Ope skrywe aan die President van die Republiek van Suid-Afrika

Geagte President

Die jaar 2025 lê vir elke persoon op die horison en wag, ook vir ons land. Ons as Christene weet dat dit van ons elkeen gaan verg om ons kultuuropdrag, soos verkry vanuit die Woord van God, naamlik om te bewoon en bewaar, te gaan uitoefen volgens die verordeninge van God. Dit verg dat ons daaglikse besluitneming en lewenswandel se uitkomste die vrug behoort te dra om te wys ons lewe ‘n dankbaarheidslewe tot eer van God Drie-enig. Volgens statistiek is ons ongeveer 85% Christene in Suid-Afrika is. Ons vra dus die vraag tereg: is dit werklik enigsins nog waarteen ons lewens getoets word? As individue, maar ook as instellings en regering moet ons weet dat dit op die einde die mees saakmakende aspek van rekenskap is wat beantwoord moet word.

Die volharding in ondersteuning van ‘n Marxistiese model waar die staat homself wil posisioneer as die instelling met alleenseggenskap oor mense se wel en weë, moet duidelik gestel word teenoor die Bybelse riglyn van privaat eiendomsreg en vrye handel wat welvaart kan skep waar ons elkeen as rentmeester ons kultuuropdrag uitoefen. Julle ideologie met die fokus op arbeid as die dringendste aspek vir die toekoms, word tans baie vinnig in die praktyk verkeerd bewys. Meganisasie en tegnologie is reeds besig om arbeid teen ’n hoë tempo as produksiefaktor te vervang.
Die daarstel van welvaart is ‘n skeppende proses wat deur entrepreneurs wat bereid is om besigheid te doen, gedryf word. Hulle sukses is van optimale belang vir die staat om inkomste te verkry deur middel van belastings. Mnr. Ramaphosa, in alle eerlikheid – die welvaart wat oor tyd heen geskep is, is besig om op te raak – hetsy as gevolg van ‘n gebrek aan ekonomiese groei of foutiewe aanwending en korrupsie.

Die ooglopende doel wat jul nastreef om ‘n klaslose samelewing daar te stel waar almal gelyk is en die sogenaamde ekonomiese onreg afgeskaf word, is onrealisties. Die uitkoms gaan inderdaad wees dat almal (behalwe jul elite in die binnekringe) in armoede sal krepeer. Daarteenoor weet ons as Christene dat ons primêre taak op Aarde is om God te verheerlik en in verhouding met Hom te leef. Dit behels gehoorsaamheid aan Sy wil en voorbereiding vir die ewige lewe. Dit beteken ook dat ons duidelik uit die Woord leer almal is nie gelyk nie en het nie ewe veel talente ontvang nie. Volgens die Woord is jul beskouing van gelykheid dus inderdaad ‘n dwaling.

Die Marxistiese wêreldbeskouing fokus op materialisme, sosiale rewolusie en ‘n mensgerigte oplossing vir die wêreld se probleme. Die Bybelse beskouing is gefundeer op God se soewereiniteit, verlossing deur Christus en ‘n ewige doel vir die mens. Marxisme plaas die mens in die middelpunt, terwyl die Bybelse raamwerk God in die sentrum plaas.

As regering in ‘n demokrasie het jul twee primêre verantwoordelikhede. Eerstens moet julle na die veiligheid van die land se inwoners omsien en tweedens moet jul ‘n klimaat skep waarbinne die privaatsektor graag besigheid sal wil doen. Vir meer as dertig jaar het jul klaaglik in beide hierdie verantwoordelikhede misluk. Met ongeveer 80 moorde per dag, korrupsie wat hoogty vier en baie sag aangespreek word, en wetgewing wat deurentyd onsekerheid vir beleggers skep, kan daar gewis nie geroem word op ‘n veilige en gunstige omgewing in Suid-Afrika nie.

Indien die verantwoordelikheid om na die inwoners se veiligheid om te sien enigsins nagekom was, sou die publiek die SAPD as hul vriend gesien het. Met enkele individue in die SAPD is dit wel die geval en daarvoor is daar groot dankbaarheid. Misdaadsindikate en kriminele het hulself egter in die SAPD geposisioneer en korrupsie vanuit daardie geledere vier hoogty. Dit veroorsaak dat enige wetstoepasser in daardie uniform met onsekerheid hanteer moet word. Die SAPD moet gesuiwer word, korrek opgelei en deeglik toegerus word om die bedreiging na behore die hoof te kan bied. Hulle moet weer ‘n suiwer etos van dienslewering in belang van die land se mense vestig alvorens die SAPD enigsins ‘n saakmakende rol kan en sal speel. Dit is u verantwoordelikheid as staatshoof om hieroor rekenskap te gee.

Globaal het die lande wat ‘n stelsel nastreef waar privaat eiendomsreg en ‘n vrye mark nagestreef word met die minimum inmenging van die regering nog regdeur bewys dat dit die beste geleentheid tot welvaartskepping daarstel. Daarteenoor het ‘n Marxisties gedrewe gesentraliseerde sosialistiese model op koers na kommunisme wêreldwyd, nog net armoede en intense hartseer vir die bevolking veroorsaak. Gevolglik verryk die elite wat dit op die mense afdwing hulself onregmatig.

