Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Ek het onlangs afgekom op die insiggewende artikel geskryf deur Mnr Bennie van Zyl, getiteld: “Boer jy vir wins of boer jy vir opbrengs?” Sien die artikel soos gepubliseer in Landbouspore, op 24 Februarie 2021 https://www.tlu.co.za/boer-jy-vir-wins-of-boer-jy-vir-opbrengs

 

Ek stem heelhartig saam dat ‘n suksesvolle boer honger moet wees “….vir die beste en jongste navorsing en inligting…” wat hom kan help om meer wetenskaplik te boer en die beste opbrengste te behaal.

 

Hierdie doel moet egter, soos wat Mnr Van Zyl tereg genoem het, gebalanseer word met die koste van die boer se insette om sorg te dra dat die boer winsgewend bly, wat natuurlik altyd die einddoel behoort te wees.

 

Ek is verder van mening dat suksesvolle boere ‘n gesonde afkeer behoort te hê vir skuld en ook nie geykte ekonomiese beginsels uit die oog verloor nie.

 

Een so ‘n beginsel, wat die ekonomiese-en bestuurswetenskappe ons van leer, is die sogenaamde wet op dalende opbrengste* wat toepassing vind in die konteks van marginale produksie.

 

Met ‘n behoorlike begrip van hoe die wet funksioneer (en hoedat verhoogde insetkostes ‘n negatiewe invloed het op netto obrengstes) kan ‘n boer wat skuldvry wil boer, sy winsdoelwitte bereik en die geheimenis wat in die wet opgesluit lê, tot sy voordeel aanwend.

 

Ek deel graag meer detail hieroor by wyse van ‘n praktiese voorbeeld: Gestel ‘n boer besluit om te plant en begin somme maak. Hy besef dat hy nog geld skuld aan die bank vir verlede jaar se oes (wat minder goed was) en wil graag hierdie skuld uitwis met ‘n rekordoes in hierdie seisoen.

 

Sy buurman vertel hom dat hy verlede jaar ‘n rekord-oes afgehaal het deur ekstra bemesting by sy lande te voeg. Die betrokke boer, kom ons noem hom “Bennie”, wat boer op die plaas “Benniesfontein”, dink (verkeerdelik) dat indien hy dieselfde rekord-oeste as sy buurman wil behaal, hy waarskynlik sy produksieskuld by Bank XYZ moet verhoog om ekstra kunsmis aan te koop.

 

Ek verwys graag na die meegaande figure 1 en 2 om die beginsels te verduidelik:

 

 

Fig 1

 

 

 

 

Fig 2

 

 

Kortliks kom die wet op dalende opbrengste op die volgende neer:

  • Wanneer produktiwiteit (en gevolglik winsgewendheid) styg, moet produksiekostes noodwendig daal.
  • Die byvoeging van elke addisionele eenheid kunsmis, nadat die hoogste produksiepunt bereik is, het ‘n negatiewe uitwerking op die gemiddelde produksie wat begin afplat (en uiteindelik daal).
  • In figuur 1 (Oes Benniesfontein 2016/2017) sien ons hoedat die optimum produksiepunt van 9.1t/ha bereik word lank voor die maksimum oes (9.4 t/ha).
  • Sou Bennie egter mik vir ‘n maksimum oes, toon figuur 2 aan hoedat sy winsmarge, nadat die optimum produksiepunt bereik is, begin daal het en hy R627/ha se verlies
  • As Bennie 1000 ha mielies geplant het, is hy R 627,000 slegter daaraan toe. Oor ‘n periode van 10 jaar kom dit neer op ‘n oorspandering van R 6,27m.

 

Die punt is eenvoudig dit: addisionele produksiefaktore (soos kunsmis in ons voorbeeld) verhoog wel opbrengste maar na die optimale punt, word die kernbelangrike winsmarge stelselmatig uitgewis.

 

Sou Bennie dus probeer om sy buurman se rekord-oeste te ewenaar, kan hy dit moontlik regkry. Hy sal egter addisionele skuld moet aangaan om kunsmis te koop, en in die proses sy skuldlas vergroot en winsgewendheid inboet. Sy “rekord-oes” mag dus ekonomies (en finansieël) vir hom meer nadelig wees as die geval waar hy eerder gemik het vir ‘n optimale opbrengste met laer insetkostes.

 

Gevolgtrekking

 

Is hier werklik ‘n geheimenis ter sprake of dalk eerder net die toepassing van gesonde verstand?

Ek aanvaar geredelik dat boere geen beheer het oor eksterne faktore soos die klimaat nie.

Boere het egter wel beheer oor “interne” faktore soos om hulle skuldlas te beperk.

 

Deur die toepassing van kritiese denke tydens hul besluitnemingsproses (sien my vorige drie artikels vir meer hieroor) kan boere minstens beter beheer uitoefen oor sekere faktore soos hulle insette, wat nie totaal onbeheerbaar is (soos die klimaat) nie.

 

Daarmee saam moet hulle natuurlik ook die allerbelangrike natuurwetenskappe inagneem en kundige advies inwin rondom hul grondkwaliteit, en die bestuur van hulle grondgehalte (pH).

 

Deur Leander Opperman, Direkteur UNLOK Consulting (Edms) Bpk

www.unlokconsulting.com