Die Menseregtekommissie (MRK) meen Cosatu se uitlatings dat boere moordenaars en verkragters is, maak bloot gevoelens seer en kom nie neer op ‘n menseregteskending nie.
“Met so ‘n uitspraak het die MRK nou weereens gewys dat hulle sake eensydig oordeel en uiteindelik nie veel doen om menseregte te beskerm of te bevorder nie, hoewel dit hulle primêre taak is,” sê Bennie van Zyl hoofbestuurder van TLU SA. “Ons sal die saak beslis nie daar laat nie, want ons primêre taak is om boere se volhoubaarheid te beskerm.”
TLU SA het in Maart by die MRK aangeklop nadat Cosatu op Menseregtedag ‘n nasionale verklaring uitgereik het waarin die vakbondfederasie beweer dat plaaswerkers regoor die land uitgebuit en mishandel word. Die verklaring lui verder dat boere hulle werkers aanrand, verkrag en vermoor. TLU SA het aangedui dat die stellings veralgemeen en van enige waarheid ontbloot is. Dit dra ook by om die verhouding tussen boere en werkers te versuur en verhoog die voorkoms van plaasaanvalle omdat dit mense – nie noodwendig plaaswerkers nie – opsweep. TLU SA het daarop aangedring dat Cosatu in die openbaar verskoning moet vra aan alle boere in die land en skadevergoeding van R5 miljoen betaal aan slagoffers van plaasaanvalle.
Die MRK het egter die klagte op 12 April 2023 verwerp en gesê dat die stelling nie neerkom op haatspraak nie. In verdere gesprekke met die MRK het TLU SA weer beklemtoon dat uitsprake soos dié van Cosatu haat stook en hulle veiligheid bedreig. Die MRK hou egter vol dat – hoewel “die taalgebruik nie ideaal is nie” – die stelling nie haatspraak is nie en bloot “kwetsend” (hurtful) is.
Intussen het die Appèlhof in April bevind dat die tentoonstelling van die ou Suid-Afrikaanse vlag, selfs in jou eie huis, wel haatspraak is omdat dit haat stook en bevorder.
“Ons sal graag by die MRK wil vasstel hoe hulle onderskei tussen wat kwetsend en haatspraak is,” sê Van Zyl. “Want vir ons kan die vertoon van ‘n ou vlag moontlik vir sommige mense kwetsend wees, maar beslis nie haatdraend nie. Uitsprake dat boere hulle werkers aanrand, vermoor en verkrag is vir ons haatdraend in die ergste graad.
“Ons wil verder ook weet of dit haatspraak sou wees indien TLU SA sê Cosatu-lede is brandstigters en misdadigers omdat een van hulle lede moontlik betrokke was by die afbrand van pakstore in Kirkwood.
“Die probleem – afgesien daarvan dat die MRK duidelik eensydig optree en sommige mense in die land se menseregte meer gelyk as ander s’n ag – is dat die MRK wil redeneer oor terminologie terwyl mense se lewens bedreig word.”
TLU SA het weer ‘n skrywe aan die MRK gerig waarin die bogenoemde kwessies genoem word. TLU SA dring verder daarop aan dat die MRK die 37 000 bewyse (klagstate en saaknommers) van aanranding, verkragting en moord teen boere beskikbaar stel voordat hulle die saak voor die voet verwerp.
Sien TLU SA se eerste antwoord hier: 230413_HRC response_TLU
Sien die MRK se antwoord hier: TLU and SAHRC Meeting Minutes
Sien die jongste skrywe hier 230512_HRC response 2_TLU