Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds

Die belangrike punt wanneer hierdie vraag beantwoord moet word, is wat is die beskouing van alle rolspelers oor landbou in Suid-Afrika. Ongeveer 68% van ons land se inwoners is verstedelik. Met alle faktore inaggenome en as vergelyk word met ander voedselproduserende lande, word Suid-Afrika as ’n marginale landbou land beskou. Om dan steeds voldoende gesonde kos te produseer vir Suid-Afrika se inwoners kan ons nie anders nie as om die produserende kommersiële boere baie hoog te ag in hul vermoë.

Landbou gaan oor die winsgewende produksie van voedsel gegewe die korrekte volhoubare benutting van die hulpbronne. Dit beteken dat elke plaas in sy eie reg deurlopend deur die markkragte geëvalueer word en indien korrek bestuur en daar wins gemaak word, daar volhoubare produksie kan wees.

Ons het in Suid-Afrika minder as 30 000 kommersiële boere wat grootliks die kos produseer vir die ongeveer 60 miljoen inwoners binne ons landsgrense. Dan is daar ’n beduidende aantal sogenaamde bestaansboere wat op landbougrond woonagtig is en waarvan weinig voldoende kos produseer om selfs net in hul eie behoeftes te voldoen. Baie van hulle is afhanklik van sosiale toelae om te kan bestaan. Dit is ’n werklikheid en moet eerder beskou word as ’n sosio-maatskaplike realiteit waarvoor daar ’n oplossing gevind moet word.

Daar behoort ’n onderskeid getref te word oor wie is ’n boer en wie nie. ’n Eenvoudige kriteria kan wees dat diegene wat vir ’n mark produseer as ’n boer beskou kan word. Dit is dus diegene wat ’n surplus produseer en sodoende help om die ekonomie te stimuleer en die bevolking te voed. Daar behoort ander kriteria toegepas te word om diegene wat in werklikheid nie boere is nie om hulle te rig oor hoe om wel winsgewend te produseer. ’n Groot dilemma is egter ekonomie van skaal beperkings deur die hulpbronne waarvan beskikbare water ’n groot faktor is.

Gedurende die inperkingstyd van COVID 19 het ons landbou-produsente telkens die knoop deurgehaak vir ons ekonomie ten opsigte van die bydrae gelewer. Buiten dit is die kos op die tafel seker die grootste stabiliserende faktor wat landbou die afgelope twee jaar teweeg gebring het. Indien enigiemand nog nie teen die tyd besef dat produserende kommersiële landbouers die grootste bate is wat ons land het nie, kan sodanige mense net as uiters kortsigtig of moedswillig beskou word.

Die vraag kom dan na vore oor hoekom is die beleidsomgewing wat die ANC-regering vestig in baie gevalle, maar spesifiek ook in die landbou-omgewing, uiters ongunstig om sekerheid te vestig. Die mees kortsigtige benadering waaraan vasgehou word, is byvoorbeeld onteiening sonder vergoeding. Geen belegger wat nugter die risiko’s verreken oor die veiligheid van sy kapitaal sal ongekwalifiseerd belê in ’n land waar hetsy die grondwet of selfs net wetgewing bepaal dat die staat jou bates kan vat sonder om daarvoor te betaal. Beleggings is juis een van die noodsaaklike vertrekpunte wat noodsaaklik is om ekonomiese groei te kan kry.

In die breë gesien is ons land tans onder die ANC se beleidsomgewing op ’n negatiewe glybaan. Ons ekonomiese groeikoers laat veel te wense oor.  Werkloosheid en die gepaardgaande armoede styg jaarliks en die oplossing bly steeds om net meer sosiale toelae aan te kondig. Op geen wyse is hierdie benadering volhoubaar nie.

Suid-Afrika het omvangryke sosio-maatskaplike werklikhede wat heeltyd toeneem.  Die oorsaak van hierdie probleme moet duidelik blootgelê word en moet daarop gefokus word om die oorsake op te los. Te veel energie word spandeer om die simptome te probeer aanspreek instede die oorsaak op te los. Die enigste volhoubare oplossing bly steeds om beduidende ekonomiese groei te verkry. Dit bly ’n uitdaging om besluitnemers te laat verstaan wat is nodig om juis die nodige groei te kan bereik.

Die onderstaande tabel sit dit baie eenvoudig uiteen oor hoe groei verkry kan word. Ongelukkig skiet ons ver tekort om aan die benodigde vereistes te voldoen. Indien enige persoon wat op enige vlak in ’n besluitnemingsposisie is op die verskillende vlakke van regerings in ons land en nie hierdie basiese tabel verstaan en dan met integriteit dit toepas nie, kom die rooiligte ongelukkig dadelik aan. Hierdie tabel is op elke besigheid van toepassing en indien daar nie groei in ’n besigheid (of die land) is nie, is dit net ’n kwessie van tyd tot dinge in duie stort.

