TLU SA brei sy suksesvolle Jongboer van die Jaar-kompetisie uit deur in 2026 vir die eerste keer ’n Jeugboer van die Jaar-kompetisie vir skoliere aan te bied. Die projek gee jong mense die geleentheid om reeds op skoolvlak hul ondernemingsgees, kreatiwiteit en verantwoordelikheidsin te ontwikkel deur praktiese landbou- en voedselprojekte.
“Die Jongboer van die Jaar het jaar na jaar bewys dat dit ’n kragtige platform is om jong mense se talent en innovasie te wys,” sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. “Ons sien ’n groot waarde daarin om hierdie geleenthede na skole uit te brei en kinders van ’n jong ouderdom bloot te stel aan die beginsels van volhoubare landbou en entrepreneurskap.”
Die Jeugboer van die Jaar-projek fokus daarop om kinders se probleemoplossingsvaardighede, kreatiewe denke en verantwoordelikheidsin te ontwikkel, selfs op klein skaal. Deelnemers wys dat boerdery nie net oor groot plase gaan nie, maar oor idees, beplanning en volhoubare aksie wat waarde skep vir hulle gemeenskappe.
“Dit is vir ons belangrik dat kinders vroeg leer hoe om idees in praktyk toe te pas en verantwoordelikheid te neem,” voeg van Zyl by. “Hierdie projek is ’n stap om die volgende generasie van innoveerders en leiers in die landbou te inspireer.”
Die Jeugboer van die Jaar-kompetisie begin in 2026 en beloof om ’n opwindende nuwe platform vir skole en jong mense te wees om hul idees en vaardighede aan ’n wyer gehoor te wys.
Klik hier om meer te lees oor die Jeugboer van die Jaar-kompetisie en hoe om in te skryf. Let asseblief daarop dat alle deelnemers wat minderjarig is, skriftelike toestemming van ’n ouer of wettige voog moet hê, insluitend toestemming vir die gebruik van foto’s en video’s vir media- en promosiedoeleindes.



