Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier
Om te boer soos bloed deur my are, sê Pieter Maandag | 06 Desember | 2021

Gesels jy met Pieter Pretorius TLU SA se Streeksvoorsitter: Oos, oor boer-wees begin jy skielik sonder rede Theuns Jordaan se treffer “Soos Bloed” in jou onderbewussyn neurie.

Binne sekondes weet jy, jy praat nou hier met iemand wat nuwe betekenis gee aan “gebore om te boer”. In wese is om te boer ’n manier om te dien. En dit is duidelik dat om te dien en boer een en dieselfde ding vir Pieter is.

“Ek sien my rol in TLU SA as ’n geleentheid om ons boere te ondersteun, sodat hulle altyd weet my deur staan oop vir enige iemand. Ek glo daarin om op grondvlak met boere saam te werk. Om hulle te wys wie Pieter Pretorius is. Ons draai nie doekies om nie, ons pak die bul by die horings van dag een af. Dit is tog die groot rede vir TLU SA, om mikro- en makro-boere te ondersteun. Hulle moet weet ons is daar vir hulle deur dik en dun,” vertel Pieter.

Landbou is ’n unieke en taai besigheid en as jy nie passie, toegewyd en vasberade is nie, wel dan is boerdery dalk nie vir jou nie.

“Ek sê anderdag vir iemand, landbou is die enigste besigheid-instansie waar jy aankoopprys betaal vir verbruikers materiaal en dit wat jy verkoop vir kosprys moet verkoop!

“So ja, dit is ’n taai bedryf. Die feit bly staan egter om ’n boer te wees vloei deur ons Suid-Afrikaners se are. Dit is ’n ongelooflike voorreg om elke oggend met God se genade gawes op te staan en te besef hoe gelukkig is ons om te kan boer en woeker met die gawes van Bo. Ek voel bederf om met hierdie rustigheid en nabyheid aan die natuur te kan lewe, wat mense in die stede duur geld voor betaal om te ervaar. Ons glo dat die toekoms vir ons in SA een of ander tyd gaan draai en dat ons gaan opstaan en trots wees om te boer in SA.”

Pieter vertel verder: “Suid Afrika is in ons harte. In elke boer se hart. Ons wil hiér boer. Ons wil nie in ’n vreemde land gaan boer en met vreemde tale en vreemde mense saam leef nie, ons wil hiér in SA boer. SA het ’n diverse groep mense…aan die einde van die dag moet ons leer om hier te leef en laat leef. Ek bid dat ons sal kan saamwerk en saamleef in vrede en ek glo vir God is daar niks onmoontlik vir ons land nie.”

Pieter het aanvanklik sy liefde vir landbou op sy oupa se plasie in die Carolina-distrik uitgeleef. “Ek het gereeld saam met hom daar op die plaas gekuier en lekker geboer as jong seun. Toe ek in die hoërskool was, het ek ’n baie goeie vriend gehad by wie ek baie gaan kuier het op die plaas. Ek dink partykeer ek was meer daar as by my eie huis!”

Die liefde vir boerdery was dus nog altyd daar. “Soos ek sê: Om te boere is in ons are…ek dink ons word dalk met die boer-geen gebore!”

Vir Pieter is dit belangrik dat elke Suid-Afrikaner sy deel doen om TLU SA in sy doel – om te werk na ’n beter Suid-Afrika vir ons en ons kinders – by te staan.

“In ons huis is ‘Liefde vir jou medemens’ die slagspreuk. Ek dink dit is toepaslik vir ons land ook. Party dae is dit moeilik (soms sommer baie moeilik), maar dit is beslis moontlik.”

Sukses van sy medemens is wat Pieter se bors van trots laat swel. “Dit is vir my lekker om my mense gelukkig te sien. As ek aan trots in boerdery dink, kom die beeld by my op van hoe mens in jou land staan en sien jou oes en gesaaides lyk goed en gesond met die wete God seën jou elke dag.”