Suid-Afrika verkeer in ‘n benarde situasie. Ons beleef daagliks die gevolge van wanbestuur, korrupsie en gebrekkige beleidsformulering. As verteenwoordiger van duisende kommersiële boere regoor die land, rig TLU SA hierdie brief aan u as ‘n ernstige oproep tot aksie en verantwoordbaarheid.

Die probleme waarmee ons gemeenskappe worstel, is goed bekend:
Beleidsonsekerheid en verkeerde beleid : Hierdie is die vertrekpunt en fondament van wat in Suid-Afrika verkeerd loop. Die ekonomiese aanwysers dui duidelik aan dat ons land ten opsigte van ekonomiese groei die afgelope jare onder die ANC se beleidsrigting nie na wense presteer het nie. Die grootste diskoers is heel moontlik kaderontplooiing met gepaardgaande korrupsie. Dit veroorsaak dat kundigheid vervang is met lojale ondersteuners wat nie oor die verantwoordelikheid en kundigheid beskik wat dit verg om die nodige verpligtinge met sukses te kan uitvoer nie. Op elke terrein in ons samelewing kan velerlei voorbeelde genoem word soos bv. die uitkomste van ons leerders se Wiskundige en Wetenskapvermoë (of dalk eerder onvermoë), hulle gebrek om met begrip te kan lees en ook die beleid van onteiening sonder vergoeding (OSV) wat beleggings ontmoedig en grondbesitreg ondermyn. Laasgenoemde is die dringendste aspek om welvaart te skep vir diegene wat die verantwoordelikheid aanvaar wat dit verg om in die ekonomie betrokke te raak.

Korrupsie moet uitgelig word as een van die grootste kankers wat die land se toekoms ondermyn. Die omvang van selfverryking met tenderbedrog en aankope uit die staatskas, het buite verhouding geëskaleer. Waar voertuigbande vir ‘n spesifieke soort bv. in die privaatsektor teen ongeveer R4 000 aangekoop kan word, is daar gevalle waar SAPD-stasies daardie bande teen tot R18 000 aankoop. Hierdie korrupsie is reg deur die bank op alle vlakke aan die orde van die dag. Persone in die gesagsposisies moet toesien dat alles onder hul beheer suiwer en korrek sal funksioneer. Die vraag bestaan of hulle nie deel van hierdie verterende kanker is nie.

Kragkrisis: Die onvoorspelbare en voortdurende beurtkrag verlam ekonomiese groei en landbouproduksie. Dit is inderdaad so dat ons die afgelope tyd nie meer beurtkrag ervaar het nie, maar wel gereeld lasvermindering ervaar wat dieselfde gevolge teweegbring. Die burokratiese rompslomp wat privaat inisiatiewe verhinder om ‘n effektiewe bydrae in die verband te kan maak, moet uit die weg geruim word.

Misdaad: Plaasaanvalle en algemene onveiligheid bedreig nie net die lewens van boere en plaaswerkers nie, maar ook die voedselsekerheid van die land.
Ekonomiese onsekerheid: Daar is sekere aspekte wat bepalend is om ekonomiese groei te bereik. Die markkragtoets is die evaluering van enige besigheid en ook die land. Indien ‘n besigheid nie hierdie toets slaag nie, sal hulle bankrot gaan. Net so sal die internasionale kredietagentskappe ‘n land evalueer. Indien hulle nie die toets slaag nie sal die land afgegradeer word na rommelstatus toe – iets wat reeds in skaamte bereik is.

Infrastruktuur: As belastingbetalers word daar besonder ruim belastings aan die staat betaal waarmee daar o.a. infrastruktuur in stand gehou en verbeter moet word. Daar word in elke ekonomiese sektor swak infrastruktuur ervaar wat meedoen dat die ekonomiese prosesse stotterend voortstu.

Ekonomiese groei is van kardinale belang ten einde die steeds stygende sosio-maatskaplike probleme sowel as bogenoemde aspekte en vele ander knelpunte sinvol te kan aanspreek. Maatskaplike toelae is nie werkloosheid se oplossing nie. Die praktyk gaan ons land binnekort met gepaardgaande onrus en verdere styging in misdaad laat. Elke handeling, standpunt-inname en wetgewing van ‘n verantwoordelike regering sal dit alvorens enigsins bekendgemaak word, eers getoets moet word aan een aspek, naamlik wat die impak op ekonomiese groei gaan wees.
Verdraaiing van die geskiedenis: Oor tyd heen het rewolusionêre groeperinge leuens oor die geskiedenis vertel waarmee volhard word. Die swartmense is net soos die blanke mense- tweede generasie-inwoners in Suid-Afrika. Na 1994 met die totstandkoming van hierdie huidige bestel is die ooreenkoms dat almal kwansuis gelyke inwoners in die land is en as sodanig hanteer moet word. Daar word deurlopend valse beskuldigings teen blanke mense gemaak en u as president behoort teen sodanige mense op te tree wat moedswillig die ooreengekome bestaande orde bedreig.

