Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Deur Leander Opperman, Direkteur: UNLOK Consulting (Edms) Bpk https://www.unlokconsulting.com/

 

Aan die einde van my vorige artikel het ek lesers ‘n paar wenke en hulpmiddels tot kritiese denke beloof – hier volg hulle.

Wenke

  • Vra jouself eerstens die vraag af: waaruit bestaan my probleem? Is dit nie dalk moontlik om die groot probleem in kleiner dele te verdeel nie? Ek probeer dus om by die punt te kom waar ek elkeen van ‘n aantal kleiner “probleempies” relatief maklik kan oplos. Hierdeur voeg ek verskillende dimensies tot die groter probleem by, wat my gaan help om dit meer doeltreffend op te los.

 

  • Tweedens, skryf ‘n probleemstelling vir jou groot probleem neer – dit help ‘n mens om te fokus en dui dikwels die beste roete aan om in ‘n besluitnemingsproses te volg.

 

  • Derdens moet ek verstaan waarom ‘n oplossing nodig is vir die groter probleem. Ek probeer dus agter die kap van die byl kom deur myself af te vra: wat is eintlik die werklike probleem hier ter sprake?

 

Hulpmiddels

Daar is talle hulpmiddels in die studiegebied van probleemoplossing beskikbaar en ek noem ‘n paar hieronder:

  • Die sogenaamde “vyf waaroms” – vra jouself vyf keer agtereenvolgens die vraag af “waarom” en skryf elke keer jou antwoorde neer. Dit help om te verhoed dat ek by die eerste ooglopende oorsaak vashaak en nie dieper delf nie. Anders gestel, help dit ‘n mens om insig in jou eie probleem te ontwikkel. Byvoorbeeld, waarom is die werkers ontevrede? Is dit oor lang werksure of dalk iets anders? Indien dit iets anders is, het dit moontlik te doen met vergoeding? Waarom voel hulle dat hulle op my plaas te min betaal word? Het hulle dalk hul lone met ander werkers op buurplase bespreek? Waarom sou dit wees? Het dit dalk te make met iets heel anders, soos die feit dat hulle lanklaas op verlof was? Waarom is dit? Kan ek dalk daardie ongelukkigheid op ‘n ander manier aanspreek deur met hulle te praat en met hulle oor verlof na die oes te onderhandel?

 

  • Die sogenaamde “sewe wat-daarvans” – vra sewe keer agtereenvolgens “wat daarvan” en skryf ook hier elke keer jou antwoorde neer – dit help my om die gevolge van my aksie ten volle te ontbloot. Byvoorbeeld, wat is die gevolge van my besluit om ‘n vergadering met my werkers te hou? Wat daarvan? En wat sal die gevolge wees op my begroting vir lone en salarisse, sou hulle dreig om te staak indien ek nie swig voor hulle eise nie? En wat daarvan? En wat sal die gevolge daarvan wees as ek tydelike werkers moet gaan soek? En wat daarvan? En wat sal die gevolge wees as ek eerder vir my werkers die langnaweek na die oes belowe? En wat daarvan?

 

  • Die “Pareto” (oftewel 80/20) -beginsel wat basies daarop neerkom dat ek al my aandag fokus op die dryfveer wat ‘n disproporsionele invloed gaan hê op die maatstaf wat ek probeer skuif. Met ander woorde, watter een ding kan ek doen wat 80% van my probleem sal aanspreek?

Ten slotte

Deur krities in ‘n mens se denkproses te werk te gaan, kan ware oorsake van probleme aangespreek word in teenstelling met simptome, en word die gevolge van my besluite duideliker na vore gebring, tot die uiteindelike voordeel van my boerdery.

 

Sluit aan
POPI

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons