Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Vinnige feite:

  • 70% van die aarde se oppervlakte word bedek deur water.
  • 97% van alle water op aarde is sout.
  • Minder as 3% van alle water is vars water.

Uit die bogenoemde 3% vars water is slegs 0.3% daarvan oppervlakwater. Hierdie 0.3% oppervlak water is wat grootliks gebruik word vir menslike/huishoudelike gebruik en ook voedselproduksie. Die res van die 3% vars water word uitgemaak deur 69% gevriesde water, 0.7% is water in die atmosfeer en 30% daarvan is ondergronds.

Van die vars water wat ons gebruik word 70% aangewend vir landbou. Die ander 30% word gebruik vir industriële doeleindes, huishoudelike en menslike gebruik. Om hierdie rede is dit van kardinale belang dat die landbousektor aanhoudend soek vir nuwe innoverende maniere om meer effektief water te gebruik in die produksie van plante en diere.

  • Om een kilogram beesvleis te produseer, benodig ons 15 000 liter, of 15 mᵌ water
  • Om een kilogram rys te produseer, benodig ons 3 500 liter, of 3.5 mᵌ water.

Suid-Afrika se gemiddelde reënval beloop slegs 490mm per jaar, terwyl die wêreldwye gemiddeld 814mm is. Dít beteken Suid-Afrika is ‘n waterskaarsland, wat verskeie implikasies vir die gebruik en bestuur van waterhulpbronne inhou.

Hoe kan landbou help om water te bespaar?

’n Boer besef meer as die gemiddelde persoon hoe kardinaal belangrik water is vir die voortbestaan van mens, dier en gewasse. ’n Boer wat deur droogte geteister is beleef eerstehands die drastiese gevolgtrekkings van waterskaarste. Boere betaal ook baie Rande vir die installasie van waterpompe en dan nog maandeliks die elektrisiteit rekening om daardie pomp aan die gang te hou. Daarom is boere baie oplettend om nie water te mors nie, hetsy by sy besproeiing, die herstel van waterpype, vermorsing by vee krippe ens.

Innoverende landbou het gesorg vir verskeie doeltreffende maniere waarop water bespaar kan word. ’n Boer kan nou die waterinhoud in die grond effektief monitor en sodoende effektiewe besproeiing toepas. Daar is ook verskeie nuwe besproeiing sisteme wat minder water mors, soos oppervlak en ondergrondse drupbesproeiing. Buiten hierdie nuwe sisteme word daar steeds enorme hoeveelhede water gemors tydens besproeiing. Hierdie vermorsing kan verminder word deur die meting van beskikbare water in die wortelsones van verskillende gewasse.

Monitering van waterinhoud in die grond:

Die monitering van grondvog kan ’n kardinale rol speel in die opbrengs van ’n boer se oes. Sodoende kan ’n boer bepaal of die plant genoegsame vog het om optimaal te groei en dan sy besproeiing daarvolgens instel. Dit kan baie help om nie water te mors tydens besproeiing nie. Die mees bekendste metodes om grondvog te monitor is die volgende:

  • Die ‘Neutron Probe Meter’
  • Gipsblok
  • Tensiometer / irrometer
  • Gevoel-en voorkoms metode
  • ‘Time Domain Reflectometry (TDR) Probe’

 

Spaar water deur drupbesproeiing:

Mikro-besproeiing, ook genoem drupbesproeiing of lae-volume besproeiing, lewer water direk na die wortelsone van die plant. Daar is baie verskillende drupstelsels, maar ‘n mikro-besproeiingstelsel bied gebruikers die meeste waarde, insluitend beter beheer en waterbesparing.

 

Damme en watertenks:

Elke druppel water tel, daarom moet dit vasgevang en gespaar word. ’n Druppel per sekonde kan daagliks tot 20 liter water versamel. Om vir jou diere minder water te gee is glad nie ’n manier om water te spaar nie. Diere kort genoegsame water om te produseer en te reproduseer.

Verskeie faktore bepaal hoeveel water diere gebruik. Die klimaat, humiditeit, gehalte weiding, skaduwee vir die diere, wind, kleurvariasie van diere, laktasie stadium van diere, aktiwiteite soos die grootte van die kamp en die afstand wat die diere moet aflê tussen die weiding en die water en soutlekke, is alles faktore wat ’n invloed het op die hoeveelheid water wat diere gebruik.

Bou dus genoegsame damme of rig tenks op om jou diere van genoeg water te voorsien. ’n Watertenk is wel duur, maar die verdamping van water is minder.

Maak die beplanning van elke druppel water se gebruik deel van jou boerdery bestuursmodel.  Daarvoor is baie goeie stelsels en tegnologie beskikbaar wat aangewend en benut kan word.