Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Die kompleksiteit van die voedselketting Dinsdag | 28 April | 2020

Datum: 28 April 2020

Deur: Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA

 

TLU SA sê al jare lank dat produserende kommersiële boere die grootste bate van enige land is. Die waarheid hiervan het tydens die tyd van inperking baie sterk onder ander mense se aandag gekom. Die beskikbaarheid van kos kan duidelik nie meer net as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Die verskaffing van voedsel gaan oor baie meer as net die boer. Al is dit die nodale punt in voedselverskaffing, is daar ‘n verskeidenheid rolspelers in die waardeketting wat elk ‘n kardinale rol vervul – hetsy terugwaarts of voorwaarts in die ketting.

Landbouminister Thoko Didiza – as die spreekbuis van die regering – het dit herhaaldelik en duidelik aan die Landbou Taakgroep gestel dat die vloei van voedsel na alle Suid-Afrikaners gedurende COVID-19 nie in gedrang mag kom nie. Ongelukkig is dit ‘n gesamentlike besluitnemingsproses binne die National Control Centre (NCC) waar ander rolspelers ook insprake het. Die gevolg is meer hindernisse in die vloei van voedselverskaffing as vinnige oplossings.

Iemand het iewers besluit wat gedurende die inperking as noodsaaklike dienste beskou word en wat terselfdertyd aangekoop mag word. Dit is duidelik dat hierdie persoon nie die omvang en kompleksiteit van wat dit behels om te boer, begryp nie. Een klein part wat as gevolg van ‘n haakplek in die voorsieningsketting nie beskikbaar is nie, kan die hele stroopproses in die wiele ry en lei tot miljoen rande se skade. Dit veroorsaak ook ‘n breek in die voedselketting om uiteindelik kos by die verbruiker te kry.

Die lys van probleme wat die landboubedryf in die produksieproses ervaar, word daagliks net langer. Dit begin sommer by SAPD-padblokkades wat vereistes oor permitte stel, wat nêrens in enige regulasie bestaan nie.

Landbouers word versoek om in die tyd van nood ‘n spanspeler te wees. Dit doen hulle in elk geval nog altyd, stilswyend, en sal steeds voortgaan om dit te doen. Dalk het almal dit net nie vantevore besef en waardeer nie. Die regering behoort die eerste te wees om boere te waardeer sonder om daarvan ‘n ras-ding te maak.

Die kommersiële boere (swart en wit) is die rolspelers wat deurlopend die nodige voedsel verskaf waarsonder die land in grootskaalse anargie sal verval. Die regering help daardie boere wat 1,9% van die voedselmandjie voorsien en sê dan dit is om voedselsekerheid te handhaaf. Ek kan dit net nie kleinkry dat die ANC selfs in ‘n tyd soos hierdie – waar die land moet hande vat om saam deur die uitdaging te kom – steeds voortgaan om raspolitiek te speel nie.

Die regerende party se onderrok hang so ver uit, dat dit nie eers lyk of hulle enigsins ‘n rok aan het nie.

Wees eerlik met die bevolking en gee die nodige erkenning aan die boere wat dit verdien,  naamlik die kommersiële boere. Dit is dié boere wat die grondslag vorm vir ons ekonomie om weer aan die gang te kom.

Die kennisgewingborde van TLU SA wat die laaste paar jaar langs die paaie vertoon word, kry nou eers behoorlik inslag:

Het jy vandag geëet?

Bedank die boer en die plaaswerker.

Geen boer – geen kos – geen toekoms.