Het jy al ooit gedink wat dit verg om daardie sny brood op jou bord te kry? Landbou is veel meer as net ’n boer wat gewasse plant of vee aanhou. Dit is ’n komplekse waardeketting wat elkeen van ons daagliks raak. Die boer en die verbruiker vorm die kern daarvan. Sonder die verbruiker (die mark) sal die boer nie ’n afsetpunt vir die voedsel hê nie, en sonder die boer sal die verbruiker nie daardie sny brood op die tafel hê nie.
Die landbou-waardeketting
Die landbou-waardeketting behels belangrike skakels wat noodsaaklik is vir voedselvoorsiening. Boerdery begin deurdat die boer die ander produksiefaktore, insluitende arbeid, kapitaal en natuurlike hulpbronne soos grond en water, saam moet bestuur tot by winsgewendheid. Boere moet beplan en strategies werk om hierdie hulpbronne doeltreffend aan te wend en ’n volhoubare oes of veeboerdery te verseker.
Produksie is net die begin. Nadat gewasse geoes of vee geslag is, moet rou produkte verwerk, verpak en versprei word. Betroubare infrastruktuur, energie en doeltreffende logistiek is nodig, veral vir produkte wat ’n koue ketting vereis, soos suiwel, vleis en groente. Eskom se uitdagings met elektrisiteitsvoorsiening veroorsaak egter groot probleme vir hierdie proses en verhoog produksiekoste aansienlik.
Van die plaas tot die verbruiker
Sodra voedsel verpak is, moet dit versprei word, wat ’n goed georganiseerde vervoerstelsel vereis. Dit is afhanklik van infrastruktuur soos paaie, brûe en beskikbaarheid van brandstof. In SuidAfrika is swak paaie in landelike gebiede ’n voortdurende probleem, wat boere verhinder om hul produkte vinnig en Verstaan die landbouwaardeketting kostedoeltreffend na markte te vervoer. Skommelinge in brandstofpryse en regulatoriese vereistes verhoog die logistieke koste aansienlik.
Die waardeketting eindig nie sodra produkte in winkels aankom nie. Supermarkte moet voedsel behoorlik stoor, bemark en teen ’n billike wins verkoop. Verbruikers koop uiteindelik die produkte, dikwels sonder dat hulle die kompleksiteit van die proses agter elke item verstaan.
Die werklike kosprys
Wanneer voedselpryse styg, word boere dikwels daarvoor verantwoordelik gehou, hoewel hulle in baie gevalle die kleinste deel van die finale prys ontvang. Die grootste koste lê in vervoer, verwerkingsuitgawes, verpakkingsmateriaal en kleinhandelmarges. Boere ervaar ook voortdurende uitdagings soos klimaatsverandering, droogtes, siektes en wisselvallige marktoestande, wat produksie-uitgawes onvoorspelbaar maak.
Verbruikers se rol
Verbruikers speel ’n sleutelrol in die handhawing van ’n gesonde landbouekonomie. Deur plaaslike produkte te ondersteun, help hulle om plaaslike werksgeleenthede te behou en die ekonomie te stimuleer. In ’n era waar goedkoop ingevoerde produkte soms voorkeur geniet, is dit belangrik om te onthou dat plaaslike produkte ’n sleutelrol in volhoubaarheid en voedselveiligheid speel.
Wanneer jy dus inkopies doen, vra jou af: Ondersteun ek ’n plaaslike boer? Dink ek aan die impak van my besluite op die breër waardeketting? Agter elke produk is daar ’n netwerk van mense en prosesse wat daarop gemik is om voedsel op ons tafels te hou.
Boere as ’n land se strategiese bate
Die belangrikheid van boere kan nie oorbeklemtoon word nie. ’n Land se kommersiële boere is een van sy grootste bates. Sonder stabiele voedselvoorsiening sal ’n land ekonomiese ineenstorting en sosiale onrus ervaar, wat ekonomiese aktiwiteite belemmer en alle sektore van die samelewing beïnvloed.
Daarom is die bekende kennisgewingborde wat oor die land deur TLU SA opgerig is met die woorde “Het jy vandag geëet? Bedank die boer en sy werkers” so relevant. Boere werk hard en loop beduidende risiko’s om voedsel te produseer, dikwels te midde van uitdagende omstandighede. Dit is slegs deur die genade en seën van ons Hemelse Vader dat hul arbeid suksesvol is, maar dit verg ook toewyding en daadkrag om die hele waardeketting aktief te hou.
Die landboubedryf word ondermyn deur verskeie eksterne faktore. Grondeise en onsekerheid oor eiendomsreg skep onsekerheid onder boere. Swak infrastruktuur, soos onbegaanbare paaie, verhoog logistieke koste en verliese. Veiligheidskwessies soos plaasaanvalle en diefstal van produkte vererger die uitdagende omstandighede waaronder boere werk.
Ten spyte van hierdie uitdagings, bly Suid-Afrikaanse boere volhardend. Hul deursettingsvermoë en innovasie verseker ’n bestendige voedseltoevoer vir die land.
Hoe ons ’n verskil kan maak
Elke individu het die vermoë om ’n positiewe bydrae te lewer. Of dit nou is deur plaaslike produkte te koop, boere se belange te ondersteun, of bewustheid oor hul uitdagings te verhoog, ons almal speel ’n rol in die volhoubaarheid van die landboubedryf. Deur boere te laat “leef,” help ons Suid-Afrika ook om te “leef ”.



