TLU SA neem kennis van Amerikaanse president Donald Trump se besluit om finansiële hulp aan Suid-Afrika stop te sit weens die ANC-regering se aanhoudende aandrang op onteiening sonder vergoeding en sy posisionering in die internasionale arena. Hierdie stap is nie bloot ‘n reaksie op verkeerde inligting nie, soos sommige wil voorgee, maar die direkte gevolg van dekades se beleid wat privaat eiendomsreg ondermyn en die Suid-Afrikaanse ekonomie verswak het.
Die ANC se transformasie-agenda, insluitend kaderontplooiing en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), het oor die afgelope 30 jaar gelei tot sistematiese uitsluiting van sekere groepe uit die werksmag en ekonomiese geleenthede. Hierdie beleid, gekoppel aan OSV, het ‘n klimaat geskep waarin privaat eiendomsreg nie meer gewaarborg is nie. Dit is nie net ‘n bedreiging vir boere nie, maar vir alle Suid-Afrikaners wat hul ekonomiese toekoms wil verseker.
Dit is dus vir TLU SA geen verrassing dat die VSA nou ferm standpunt inneem nie. Die ANC-regering het homself geposisioneer tussen lande wat Amerika openlik teenstaan en terselfdertyd verwag dat Amerikaanse belastingbetalers finansiële hulp aan Suid-Afrika moet verskaf. “Dit is onbillik en onrealisties om aan te neem dat ‘n regering wat aktief beleid ondersteun wat eiendomsreg bedreig en rassistiese wetgewing instel, steeds as ‘n betroubare internasionale vennoot gesien kan word,” sê Bennie van Zyl, TLU SA hoofbestuurder.
Die ANC het herhaaldelik internasionale ooreenkomste onderteken waarin die respek vir privaat eiendomsreg respekteer word, maar tree in die praktyk direk daarteen in. OSV is nie ‘n nuwe konsep nie – dit is ‘n verskerping van ‘n reeds bestaande patroon waarin grond, minerale regte, waterregte, besighede en loopbane deur diskriminerende wetgewing en praktyke beïnvloed word. TLU SA waarsku al jare teen hierdie koers en verwelkom die VSA se optrede as ‘n noodsaaklike teenreaksie teen die ANC se destruktiewe beleidsrigtings.
Die argument dat grootskaalse grondgrype nie tans plaasvind nie, is ‘n ontwykende verskoning wat die werklike probleem ignoreer. Dit gaan nie oor hoeveel grond reeds onteien, beset of ontneem is nie – die feit bly staan dat hierdie wetgewing reeds tot verskeie oortredings gelei het. Boere ondervind reeds toenemende teenkanting op hul plase omdat werkers glo hulle sal die grond bekom. Hierdie realiteit is ‘n direkte gevolg van die ANC se onteieningsbeleid.
Die kernkwessie vir TLU SA is nie net die onmiddellike impak nie, maar die beginsel self: privaat eiendomsreg is ondermyn. Sonder hierdie fondament is volhoubare ekonomiese groei onmoontlik. Sodra daardie beginsel gebreek is, is daar geen vaste grondslag meer vir belegging of vooruitgang nie. Dit is irrelevant of slegs 1%, 10% of 50% van grondeienaars tans geraak word – die oomblik wanneer ‘n fundamentele reg geskend word, moet weerstand gebied word.
“Ons spreek ons dankbaarheid uit teenoor president Trump en sy administrasie vir hul erkenning van die realiteit waarmee ons in Suid-Afrika te doen het,” sê van Zyl. “Dit is ‘n duidelike boodskap dat eiendomsreg en ekonomiese vryheid internasionale kernwaardes bly en nie geïgnoreer kan word nie.”
TLU SA bly verbind tot die beskerming van eiendomsreg en sal voortgaan om saam met ander organisasies en instellings te werk om hierdie bedreigings teen ons landbougemeenskap en ekonomie te stuit. Ons moedig alle Suid-Afrikaners aan om nie toe te laat dat OSV en verwante beleid verdere skade aanrig nie. Die huidige ekonomiese uitdagings is ‘n direkte gevolg van die ANC se ideologiese obsessie, en ons glo dat internasionale druk noodsaaklik is om ‘n koersverandering teweeg te bring.



