Ná tien jaar in Australië het Bertus Joubert besef hoe diep sy liefde vir Suid-Afrika, sy mense en die landbou werklik lê. Hy het teruggekeer met ’n besigheidsgraad, waardevolle bestuurservaring en die droom om sy eie boerdery van die grond af op te bou.
Vandag, op 33-jarige ouderdom, boer Joubert in Hartbeesfontein in Noordwes met tafeleiers, beeste, saaiery en wild. Hy is ook as een van die drie finaliste in TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys. Die wenner word op 2 September tydens TLU SA se Kongresdinee bekendgemaak.
Joubert het in 2022, ná ’n lang en deeglike soektog, sy eie plaas gekoop. Sedertdien het hy paaie aangelê, heinings gespan, boorgate en damme herstel, nuwe pypleidings geïnstalleer en twee spilpunte opgerig. Hy het ook ’n moderne pluimvee-lê-eenheid en sonkragaanleg ontwikkel.
“Dit is baie lonend om te sien hoe jy iets van die grond af kan opbou, soms ’n nuwe beeskudde, soms ’n nuwe lê-eenheid en soms nuwe lande of spilpunte,” sê Joubert.
Terug na Suid-Afrika
Joubert het van kleins af saam met sy pa op die plaas en in die sakewêreld grootgeword. Hy het gekyk, gehelp en geleer waar hy kon, en só het sy liefde vir boerdery, besigheid, diere en die natuur ontwikkel.
Sy pa is ’n eerstegenerasieboer wat steeds sy onderneming bestuur en uitbrei. Hy het Joubert nie net praktiese boerderykennis geleer nie, maar ook hoe belangrik goeie sakebestuur vir ’n boerdery se voortbestaan is.
Hoewel Joubert nie gedurende sy tien jaar in Australië die geleentheid gehad het om te boer nie, het hy sy besigheidsgraad voltooi en as besigheidsbestuurder van ’n supermark waardevolle ervaring in die bestuur van ondernemings en mense opgedoen.
Uiteindelik het die verlange na Suid-Afrika en die plaaslewe hom teruggebring.
“Ek het besef hoe baie ek my land en my mense mis. Vandag is dit vir my ’n groot voorreg om op my eie plaas te kan boer.”
’n Plaas wat vir die toekoms beplan is
Deeglike beplanning, presisie en netheid vorm die grondslag van Joubert se benadering tot boerdery.
Elke deel van die plaas; van die paaie en pakhuise tot die pompkamer en sonkragaanleg, is met toekomstige uitbreiding in gedagte ontwerp. Sy doel is om nie bloot vir vandag se behoeftes voorsiening te maak nie, maar infrastruktuur te skep wat saam met die onderneming kan groei.
Een van sy grootste ontwikkelings is die moderne pluimvee-lê-eenheid, waarin voer, misverwydering en klimaatbeheer ten volle geoutomatiseer is. Die stelsel stel hom in staat om die eenheid via sy slimfoon of die internet te monitor en aanpassings te maak, ongeag waar hy hom bevind.
Die sonkragaanleg maak die hele plaas energie-onafhanklik en help om produksiekoste te beperk. Volgens Joubert is dit een van min grootskaalse pluimvee-lê-eenhede in Suid-Afrika wat onafhanklik van Eskom funksioneer.
Tegnologie wat waarde toevoeg
Joubert gebruik moderne tegnologie in sy pluimvee-eenheid, sonkrag-, besproeiing- en sekuriteitstelsels, asook in die bewerking van sy lande.
Sy spilpunte en pompe kan op afstand beheer word, terwyl boorgatpompe outomaties volgens die gemete damvlakke begin en stop. Dit stel Joubert en sy bestuurders in staat om die besproeiingsnetwerk vinnig en doeltreffend te bestuur.
Sedert 2021 gebruik hy hommeltuie om lande meer akkuraat vir onkruid en siektes te bespuit. Dit het volgens hom ’n groot besparing op chemiese koste meegebring. Die hommeltuie word ook tydens hoërisikotye gebruik om die pluimvee-lê-eenheid vanuit die lug te ontsmet as deel van die boerdery se biosekuriteitsmaatreëls.
Biosekuriteit is volgens Joubert een van die belangrikste uitdagings waarmee boere toenemend rekening moet hou. Voëlgriep hou ’n ernstige bedreiging vir die pluimveebedryf in, terwyl die verspreiding van bek-en-klouseer groot gevolge vir veeboere het.
“In die toekoms sal ons as landbousektor moet saamwerk om uitbrekings te beperk en dit baie doeltreffender te beheer wanneer dit wel voorkom.”
Mense vorm die hart van die boerdery
Ten spyte van die hoë vlak van outomatisering beskou Joubert sy werknemers as die hart van sy boerdery.
“Al maak ek van die beste tegnologie en toerusting gebruik, sou dit nie moontlik wees om op so ’n hoë standaard te boer sonder elkeen van ons werknemers nie.”
Personeelbestuur is volgens hom een van die grootste uitdagings in enige onderneming. Dit vereis dat die regte mense aangestel en in rolle geplaas word waar hul vaardighede, persoonlikhede en belangstellings die beste benut kan word.
Joubert wil ’n werksomgewing skep waarin mense voel dat hulle behoort en trots kan wees op hul werk, die plaas en die groter onderneming.
“Ons personeel daag elke dag op met trots in hul werk en ’n passie vir wat hulle doen. Hulle maak daagliks ’n groot verskil en lewer ’n waardevolle bydrae tot die besigheid.”
Hierdie fokus op mense is gevorm deur sy ervaring in Australië en die voorbeeld van sy ouers, wat volgens hom oor drie dekades sy grootste mentors en rolmodelle was.
Erkenning vir JSA Farms se hele span
Joubert het lank oorweeg om vir ’n Jongboer van die Jaar-kompetisie in te skryf, maar het nooit gevoel dat hy heeltemal gereed was nie. Sy ma het hom egter oor ’n lang tydperk aangemoedig om dié stap te neem.
Hy het uiteindelik besef dat ander mense na sy boerdery opkyk en moontlik iets uit sy benadering kan leer.
“Ek het ’n opregte passie vir die landbousektor in Suid-Afrika en wil graag ’n verskil maak om te help verseker dat daar ’n toekoms vir jong boere in Suid-Afrika is.”
Om as een van die drie finaliste aangewys te word, bevestig volgens hom dat passie, deeglike beplanning en ’n strewe na uitnemendheid raakgesien word.
Sou hy op 2 September as TLU SA se Jongboer van die Jaar aangewys word, sal dit erkenning wees vir sy gesin en die hele span by JSA Farms wat gehelp het om die onderneming op te bou.
Die titel sal volgens hom ook ’n verantwoordelikheid meebring om ’n goeie voorbeeld vir ander jong en opkomende boere te stel.
Oor die volgende vyf tot tien jaar wil Joubert die boerdery aansienlik uitbrei, beter bestuurstelsels instel en ’n uitsonderlike werkskultuur ontwikkel. Sy doel is om produkte van die hoogste gehalte te lewer én te verseker dat elke kliënt se ervaring van dieselfde hoë standaard getuig.
“Ek boer omdat dit in my bloed is en omdat ek ’n passie het vir die natuur, diere en mense wat daarmee gepaardgaan. Boerdery is een van die min beroepe waar ’n mens die geleentheid het om daagliks met al drie hierdie aspekte te werk, dit te bestuur en deel daarvan te wees.”









