TLU SA belei in ons grondwet en manifes ons absolute afhanklikheid en geloof in God-drie-enig. Dit is ‘n baie belangrike fondament want ons weet as Christene waar ons krag, insig en wysheid vandaan kry. Ons weet ook deur Wie word ons geseën met talente. Die genade is ook groot in ons boerderye in terme van klimatologiese, veiligheids-, wetgewende en staatkundige uitdagings wat onbillik en onregverdig op ons geprojekteer word.
As ons dan sê dat ons ons geloof so in God-drie-enig belei, moet ons ook in ‘n besonderse gebedsverhouding wees. Ons moet ons geloof openbaar deur in diepe afhanklikheid te bid en te vra dat die Here ons sal seën. Maar ons moet dit ook leef.
Ons moet vergewensgesind, maar beginselgegrond wees; suiwer in ons argumente en toekomsgerig aldus ons kultuuropdrag om te bewaak, te bewerk en te skep.
Daarom moet ons by ‘n punt kom waar ons vir mekaar sê: “Ons is vandag hier. Dit is die tyd waarin ons nou leef en ons verantwoordelikheid is vandag”. Om nou te kla oor wat gebeur het in 1971, 1983, 1992, en wie toe wat gedoen het, gaan niks verander nie. Wat ons vir mekaar sê – met ons kapasiteit, ons ingesteldheid, ons talente – is wat gaan ons doen om die dag van more beter te maak?
Ons moet daarop fokus om vorentoe te kyk en dit om die regte redes te doen. Sonder om terug te hou of bang te wees. Want ons weet God is in beheer.
Groete,
Bennie
Foto: Jacob Bentzinger | Unsplash