Nersa se moontlike aanvaarding van Eskom se versoek van ’n 32% in die verhoging van elektrisiteit se prys, is een verhoging te ver vir landbou in Suid-Afrika.
TLU SA glo dat dié verhoging vir verskeie boere in die land, die doodskoot sal wees.
“Ons besef die dringendheid van die situasie en om die rede gaan ons ’n skrywe aan die minister van energiesake en die tesourier rig. Dit kan nie net aanvaar en laat gaan word nie,” sê TLU SA President, mnr. Henry Geldenhuys.
“Die realiteit is landbou kan nie die verhoging bekostig nie. Boere moet reeds verhoogde pryse van diesel en kunsmis (die prys het met 150% verhoog in sekere gevalle) om net twee te noem, verwerk. Soos sake nou staan, is die situasie al reeds erg en vir sommige selfs te erg. Dan praat ek nog nie eens van die impak van beurtkrag nie. Dit belemmer boere se vermoë om hul daaglikse take te verrig.”
Dit is nodig dat die regering drasties moet ingryp. Landbouprosesse word negatief geaffekteer en as gevolg van winsgewendheid word verskeie boere nou uit die produksieproses gedwing.
Mnr. Geldenhuys voeg by: “Die belangrikheid van voedselsekuriteit kan en mag nie deur die regering onderskat word nie. Boere móét in produksie gehou word. Die regering sal manier moet vind om die landbousektor te help om die situasie te oorbrug deur subsidies of spesiale tariewe.”
Foto: Johannes Plenio | Unsplash









