TLU SA Limpopo verwelkom die aankondiging dat Limpopo een van die provinsies is wat na die onlangse vloede tot rampgebied verklaar is.
“Nadat TLU SA Limpopo sedert verlede jaar gepoog het om die provinsie tot rampgebied verklaar te kry na die verwoestende swartryp in Julie, die ewe verwoestende brande net daarna en die knellende droogte wat tot in die middel van Desember geduur het, het dit uiteindelik gebeur,” sê Fanie Havinga, voorsitter van TLU SA Limpopo. “Ten spyte van gesprekke met belanghebbende owerheidsinstellings, het daar vir ‘n lang tyd niks van gekom nie en boere moes maar probeer oorleef.”
“Ons hoop werklikwaar dat daar hierdie keer werklik uitgereik word na kommersiële boere, aangesien ons in die verlede ervaar het dat kommersiële boere blatant oor die hoof gesien word as enige vorm van hulp ter sprake is.
“Eweso wil ons ‘n beroep doen op die finansiële instellings om simpatiek na die kommersiële boere, wat drie rampe binne een jaar moes verduur, se situasie te kyk en te help om hulle te laat oorleef ter wille van voedselsekerheid in die provinsie en die land.
“Indien kommersiële boere weereens oor die hoof gesien gaan word en aan hulle eie lot oorgelaat gaan word, kan die aanbod van pres. Donald Trump van Amerika vir talle boere ‘n aanloklike opsie word, met verwoestende gevolge vir die land,” sluit Having af.



