James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Die ANC se werklikheid

Meningstuk deur Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder

Die manier waarop sekere rolspelers redeneer, laat vrae ontstaan oor die bril waardeur mense na werklikhede binne ’n gegewe konteks kyk.

Eerstens wonder mens wat nóg gesê moet word sodat mense kan verstaan waarmee die ANC en sy bondgenote, veral Cosatu en die SAKP (Kommunistiese Party), voortdurend besig is om die Suid-Afrikaanse samelewingsorde te verander. Miskien moet ons leer om hulle op hul woord te glo oor wat hulle sê hulle gaan doen, en dan elke aksie, standpunt en optrede ontleed om te sien in watter mate daar ondersteunend meegedoen word aan dit wat die drieparty-alliansie probeer bereik. Deur hul standpunte, uitsprake en veral alles wat onder die mooi begrip “transformasie” verpak word, te ondersteun, dra mens direk by tot die implementering van hul einddoel – gesentraliseerde sosialisme en kommunisme – wat hulle openlik verklaar. Dit sal dalk wys wees vir almal wat enige faset van hul beleid en die toepassing daarvan probeer regverdig of goedpraat, om die Nasionale Demokratiese Rewolusie deeglik te bestudeer.Dit is verstommend dat ons al so ver op hierdie pad gevorder het, en tog is daar steeds persone en organisasies wat optree asof die ANC besig is om ’n utopie vir almal te skep. As die ANC en sy bondgenote hul doelwit bereik, moet elkeen wat tans so gretig hul beleid en die toepassing daarvan – soos vervat in wetgewing waar aspekte slim verpak en verdoesel word – ondersteun, hulself afvra of hulle dan werklik tevrede daarmee sal wees. Hierdie beleid, wat wêreldwyd nog net hartseer en armoede veroorsaak het en nêrens werklik sukses vir ’n land se mense gebring het nie, behoort van die heel eerste loopgraaf af met alle beskikbare middele en met groot verantwoordelikheid beveg te word.

Daar word byvoorbeeld hare gekloof oor of grond nou eintlik gegryp is of nie. Dit is duidelik dat die werklike punt misgekyk word. Of daar tans 1%, 10% of 50% grond onregmatig geneem is, en of dit deur die staat self gedoen is of bloot toegelaat word, is nie waaroor ons uitsluitlik bekommerd moet wees nie. Die ware probleem lê daarin dat die beginsel van privaat eiendomsreg deur die onteieningswet, soos dit tans daar uitsien, geskend word. Die negatiewe gevolge hiervan spreek boekdele — en die vernietiging van beleggingsvertroue, gegewe die dringende noodsaaklikheid vir ekonomiese groei, is ongetwyfeld een van die ernstigste risiko’s vir ons land.

Dit is interessant om die debat te volg oor wie presies ingesluit is by die Afrikaners na wie president Trump uitgereik het. Die ANC het eintlik reeds die antwoord gegee met sy SEB-wetgewing. Daarin word verwys na “generies swart,” wat swart mense (ongeag hul volk), persone van gekleurde afkoms, persone van Asiatiese afkoms en selfs Chinese insluit. Diegene wat nie onder hierdie definisie val nie, word as blank beskou en is die teiken van die talle rasgedrewe wette wat diskriminasie teen hulle regverdig. Trump het moontlik na hierdie “res” as Afrikaners verwys.

Die groter uitdaging wat die VSA egter met Suid-Afrika het, lê in hoe die ANC hom in die internasionale arena posisioneer. Suid-Afrika het hom by lande geskaar wat openlik vyandig teenoor die VSA is. Hoe kan die ANC dan verwag dat die VSA ’n gunstige houding teenoor Suid-Afrika sal hê? Dit is uiters kortsigtig om te glo dat die VSA sal voortgaan om Suid-Afrika met sosiale programme te ondersteun en handelsvoorkeure te bied, terwyl ons “bondgenote” die VSA se grootste vyande is. Wat verstaan die ANC nie?

Die hartseer waarheid is dat hierdie kortsigtige benadering uiteindelik die mense van Suid-Afrika sal benadeel. Veral sektore soos die landbou sal die duur prys betaal as AGOA opgeskort word.

Suid-Afrikaners moet ophou om hulself te flous oor die werklikhede. Wees ’n slag eerlik oor die omstandighede wat die ANC in ons land geskep het en wat net nog verder gaan versleg. Is u gemaklik daarmee? Die manier waarop elke semi-staatsinstelling vernietig is as gevolg van hulle beleid van onder andere kaderontplooiing, behoort teen hierdie tyd elkeen ernstig te laat nadink. Is dit regtig vir u iets om op trots te wees om by te dra tot hul vernietigende uitkomste deur enige aspek van hul beleid te ondersteun?

