Die seisoen het gedraai en ons is op pad somer toe, maar ons moet ook vir mekaar sê ons is op pad na ‘n verkiesing toe. En beleef ons dit nie intens nie. ‘n ANC-regering wat nou spartel en enigiets doen om sy posisionering ten opsigte van die kiesers in Suid-Afrika so te herstruktureer sodat dat hulle weer moet glo dat die ANC vir hulle daar is en vir hulle iets gaan beteken.
Die realiteit – en ons het dit al ‘n jaar terug gesê – is die ANC het niks oor om te belowe, behalwe rondom die eiendomsregbeginsels.
Die kwessie van onteiening sonder vergoeding is steeds op die tafel. Dit is nou vir oorweging by die Raad van Provinsies en as ses van die nege daar ja sê, dan moet die president van die land teken… en dan is dit wet. Onteiening sonder vergoeding is binne die Onteieningswet verpak.
Buiten dit, beleef ons dan ook die aantasting van watergebruiksregte ten opsigte van lisensies waar daar nou ‘n aandeelhouding toegedeel moet word volgens ‘n voorstel van die ANC.
So, ons beleef vandag ‘n klomp aspekte – ook die Gelyke Indiensnemingswet – waar elkeen van hulle eintlik op ‘n manier ‘n onteieningsbeginsel is wat kruipende onteiening teweeg bring wat nie net die boer nie, maar ook die besigheidsman, in ‘n onhoudbare situasie stel.
Suid-Afrika se uitkomste bly negatief as mens kyk na die ANC en sy beleidsomgewing. Maar as ons na die privaatsektor gaan kyk, kom ons agter dat daar al hoe meer ‘n “ons doen self”-konsep tafel toe kom. Dat daar ‘n baie sterker benadering gevolg word om te sê wat kan gedoen word om hierdie ontsettende groot hekkie in die pad van sukses – die regeringsbeleid – oorbrug word.
Dit is belangrik dat mens moet seker maak dat ons, onsself reg posisioneer. Ons staan vandag voor ‘n waterskeiding soos met die Landboumeesterplan. TLU SA het ‘n jaar terug gesê ons kan nie die plan wat transformasie as basis stel, onderteken nie. Ons het volgehou dat dit in ‘n ekonomiese omgewing gedefinieer moet word. Dit het nie gebeur nie. TLU SA en ander rolspelers het nou die geleentheid om wel insette te lewer oor hoe ons die Landboumeesterplan kan verbeter.
Hoe daar met die ANC se beleidsrigting enigsins ‘n verbetering kan kom, is wel ‘n ope vraag.
Dit is die pad wat ons nou moet stap. Suid-Afrika se landbouers staan voor die keuse: Gaan ons die ANC se vernietigende ideologiese pad van transformasie ondersteun of gaan ons die regte beginsels – wat volhoubare landbou en ‘n stabiele land teweeg sal bring – voorop stel?
TLU SA weet waar ons staan. Dit was deur die jare ons beleid en ons staan vas daarby.
Groete,
Bennie