Die verhouding tussen produsent en verbruiker is veel meer as ’n eenvoudige ekonomiese transaksie waar kos op ’n winkelrak beland en geld by ’n betaalpunt verwissel. Dit is ’n verhouding wat die stabiliteit van samelewings, die volhoubaarheid van plattelandse gebiede en uiteindelik nasionale voedselsekerheid onderlê. In hierdie verhouding speel die familieboer ’n onmisbare rol, nie net as voedselverskaffer nie, maar as die primêre bron van ekonomiese, sosiale en kulturele aktiwiteite op die platteland.
Kos op die tafel word so maklik as vanselfsprekend aanvaar. Die herkoms daarvan, die risiko’s wat geneem word om dit te produseer en die beleidsraamwerk waarbinne dit plaasvind, is dikwels onbekend. Tog is dit juis hierdie faktore wat bepaal of kos bekostigbaar, veilig en volhoubaar beskikbaar sal bly. Die familieboer staan aan die voorpunt van hierdie werklikheid, blootgestel aan klimaatsrisiko’s, markte se wisselvalligheid, stygende insetkoste en toenemende regulatoriese druk.
Internasionale gebeure bring hierdie spanning duidelik na vore. In Brittanje en regoor die Europese Unie het boere die afgelope tyd omvangryk betoog teen wetgewing en beleidsbesluite wat hul volhoubaarheid direk bedreig. Beleide wat moontlik met goeie bedoelings ingestel word, soos streng omgewingsregulasies, belastingverhogings of beperkende grondgebruikreëls, het in baie gevalle die praktiese realiteit van volhoubare voedselproduksie misgekyk. Die gevolg is boere wat minder winsgewend boer, produksie verminder of selfs geheel en al ophou produseer. Vir verbruikers beteken dit uiteindelik hoër pryse, groter afhanklikheid van invoere en verhoogde voedselonsekerheid. Die boere se weerstand in Engeland het bepaalde verligting gebring in die benadering met wetgewing teenoor die boere, maar is dit voldoende?
Italië bied ’n interessante teenvoorbeeld. Deur die vervaardiging van kunsmatige vleis te verbied, het die Italiaanse regering openlik standpunt ingeneem ter beskerming van plaaslike boere, voedselproduksie en landelike gemeenskappe. Of ’n mens met die besluit saamstem of nie, die beginsel is duidelik: beleid rig produksiekeuses. Wanneer regerings doelbewus kies om boere te beskerm, erken hulle die strategiese waarde van plaaslike voedselproduksie en die mense wat dit moontlik maak.
Hierdie internasionale voorbeelde behoort ook plaaslik tot nadenke te stem. In SuidAfrika is familieboere die ruggraat van die plattelandse ekonomie. Hulle skep werk, ondersteun plaaslike besighede, dra by tot infrastruktuur en is dikwels die enigste vorm van stabiliteit in afgeleë gebiede. Skole, kerke, dorpswinkels en selfs munisipale funksionering is in baie gevalle direk afhanklik van ’n gesonde landbousektor. Wanneer boerderye onder druk kom of verdwyn, volg plattelandse verval dikwels kort op die hakke daarvan.
Die verbruiker het dus ’n direkte belang by die welsyn van die produsent. Goedkoop kos wat ten koste van boere se voortbestaan geproduseer word, is nie volhoubaar nie. Net so kan ’n beleidsomgewing wat boere as probleem eerder as vennoot sien, nie op die lang duur suksesvol wees nie. Beleidsekerheid, realistiese regulasies en die erkenning van boere se bydrae is noodsaaklik om produksie aan te moedig en te beskerm.
Die familieboer is nie bloot ’n skakel in ’n voorsieningsketting nie. Hy of sy is ’n rentmeester van grond, ’n werkgewer, ’n gemeenskapsleier en ’n bewaarder van voedseltradisies.
In ’n wêreld waar tegnologie en kunsmatige alternatiewe al hoe meer aandag kry, bly die werklikheid dat geen samelewing sonder volhoubare plaaslike voedselproduksie kan funksioneer nie.
Die verhouding tussen produsent en verbruiker moet dus herbedink word as ’n vennootskap eerder as slegs ’n markverhouding. Wanneer verbruikers bewus raak van die impak van beleid op boere en wanneer beleidmakers (toevallig ook verbruikers) die praktiese realiteite van boerdery verstaan, kan ’n gesonde balans bereik word. Uiteindelik is die beskerming van die familieboer nie net in belang van landbou nie, dit is in belang van elke verbruiker wat daagliks op ’n bord kos staatmaak. Dit is inderdaad nodig vir die land om te kan funksioneer.
Dit is elke inwoner van die land se verantwoordelikheid om hul stem te laat hoor om ’n gesonde beleidsomgewing daar te stel. Suid-Afrika het dringend ’n beleidsomgewing nodig anders as waarmee die land die laaste meer as 31 jaar geteister is. Die huidige gevolge is vervallende infrastruktuur en instellings, onbeheerste misdaad met korrupsie wat al amper endemies is en werkloosheid wat gewis nie stabiliteit teweeg bring nie. Die keuse tussen ’n wêreldwye mislukte sosialistieskommunistiese bestel teenoor ’n benadering waar privaatbesitreg respekteer word in ’n markgerigte ekonomiese omgewing, sal duideliker uitgestip moet word. Beleggers in die ekonomie is uiters onseker om onbevange in eersgenoemde te belê, veral as daar nog wetgewing daargestel word waar die staat hulself posisioneer om privaat bates te kan vat sonder om daarvoor te betaal. Te midde van al hierdie onsekerheid en uitdagings is Suid-Afrika se kommersiële boere steeds daar om as grootste bate van die land kos op ons verbruikers se tafels te sit.
Hierdie meningstruk het op 9 Januarie 2026 in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.