Deur die tyd het die ANC ingevolge Artikel 25.1 van die Grondwet reeds waterregte en mineraalregte “ontneem,” wat beteken dat die staat homself die bewaarder of reguleerder daarvan gemaak het, alles sonder enige vergoeding aan die oorspronklike eienaars. Intussen moet die reeks wetgewings wat stuk vir stuk geïmplementeer word, ontleed word vir wat dit werklik is. Dit is belangrik om dit telkens te beoordeel in die lig van die einddoel wat die ANC steeds nastreef, naamlik om gesentraliseerde sosialisme en kommunisme as die model in Suid-Afrika te vestig.

Ons kan hier net dink aan die manier waarop nul vergoeding binne die onteieningswet verpak word, of hoe die wetgewing vir landbougrond baie subtiel voorsiening maak dat die staat sal besluit wat op landbougrond verbou moet word, wat die eienaar van die grond se vermoë om dit self te bepaal, beperk. Daar word ook melding gemaak van ‘n wetsontwerp oor billike toegang tot grond wat vanjaar nog hanteer gaan word. Dit blyk dat die wet, onder andere, moontlik grond in blanke besit kan teiken om die grondbesitpatroon meer in lyn met die demografie van die land te bring. Dit is nog te vroeg om volledige duidelikheid daaroor te hê, maar die seine in hierdie verband is reeds duidelik.

Die dubbele standaarde wat die ANC huldig, verdien beslis aandag. Dit is nie vir enigiemand ’n verrassing nie, maar dit is steeds belangrik om weer daarop te fokus:

  • Die ANC staan op vir die Palestyne se reg om as volk onafhanklikheid in hul eie land te kry, maar in Suid-Afrika word ’n verskeidenheid volke vasgehou in een staat, terwyl die onderskeid tussen, byvoorbeeld, die Afrikaner volk en die swart volkere in lewens- en wêreldbeskouing, sowel as kulturele beskouing, wesenlik van mekaar verskil. As dit vir Palestina die beste oplossing is, kan die vraag gevra word: waarom nie ook vir die Afrikanervolk nie? Indien daar geredeneer word dat ons een groot reënboognasie in harmonie is en daar is ’n enkele “nasie” in die Suidpunt van Afrika, is dit effe ver van die waarheid. Met die magdom rasgedrewe wette wat blankes afskaal tot tweedehandse burgers, terwyl die grondwet, wat klaarblyklik daarop roem dat ons land nie-rassig is, iewers ’n groot oneerlikheid toon.
  • Elkeen van Cyril Ramaphosa se toesprake fokus op “ekonomiese groei”, terwyl die ANC al die verkeerde dinge doen wat juis die geleenthede vir groei ontneem. Deur ’n wet daar te stel wat bates – selfs onder sekere omstandighede en as voorbeeld – onteien kan word sonder vergoeding, is seker nie die grootste stimulus vir beleggings nie.
  • Die boodskappe wat pres. Ramaphosa na die buiteland stuur, weerspieël heelwat vreemde verdraaiings van die waarheid. Ons ken almal die geval van die ontkenning dat plaasmoorde plaasvind. Net so, by die Wêreld Ekonomiese Forum, was sy inset uiters positief oor hoe goed dit hier gaan, terwyl almal in Suid-Afrika daagliks ervaar hoe ons land agteruitgaan, veral op daardie aspekte wat vir beleggers van kritieke belang is, soos veiligheid en infrastruktuur.

Die ANC se beleid en die gevolge daarvan het vir elke Suid-Afrikaner te duur geword. Die prys wat die inwoners betaal, gegewe die werkloosheid en misdaad, kan op geen wyse regverdig word nie. Kaderontplooiing en die endemiese korrupsie wat aan die orde is, ontneem elke jong mens ‘n toekoms in sy eie land.

Indien ons eie sowel as die land se toekoms ons erns is, behoort elke individu ontledend ondersoek in te stel oor waar skaar organisasies hulle ten opsigte van dit wat deurlopend deur die ANC geimplementeer word, en dan die verantwoordelike besluit te neem om sy gewig in te gooi by daardie instellings wat suiwer begrond is en wat die dinge bevorder wat wel vir ons ‘n toekoms kan bied. Die nageslag gaan ons elkeen hard beoordeel.

Mag ons besef dat ons primêre taak is om te leef tot eer van God en dat ons in daardie verband daagliks ons kultuuropdrag vanuit die Woord moet uitleef.

Meningstuk deur Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder

Kategorie:

Deel dit:

Die ANC se werklikheid