Die ANC en hulle bondgenote, die SAKP en Cosatu, is vasgevang in hul eie ideologie en het so verstrengel geraak daarbinne dat hulle nie eers meer behoorlike antwoorde vir hulself het nie, wat nog vir die land. Dit raak nou so dat enigiets waaraan hulle raak, gesien kan word as ‘n mislukking.
Die Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, Mike Pompeo se onlangse kommentaar oor grondgrype wys hoe ernstig grondonteiening sonder vergoeding deur die buiteland gesien word. Indien die ANC hiermee volhard is dit ‘n duidelike bewys dat hulle doel uitsluitlik is om die ANC te red en nie ‘n saak het met die land se toekoms nie.
Daar is nog tyd tot 29 Februarie om kommentaar teen die wysiging van Art. 25 oor grondonteiening sonder vergoeding in te dien. Elke lid en affiliasie behoort hulle kommentaar in te dien. Dit handel oor die beginsel van privaat besitreg en wat dit vir die toekoms beteken.
Kommentaar kan gestuur word aan: Mnr V Ramaano by section25@parliament.gov.za, of telefonies by (021) 403-3820 of 083 709 8427. Kommentaar kan ook per WhatsApp aan 081 410 5932 gestuur word.