Strewe tot stabiliteit in landbou-omgewing
Na aanleiding van navrae by van ons lede oor die rooivleis hantering het ek dit goedgedink om ’n geleentheid te skep waar die werking van georganiseerde landbou en ons elk se rol daarbinne opnuut in perspektief gestel kan word.
In die vroeë dae het ons binne georganiseerde landbou vir al die kommoditeite komitees gehad wat die onderskeie bedrywe se sake hanteer het. So was daar by al die provinsiale unies van die destydse SALU bv. komitees vir katoen, graan, rooivleis ens. Ongeveer 25 jaar gelede het die komitees ontbondel en elkeen ’n outonome organisasie geword met die gevolg dat ons toe vir elke kommoditeit sy eie organisasie gekry het. So het Graan SA, Aartappel SA, RPO, ens. elk in eie reg ontstaan.
Daar is toe deur beleidskanale ooreengekom dat die algemene sake organisasies sal fokus op die beleidsake soos bv. arbeid, veiligheid, paaie, watersake, ens. terwyl die bedryfsorganisasies sou fokus op hul spesifieke kommoditeite soos bv. graan of rooivleis.
TLU SA se standpunt soos deur die Algemene Raad goedgekeur oor al die bedryfsorganisasies is die volgende:
VERHOUDING MET BEDRYFSORGANISASIES: Bedryfsorganisasies word deur TLU SA as ’n deel van die georganiseerde landbou-familie beskou. Die onderskeid tussen die Algemene Sake organisasies soos TLU SA en die onderskeie bedryfsorganisasies is gesetel in die werksterreine wat vir elk gedefinieer is. TLU SA moedig sy lede aan om lid te word by die spesifieke bedryfsorganisasie wat diens lewer in sy spesifieke boerderyvertakking. Die belangrikheid van die bedrywe lê grootliks daarin dat hulle fokus op die nodige produkontwikkeling, bemarking, navorsing, ens. terwyl die algemene sake aspekte soos arbeid, veiligheid, eiendomsregkwessies, watersake, energie, AgriSEB, ens. gelos word vir bv. TLU SA. Hierdie werksafbakening is belangrik om te verhoed dat daar nie enige misverstande ontstaan nie. TLU SA respekteer elke bedryf in sy outonomiteit.
Die benadering wat TLU SA volg t.o.v. die bedrywe behels dat hulle versoek word om te affilieer as ‘n spesiale kategorie lid. Dit behels dat hulle volwaardige sitting in die Algemene Raad sowel as by die Kongres sal hê. Die onderskeie bedryfsorganisasies sal sodoende in die posisie geplaas wees om toegang tot TLU SA se inligting te bekom wat aangewend kan word om net nog beter keuses te kan maak in beste belang van landbou. Die onderskeie bedrywe spesialiseer op ander sake as landboubeleidsake en moet waak daarteen om hulself so te posisioneer dat hul deur hul optrede in die praktyk, maar ook deur implikasie landboupolitieke keuses maak.
Deur die jare het TLU SA met al die bedrywe hierdie werkswyse gehandhaaf en is dit ons benadering oor hoe daar onderling geskakel word. Dit bring mee dat wanneer daar bv. ’n rooivleis aangeleentheid onder TLU SA se aandag gebring word, dit deurgegee word aan die RPO vanuit ons beleidskanale. Net so gebeur dit gereeld dat die RPO, maar ook ander bedryfsorganisasies, aan TLU SA sake van algemene belang deurgee vir hantering.
Hierdie benadering sal slegs deur ons Algemene Raad verander word indien dit bly dat daar iets anders in belang van die boere op hul plase nodig is. Tans is dit TLU SA se oortuiging dat dit die beste werkswyse is om sake te hanteer.
Al hierdie organisasies het elk ’n grondwet wat rigting aandui oor hoe daar gefunksioneer word. Hierdie organisasies is die boere s’n en bepaal die boere se inspraak die beleid en ook wie die leiers sal wees. By elk van hierdie organisasies is die uitgangspunt om sodanig te funksioneer om op te tree in belang van die lede naamlik die boere op die grond.
Dit moet duidelik gestel word dat nie een van hierdie organisasies iets daar ver is nie, maar dat dit ons as boere s’n is. Die effektiwiteit en funksionering is dus in ons as boere se hande en behoort ons dus eerste die hand in eie boesem te steek indien ons fout vind met ons eie strukture.
My ervaring is dat die deure oop is vir elkeen om insette te gee, leiers te kies en seker te maak dat daar aan die grondwetlike vereistes voldoen word – ’n grondwet wat deur ons as boere opgestel is.
Wanneer ons hierdie aspekte soos genoem met mekaar deel, word daar geensins aanspraak gemaak dat alles by al hierdie organisasies altyd korrek is nie, vir die argument ook nie by TLU SA nie. Oor elke organisasie in die waardeketting kan daar gewis fout gevind word, maar dan weer is die vraag of die kanale gevolg is om dit aan te spreek en reg te stel.
Ons moet ook besef dat wanneer daar fout te vinde is by ’n organisasie dit by daardie organisasie aangespreek moet word en behoort die kanale daar benut te word om beter uitkomste te verkry indien moontlik. Om by die skaakklub in die dorp te gaan kla oor die duiweklub se probleme, is ’n sinnelose gesprek en dien dit geen doel nie.
Ons moet besef dat ons vandag sit met ’n regering wat in meeste gevalle meer ideologies ingestel is as wat hy ekonomies ingestel is. Dit opsig self bemoeilik die rol van al die organisasies in die waardeketting om met gemak uitkomste wat sin maak te verkry. Die beste antwoord hierop is groter en meer dinamiese deelname ten einde die nodige wringkrag te help genereer om sterker standpunt te kan inneem.
My versugting is dat al die rolspelers positief, opbouend en konstruktief sal fokus op beter uitkomste indien dit moontlik is. Dit bly elke lid van die RPO se verantwoordelikheid om deur die regte kanale hul insette te gee. Al hierdie organisasies is ons as boere s’n en sal ons deelname bepalend wees oor watse besluite geneem word. ’n Inset by die skaakklub gaan geen invloed hê op die duiweklub se besluitnemingsproses. Netso kan enige opmerkings op die sosiale netwerke net help om verdere verwarring te skep instede om konstruktief deel te neem aan die besluitnemingsproses wat beskikbaar is vir al die lede en waar u positiewe bydrae kan meehelp om ook deel te wees van die beter kollektiewe uitkomste. Hoorsê persepsies geskep is bitter gevaarlik en is dit dalk goed om seker te maak oor wat is die werklike volledige feitestel alvorens daar ’n opinie gewaag word.
My bedoeling is geensins om teen enige organisasie op te staan en te probeer om hul af te breek nie, maar om in belang van ons bedryf en al ons boere wat in ’n mate onseker is oor waar staan ons ten opsigte van die funksionering en waar lê die verantwoordelikheid van die lid om ’n positiewe bydrae te maak duidelikheid te verkry.
My laaste gedagte wat ek wil deel, is dat ons genoeg druk en onsekerheid in die landbou-omgewing ervaar vanuit verskeie oorde dat dit eintlik kortsigtig is om met mekaar besig te raak. Vir landbou om te oorleef in die onseker tye is dit juis nou die tyd dat ons moet hande vat en gesamentlik besluit was is die beste vir ons bedryf, elke boer individueel, maar ook vir landbou in sy geheel. Kom ons streef dit na.