Boere, ons sê maklik en gereeld ons moet boere by georganiseerde landbou betrek want hulle is die toekoms van landbou en landbousekerheid. Die vraag is, hoe doen ons dit?
Baie boere – meestal die jonger boere, maar soms ook ouer boere – soek oorsee in plekke soos Amerika werk sodat hulle geld kan verdien om te begin boer. Soms is dit vir so ‘n jong man of dame wat nie self van ‘n plaas af kom en van jongs af geleer boer het nie byna onmoontlik om op hulle eie te begin. Sonder finansiering of grond is dit bitter moeilik om te begin boer. Vir die boere wat wel grond en boere in die familie het, is dit makliker.
Waar doen kinders wat nie van ‘n plaas af kom nie hulle kennis op? Baie van hierdie kinders kom uit stede en dorpe uit. Hulle het nie toegang tot plase nie.
Een van ons lede, Elna Wahl, het die Mooikrans Opvoedkundige en Opleiding Instituut naby Amersfoort in Mpumalanga op die been gebring om juis vir hierdie entoesiastiese studente die teorie en praktiese sy beskikbaar te stel. Mooikrans is ‘n geakkrediteerde onderwysinstelling en bied diplomas en sertifikate in landbou en perdewetenskap aan.
Dankie vir die boere wat hierdie studente help en hul tyd, grond en kennis beskikbaar stel. Na twee jaar word studente uitgeplaas na boere wat hulle in diens neem. In die proses raak sommige van die aspirantboere weg – hulle verlaat die land, die landboubedryf of gee op. Maar dié wat vasbyt, word deur bestaande boere opgeraap.
Ons wil boere aanmoedig om van die geleentheid gebruik te maak en by te dra om die Suid-Afrikaanse landbou sodoende te versterk. Een van ons TLU SA-lede, Celia Beukes van Chrissiesmeer, het ‘n paar jaar gelde vir Desiré Janse van Rensburg by Mooikrans “gaan haal” en haar in diens geneem. Die twee vroue boer nou kliphard en is ‘n voorbeeld vir baie jong boere. Desiré is onlangs as sekretaresse van die Jongboerkomitee aangewys.
Boere, indien u weet van kandidate, verwys hulle na Elna of as dit vir u moontik is, borg ‘n jong boer in sy of haar opleiding of gee aan so ‘n student die geleentheid vir werk.
Wie weet? Dalk is hiedie jongmens die een wat bydra om jou boerdery in ‘n nuwe, suksesvolle koers te rig sodat julle beide volhoubaar kan aanhou boer.
Baie dankie Elna vir wat jy vir landbou doen en bereik het.
Vir meer inligting oor die Mooikrans Instituut, besoek gerus hulle webwerf by https://mooikrans.co.za/. Kyk ook na die Landbouspore-onderhoud oor Mooikrans by hierdie skakel: https://youtu.be/vAdL7b_6R54
Groete,
Henry
Foto: Mooikrans