TLU SA neem kennis van wat besig is om te gebeur rondom Phala Phala, die president en al sy kornuite wat speel met woorde en die begrippe soos integriteit, geloofwaardigheid, verantwoordelikheidsaanvaarding wat deesdae woorde is waarvan die ware betekenis vervaag en “bestuur” word.
Dis hartverskeurend dat Suid-Afrika vervalle geraak het in so situasie dat ons nou met die realiteit sit van ’n regering wat net eenvoudig nie die verantwoordelikheid aanvaar om te doen wat dit verg om ’n ware regering te wees nie. Dit is absoluut skrikwekkend hoe die prosesse verloop en mens kan regtigwaar nie op hierdie basis ’n toekoms bou nie.
Dit bring mee dat ons as TLU SA met baie groot verantwoordelikheid moet seker maak dat ons lede in staat gestel word om hul eie toekoms te skep en die verantwoordelikheid aanvaar om hul omgewings te stabiliseer en geleenthede te skep vir vooruitgang. Die besef dat die regering se beleidsomgewing op die oomblik seker een van die grootste risiko’s is vir Suid-Afrika se voortbestaan is, is duidelik. Dit is besig om inderdaad elke jongmens se toekoms van hom/haar te steel. Dit is onaanvaarbaar en dit veroorsaak dat ons moet seker maak dat ons huis in orde is, dat ons by ons beginsels bly en gefokus bly om op die regte manier vorentoe te stap. Suid-Afrika kan gewis nie op hierdie manier aangaan nie.