James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Is die nuwe besems gereed?

Die plaaslike regering verkiesing op 1 November 2021 was die begin van ’n plaaslike regeringraad vir die volgende vyf jaar in die munisipaliteit wat in meeste gevalle nuwe raadslede aangewys het. Die regering met sy wispelturige besluitneming of stemming wel moet plaasvind, asook met die regerende party wat besef sy kiesers is keelvol vir die swak prestasie, het daartoe gelei dat die verkiesing op die laaste oomblikke moes plaasvind.

Wat egter slaggate veroorsaak in dié opsig, is dat die munisipale raad reeds vroeg in die jaar die ontwikkelingsplan en begroting moet begin saamstel sodat dit gereed kan wees vir die konsultasie proses wat in die eerste kwartaal van die jaar aanvang neem. Met ’n nuwe raad wat van 1 November af dien en die nuwe raadslede nie oor die nodige bevoegdheid en kennis beskik om dadelik inspraak te maak met ’n ontwikkelingsplan en begroting nie, is die gevolg dat die ontwikkelingsplan en begroting van die uittredende raad grootliks aanvaar word.

Die grondeienaar moet besef dat ’n munisipale raad sy planne en finansies uiteensit op ’n vyfjaartermyn waarvoor die raad sal dien. In ons huidige omstandighede moet hierdie planne en finansies nou ’n sesjaartermyn dien en gee dit net probleme vir die huidige raad. Die nuwe raadslede kan nie soos ’n nuwe besem probeer skoon vee en wys dat hy sy beloftes nakom en verandering meebring nie. Vanuit die kiesers se oë word daar nie na die uitdagings gekyk nie, hy het sy kruisie getrek op beloftes en dit moet
nou nagekom word.

Indien die nuwe raad nie inderdaad ’n haas uit die hoed pluk en werklik veranderinge meebring nie, voorspel ons dat die jaar 2022 weereens deurtrek sal wees met oproer en geweld. Dit is die taak van die munisipale raad om sy kiesers tevrede te stel, om verantwoordelik teenoor die gemeenskappe te wees en die prioriteit behoeftes van die gemeenskap aan te spreek ten opsigte van die voorsiening van dienste.  Die gedragskode van die raad word duidelik uiteengesit in die munisipale sisteme wetgewing en daar is nie geleentheid om weg te skram van hierdie verantwoordelikheid nie.

Daar word ‘n beroep gedoen op elke grondeienaar om insae te kry in die ontwikkelingsplan en begroting van jou munisipaliteit. Daar moet veral gelet word op ontwikkeling wat in voorafgaande jare beplan was, maar wat nie gerealiseer het nie. Waar is die fondse en wat het die munisipaliteit daarmee gedoen? Daar kan sekerlik nie weer vir dieselfde ontwikkeling begroot word uit die belastingbetaler se sak nie. Waar ontwikkeling wel met belastinggeld gedoen is, hoe lyk die situasie? Is hierdie strukture nog werkend en in goeie toestand? Indien nie moet dit uitgewys word dat die belastinggeld verkwis is op ontwikkeling wat verwaarloos is en dit dus die befondsing is van ’n bodemlose put waaruit daar geen prestasie ontvang word nie.

Dit is die verantwoordelikheid van elke inwoner van die land wat eiendomsbelasting betaal om betrokke te raak oor die besteding van sy hardverdiende belastinggeld. Daardie verantwoordelikheid word deur geen ander party opgeneem nie. Staan op en raak betrokke – dit is jou geld!

Kategorie:

Deel dit:

Is die nuwe besems gereed?