuur vererger die situasie. Munisipaliteite sukkel om inkomste in te vorder, en selfs waar fondse beskikbaar is, word dit nie noodwendig vir instandhou-ding en opgraderings aangewend nie. Die gevolg is ’n bose kringloop: swak dienslewering lei tot betalingsweerstand, wat weer die vermoë om infrastruktuur te onderhou, verder verswak.
’n Baie ernstige aspek is die besoedeling van ons waterbronne. Mynbou-aktiwiteite in of naby vleigebiede ontneem die natuur se filtreerproses die geleentheid om sy werk te doen. Swak bestuur van riool en afvalstowwe se impak is intens en so word grondwater (boorgate) in sekere omgewings reeds besoedel. Waterkwaliteit beskikbaar vir die produksie van voedsel is onder baie druk en die gesondheid van die mens en dier kan bedreig word indien daar nie indringend oplossings vir hierdie reeds bestaande krisis gevind word nie.
Swak kwaliteit van water en onbetroubare watervoorsiening hou ernstige implikasies vir almal en veral vir landbou in. Besproeiingskedules word ontwrig, wat produksierisiko verhoog. Die impak van al hierdie aspekte het op die einde ’n invloed op die verskaffing van voldoende gesonde voedsel aan die verbruikers. Met ander woorde, wat beland op die etenstafel, en wat nie?
Daar moet nie net kennis geneem word van die probleem nie, maar die fokus moet wees op wat daaraan gedoen kan word.
Eerstens moet daar ’n fundamentele skuif wees na aanspreeklikheid. Vir te lank het Suid-Afrika gebuk gegaan onder die gevolge van kaderontplooiing. Persone sit in velerlei poste sonder die vaardighede wat dit verg om daardie pos te beklee. Gemeenskappe, insluitend georganiseerde landbou, kan nie langer passief toekyk nie. Deelname aan plaaslike strukture soos wykskomitees en watergebruikersverenigings is noodsaaklik. Waar nodig, moet regsaksies en georganiseerde druk gebruik word om munisipaliteite en hul amptenare in persoon tot verantwoording te roep.
Tweedens is ’n hernude fokus op instandhouding ononderhandelbaar. Dit is altyd goedkoper om infrastruktuur in stand te hou as om dit te vervang. Munisipaliteite moet gedwing word om instandhoudingsbegrotings te prioritiseer en dit effektief te bestuur. Dit vereis nie net geld nie, maar ook dissipline en bestuursvermoë en die regte kundigheid om die werk te doen.
Derdens moet waterverliese aggressief opgelos word. Lekkasies, onwettige aansluitings en swak meting is nie bloot tegniese kwessies nie, maar simbole van ’n stelsel wat beheer verloor het. Moderne tegnologie en beter monitering kan hier ’n groot verskil maak, maar dit vereis politieke wil en administratiewe kapasiteit.
Hierdie meningstuk het op 2 April 2026 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.