Hierdie kwessies vereis nie langer bespreking of komitees nie; dit vra daadwerklike optrede, maar dan die korrekte optrede.

Konstruktiewe voorstelle:
Steek hand in eie boesem en raak eerlik oor dit wat die afgelope 30 jaar nie bereik is nie. Die beleidsrigting wat jul nastreef is tot mislukking gedoem. Die nalatenskap wat jul tans skep, is een van baie hartseer en armoede. Die Zimbabwe-model kan dien as sprekende voorbeeld. Daar het die Mugabe-regime in diskoers gegaan en elke internasionale staatkundige reël verbreek. Hier doen julle presies dieselfde met slegs een verskil- dit word gedoen met wetgewing en julle roem op ‘n sogenaamde demokratiese proses wat dit bewerkstellig.

Besef dat jul twee primêre verantwoordelikhede as regering nagekom moet word nl. Die veiligheid en klimaat waarbinne die privaatsektor ekonomies betrokke sal wil raak. Dit verg dat jul mislukkende beleid van SEB en alles wat daarmee gepaardgaan, gestaak moet word. Streef na kundige aanstellings en hou op om van alles ‘n rasse-oefening te maak.

Maak daadwerklik werk van die korrupsie wat endemies aan ons land geword het. Laat die skuldiges behoorlik aan die pen ry en stel ‘n kern gesonde staatsbestel daar wat tot diens van die land se mense moet wees.

Die kans dat u enigsins uself gaan steur aan hierdie skrywe is baie klein. Die werklikheid is dat Suid-Afrika se inwoners reeds met die vorige verkiesing gewys het dat hulle begin dink en besef het dat ons land die beleidsrigting van die ANC nie verder kan bekostig nie. Die ANC, sy bedmaats en instellings wat hierdie onlogiese koers inslaan se denkrigting het inderdaad vir Suid-Afrika se toekoms te duur geword, veral vir die jongmense se toekoms.

Landbou as seker die relevantste rolspeler vir stabiliteit speel nog deurentyd hul rol ten spyte van ‘n regering wat vir 30 jaar afwesig was wanneer dit by die ondersteuning van landbou kom. Inteendeel, die regering het die afgelope 30 jaar, soos ‘n buitelandse ambassadeur dit teenoor ons genoem het, hulself bewys as landbou se grootste vyand – iets waaroor u uself behoort te skaam.

Elke mens werk aan ‘n nalatenskap. Die geskiedenis oordeel elke mens baie fel – ook vir u. Daar is nie meer baie tyd oor wat u in die posisie sal wees om veral vir ons land se jongmense ‘n beter toekoms te kan skep nie. Soos dinge nou ontsluit, sal die nageslag die geskiedenis wat u tans skep maar eerder verbyblaai, want dit sal onthou word as die tyd dat daar besluiteloos ‘n sinkende ideologie nagejaag is, wat tot die inwoners van die land se nadeel gestrek het.

TLU SA kies vir meer as 127 jaar om te bou en te skep vir die toekoms. Dit is ons karakter en in ons DNA ingebed. Wanneer u gaan kies om die regte beleidsrigting in beste belang van ons land se toekoms te begin nastreef, sal u ons daar vind. As die keuse egter bly om ons land na die ashope van mislukkings te neem, kan u maar weet dat daar weer konstruktief gebou sal word deur lede van TLU SA. Ons voetspoor in die ontwikkeling van Suid-Afrika lê baie dieper as die meeste huidige politici wat geen konteks het oor hoe mens ‘n toekoms bou nie.

Ons glo Suid-Afrika kan sy potensiaal met gerigte en praktiese veranderinge ontsluit.

Die pad vorentoe
President, die tyd vir leë beloftes is verby. Ons vra nie wonders nie; ons vra toepaslike leierskap en verantwoordbare regering. TLU SA en die boere van Suid-Afrika bly toegewy aan die opbou van ons land, maar ons kan dit nie alleen doen nie.

Daar moet sonder om met woorde te speel, klinkklaar aan die beleggers en entrepreneurs uitgewys word of die beginsel van privaat eiendomsreg onomwonde gerespekteer word. Indien daar voortgestu word om in uitsprake en wetgewing steeds te volhard op die mislukkende model van Marxistiese sosialisme, is ekonomiese groei in die toekoms slegs ‘n onbereikbare droom. Dit hou noodwendige negatiewe gevolge vir ons land se toekoms in.

Ons nooi u uit om met ons en ander verantwoordelike rolspelers in gesprek te tree om realistiese oplossings te bespreek en te implementeer. Suid-Afrika se toekoms hang van ons gesamentlike pogings af.

Ons bid vir wysheid en moed aan u kant.

Hoogagtend,
Henry Geldenhuys
President van TLU SA

Kategorie:

Deel dit:

Ope skrywe aan die President van die Republiek van Suid-Afrika

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.