Eiendomsreg in Suid-Afrika het ’n kritieke draaipunt bereik. Die ideologiese ontbloting van President Ramaphosa se benadering tot grondherverdeling, soos onlangs duidelik geword het in Harare, het die regering se geloofwaardigheid in hierdie saak onherroeplik geskaad. Dit is nou duidelik: die President het nie vir die hele volk regeer nie, maar vir ’n geslote groep ideologiese belanghebbendes.
Die werklikheid van grondherverdeling
Transformasie, BEE en die slagspreuk “die grond behoort aan die mense”, het politieke retoriek geword sonder substansie. Hierdie instrumente dien nie langer die breë publiek nie, maar dryf ’n uitgediende ideologie sonder staatsmanskap of insig.
Die onthulling van die verdwyning van R41 kwadriljoen uit die Staats koffers, soos gerapporteer deur BusinessTech (26 April 2021) en bevestig deur Mnr. Tokyo Sexwale, beklemtoon die omvang van wanbestuur. Hierdie fondse kon gebruik gewees het om elke plaas in Suid-Afrika minstens 17 keer aan te koop. Die vraag is dus: wie is die ware grond diewe?
Die praktyk vs. die ideologie
In ’n voorlegging vir die komende konferensie toon ekonoom Johann Bornman aan dat gewone Suid-Afrikaners, swart, bruin en Indiër burgers, grond in hul privaat hoedanigheid aangekoop het in dieselfde mate as die staat. In gevalle van restitusie is kontant dikwels verkies bo grond, en meer as 740 000 hektaar is terugverkoop aan wit eienaars. Intussen het die regering sy sperdatums gemis, en die howe moes ingryp om orde te herstel.
Die regering se reaksie? ’n emosioneel gelaaide poging om Onteiening Sonder Vergoeding (OSV) te dryf, ’n poging wat nou ontbloot is as ’n politieke rookskerm en onvermoë.
Eiendomsreg Konferensie: 9 September 2025
Die Konferensie oor Eiendomsreg, aangebied deur die Ad hoc Komitee vir die Beskerming van Eiendomsreg, vind plaas op Dinsdag 9 September 2025. Die tydsberekening kon nie meer gepas wees nie. Kundige sprekers sal eiendomsreg in verskeie lande ontleed, en die Eiendomsreg-Handves, saamgestel deur TLU SA, sal beskikbaar wees vir ondertekening. Hierdie handves verteenwoordig nie net skeppings opdragte nie, maar ook internasionale en nasionale waardes.
TLU SA Kongres: 10 September 2025
TLU SA sal by sy kongres op 10 September ’n sterk standpunt inneem oor die krisis rondom eiendomsreg. Die tyd het aangebreek om die wolhaarstories van die regering te ontbloot en die werklikheid te konfronteer: eiendomsreg is die sleutel tot veiligheid, stabiliteit en ekonomiese heropbou. Dit is jammer dat die minister van Landbouhervorming en Landelike Ontwikkeling, Mzwanele Nyhontso nie die drie uitnodigings aan hom gestuur om die konferensie by te woon, beantwoord het nie. TLU SA lede sou graag verduidelikings van sy uitsprake wou verneem.
Die volk is lank mislei. Die president het in meer as drie dekades van betrokkenheid by die demokratiese bestel nooit eerlik onderhandel nie. Nou is dit tyd dat Suid-Afrikaners self die wa deur die drif trek. Eiendomsreg is nie ’n ideologiese speelbal nie, dit is die fondament van vryheid, waardigheid en volhoubare ontwikkeling.









