Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Deur Leander Opperman, Direkteur: UNLOK Consulting (Edms) Bpk https://www.unlokconsulting.com/

 

In my vorige artikel het ek gehandel met terugskouende denke – om “agteruit te dink” oor ‘n probleem en te kom by ‘n punt waar ek akkuraat die oorsaak van my probleem geïdentifiseer het.

In hierdie artikel hanteer ek die tweede stap in die toepassing van kritiese denke in die besluitnemingsproses.

Deur vooruitskouend te dink, is my oogmerk om alle moontlike gevolge van ‘n besluit te probeer identifiseer en vra ek myself die volgende af:

 

·         Watter voorsiene gevolge gaan voortspruit uit my besluit?
·         Watter van hierdie gevolge kan ek nie mee saamleef nie en watter gevolge gaan waarskynlik my besigheid benadeel?
·         Watter onvoorsiene gevolge is daar wat ek dalk miskyk?
·         Watter van hierdie gevolge kan ek nie mee saamleef nie en watter gaan waarskynlik my besigheid benadeel?
·         Kan ek, deur innoverend te werk gaan, of hulp en/of advies van iemand anders in te roep, beide tipes gevolge vermy of minstens die impak daarvan verminder?

 

Wenk: spandeer genoeg tyd om hieroor na te dink.

 

‘n Praktiese voorbeeld om die kritiese denkproses te illustreer

Gestel ek het ‘n probleem by my plaaswerkers opgemerk. Die aard van die probleem ter sprake is nie belangrik nie, maar kom ons veronderstel dat dit gaan oor ontevredenheid oor lang werksure tydens oestyd.

Stap 1: Ek dink eerstens terugskouend:

 

·         Is die probleem dalk dat my werkers voel hulle word te min betaal?
·         Kon die moontlike oorsaak gewees het dat my werkers met die buurman s’n gesels het en daar gehoor het hoeveel hy sy werkers betaal?
·         Kyk ek dalk ‘n ander oorsaak mis, byvoorbeeld dat my werkers weens COVID nie voor die oestyd, soos altyd, vir ‘n langnaweek huistoe kon gaan om by hulle gesinne te kuier nie?
·         Is die probleem dalk dieperliggend?
·         Is die dieperliggende probleem nie dalk gekoppel aan die feit dat hulle nie ingelig voel oor hoe ek hulle werksure moes aanpas sedert ek goeie reëns op my plaas gehad het en ek ‘n rekord-oes verwag nie? Kon ek dalk die ontevredenheid verhoed het deur beter met hulle te kommunikeer?

 

By nadere ondersoek blyk dit dalk dat die gevolg, wat ek op die oppervlak geïnterpreteer het as ontevredenheid gedryf deur werkers se strewe na hoër lone, eintlik veroorsaak is deur swak kommunikasie van my kant.

Stap 2: Nou dink ek vooruitskouend nadat ek besluit het om ‘n vergadering te hou om met my werkers te gesels:

 

·         Watter gevolge voorsien ek? Sal hulle tevrede wees met my verduideliking oor die verwagte rekordoes? Sal dit hulle aanspoor om dit te aanvaar of sal hulle my dalk nou onder druk plaas vir ‘n verhoging na die oes?
·         Kan ek saamleef met ‘n loonverhoging of gaan dit my besigheid benadeel omdat ek by die Landbank so diep in die skuld is dat ek elke Rand beskikbaar moet hou om skuld mee terug te betaal?
·         Watter onvoorsiene gevolge kyk ek dalk mis, soos ‘n werkersstaking weens beweerde swak betaling, wat dalk my vermoë om die oes betyds af te haal mag benadeel?
·         Kan ek met so ‘n staking saamleef?  Is daar genoeg tydelike werkers in my kontrei beskikbaar om stakende werkers te vervang?
·         Kan ek innoverend dink om ‘n oplossing te vind wat beide hierdie gevolge vermy of minstens die negatiewe impak daarvan verminder? ‘n Voorbeeld is om aan werkers ‘n betaalde langnaweek na die oes te beloof indien hulle betyds die oes afhaal.

 

Ek vertrou dat hierdie voorbeeld minstens vir lesers kan dien as ‘n illustrasie van hoe ek krities my probleem deurdink om gevolge en oorsake meer akkuraat te identifiseer.

In my volgende artikel bespreek ek wenke en hulpmiddels om kritiese denke in te oefen.