James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Landelike Veiligheidsplan uitvoering nóú nodig

Nog nooit was dit so duidelik soos juis nou dat die uitvoering van die Landelike Veiligheidsplan sleutel is tot die bekamping van misdaad op landelike gebiede.

Die Minister van Polisie Bheki Cele se misdaadsyfers van Julie-September 2022 wys net weereens dat misdaad in Suid-Afrika buite beheer is en dat daar geen aanduiding is van die SAPD se plan om iets daaromtrent te doen nie.

Alle syfers wat wys op geweldsmisdade het toegeneem in vergelyking met verlede jaar die tyd.

“Die feit dat vergaderings vir die streke rakende Landelike Veiligheidsplan tans op ’n streep uitgestel word met geen aanduiding van wanneer dit gaan plaasvind, is uiters kommerwekkend. Dit is nodig dat die plan wat stof vergader in sekere streke lewe moet kry. Maar na die beraad in Parys vroeër vanjaar waar daar baie gepraat en groot beloftes gemaak is, is daar sedertdien ’n dawerende stilte van die persone wat verantwoordelik is,” sê mnr. Hugo Pretorius, Voorsitter van TLU SA se Veiligheidskomitee.

“Dit is duidelik dat basiese  polisiëring op grondvlak ver tekort skiet. Verhoogde misdaadsyfers – toename in reeds angswekkende syfers – is duidelike bewys dat daar ernstige interne bestuursprobleme en ’n onvermoë is om misdaad aan te spreek. Uit alle oorde spreek mense al hoe meer  hul misnoeë uit teenoor die diens wat SAPD lewer. Dit strek oor sigbaarheid, bywoon van klagtes tot die ondersoek van misdaad. Die kersie op die koek is, is dat statistiek ongelukkig net ’n weergawe is van gerapporteerde misdaad en die publiek het nie meer vertroue in die polisie se vermoë om iets omtrent die situasie te doen nie, so van die misdade word nie eens meer aangemeld nie.”

Die SAPD sit met probleme soos ’n ernstige te kort aan voertuie en toerusting. Dit is egter net deel van die probleem.

“Mens kry soms die indruk die wil om hul werk te doen, ontbreek. In die gevalle wat Jan Alleman nog sake aanmeld, moet hulle telkemale dit dubbeld doen of later hoor die dossier is onvolledig of selfs net weg. Dit maak ’n reeds mismoedige persoon net nog meer mismoedig.”

Mnr. Pretorius verwys daarna dat die publiek al hoe meer op hulself aangewese is om veiligheid aan te spreek.

“Boere veral wend hulle tot die privaatsektor en ander alternatiewe veiligheidstoerusting. Die kostes hieraan verbonde is soms astronomies en nie almal kan altyd die fondse bybring nie. Ons moet nou verantwoordelikheid aanvaar vir ons eie veiligheid. Ook die van ons families en die persone wat vir ons werk. Lankal kan mens nie meer op die SAPD staatmaak nie. Dit is die realiteit.”

Kategorie:

Deel dit:

Landelike Veiligheidsplan uitvoering nóú nodig