 

Hierdie in duie storting van dienste, infrastruktuur, insetmiddele, onstabiele arbeidsmag, swak veiligheidsdienste, ens. bring mee dat die huidige stabiliseerder van ons land naamlik ons kommersiële boere ook onder verkeerde onnodige druk geplaas word. Dit bring mee dat boere se winsgewendheid onder druk kom en ervaar ons dat al hoe meer boere gedwing word om handdoek in te gooi. Van die plase gaan wel voort met produksie deurdat dit opgeneem word in megaboerderye, maar dit is nie die enigste bydrae wat elke familieboerdery (naamlik daardie boerderye wat TLU SA sedert 1897 verteenwoordig) in ’n gemeenskap teweeg bring nie.  Die feit dat daar familieboere in produksie bly, is die hoofrede hoekom die platteland leef. Die familieboerderye se rol word baie wyer erken as net die voedsel wat geproduseer word. Die landelike dorpies het grootliks hul voortbestaan te danke aan die boere van die distrik, werksgeleenthede word geskep, ekonomiese volhoubaarheid sowel as die sosiale en kultuurlewe is die bydrae van die boere en hul werkers ’n noodsaaklike hoeksteen vir die voortgaan van plattelandse dorpies.

Die afgelope 10 jaar het TLU SA vir kommersiële boere die moontlikheid genoem om in ’n gemeenskap dit te ondersoek of hulle nie moet saamwerk binne ’n besigheidsentiteit nie. Die grootste hekkie om te oorbrug is of boere wel sal kan saamwerk. Met die regte bestuursmodel en ’n baie goed opgestelde vooraf kontrak waarbinne die voorwaardes vir die funksionering van so groter boerdery eenheid sal funksioneer, hoe die bestuur sal werk en hoe die uitklim klousules sal werk kan dalk net die model wees om daardie boerderyeenhede wat nie meer die pyp alleen sal kan rook nie steeds die eienaar  op die plaas te kan hou. Die voordele van saamwerk is omvangryk en behoort boere dit ernstig te ondersoek. Sodoende word al die boere op hul plase behou en word dit nie uiteindelik ’n megaboer nie, maar wel ’n megaboerdery met die voordeel dat die familieboere steeds op hul plase kan aanhou boer.

Die omstandighede waaronder ons boere vandag gebuk gaan bedreig volhoubaarheid in vele opsigte. In die meeste gevalle is dit nie die boer se skuld dat hy in ’n situasie beland waar daar nie voortgegaan kan word nie. Dit is nie vir enige instansie moontlik wanneer die skrif reeds aan die muur is om op daardie stadium dinge om te draai nie. Boere moet betyds hul reg posisioneer en nie wag dat te laat is nie.

Om die vraag te antwoord of landbou die ANC se beleid kan oorleef en selfs dit regkry om te gedy binne die huidige omstandighede gaan by elkeen self begin. Dit is hartseer dat dit ervaar word dat daar individue is wat rondgaan en georganiseerde landbou beskuldig as die oorsaak dat boere nie die pyp rook nie en die feit dat boere bankrot gaan voor die deur van ander mense lê.

Wêreldwyd is dit die tendens dat die kleiner boere deur omstandighede ingehaal word en mettertyd hul grond verlaat en megaboere die grond oorneem. Kollektiewe bedinging in gemeenskappe en hande vat met ander rolspelers bring mee dat die vermoë om by die onrealistiese beleidsomgewing wat tans ervaar word te kan beweeg. Dit is vir TLU SA belangrik om elke kommersiële boer in produksie op sy plase te hou en ook om winsgewend te wees. Dit gaan van boere self afhang watter keuses hulle maak vir hul toekoms. Vir ’n boer is dit belangrik dat die buurman ook volhoubaar en suksesvol sal wees. Indien ’n plaas uit produksie gaan, is die kans groot dat dit ’n plakkerskamp of deel van ’n megaboer se besigheid word. Boere moet betyds hulself posisioneer vir volhoubaarheid en nie te lank wag om geleenthede te benut wat nog beskikbaar kan wees nie.

Boere het deur die jare hul gevestig as rentmeesters van hul grond. Die vaste geloofsbegronding wat boere rig is die rigsnoer wat as basis dien vir besluitneming.   Vir ’n Christen is dit juis deel van om ons kultuuropdrag uit te leef in alles wat ons doen naamlik om ons primêre doel hier op aarde uit te leef naamlik om eerstens alle eer te gee aan God vir die groot genade wat ons daagliks ontvang. Met die regte grondslag sal ons deur mekaar te ondersteun en saam hande te vat en planne te maak die ANC se beleidsomgewing wat vir niemand iets goeds inhou nie, irrelevant maak en oplossings vind. Laat ons bid vir wysheid – dan sal ons die regte antwoorde op die regte tyd kry.

Sluit aan
POPI
Nuusbriewe
Checkboxes
Kontak Ons

Warning: call_user_func_array() expects parameter 1 to be a valid callback, function 'frm_disable_honeypot' not found or invalid function name in /home/tlucosfk/public_html/wp-includes/class-wp-hook.php on line 309

sluit aan

Sluit aan
POPI

Kry ons nuusbrief

Nuusbriewe
Checkboxes

Stuur vir ons 'n boodskap

Kontak Ons

Warning: call_user_func_array() expects parameter 1 to be a valid callback, function 'frm_disable_honeypot' not found or invalid function name in /home/tlucosfk/public_html/wp-includes/class-wp-hook.php on line 309