Daniël Opperman van Naboomspruit is as TLU SA se Jongboer van die Jaar aangewys.
Die wenner van die 2022-kompetisie is by die jaarlikse TLU SA kongres bekend gemaak.
“Dit was besonders moeilik om vanjaar se wenner aan te wys. Elke jongboer wat ingeskryf het, kon gewen het. Dit is hoe hoog die standaard was en hoe beïndruk ons was met dit wat ons gesien het,” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.
“Daniël is waardige wenner en as jy my vra moet van die ouer boere ook ’n draai by Daniël en van die ander jongboere maak vir so bietjie inspirasie!”
Riaan Rossouw van Nigel-boerevereniging en Clemens Senekal van Suikerbos-boereunie was onderskeidelik tweede en derde.
Opperman boer met aartappels.
“Dit is my hoof gewas. Van die ander gewasse waarmee ek ook boer, is wit-boontjies, ertjies en groenboontjies.”
Volgens Opperman het hy besluit om vir die Jongboer van die Jaar-kompetisie in te skryf, om hom deur ’n moeilike tyd te dra.
“Dit was iets lekker wat ek kon doen in ’n tyd wat nogal moeilik en uitdagend was. Dit is altyd lekker om erkenning te kry en dit gee mens ook weer moed.”
Vir Opperman is dit baie spesiaal om met die titel weg te stap.
“In alle eerlikheid, ek het ’n knop in my keel en ek is sprakeloos. Dit is ’n ongelooflike voorreg en eer om as TLU SA se Jongboer van die Jaar aangewys te word.”