Rommelstatus is die prys van transformasie en daarom is TLU SA uiters teleurgesteld dat daar enigsins iemand is wat bereid is om die regering se meesterplan vir landbou – die AAMP – af te teken.
Donderdag is die begrotingsdebat vir landbou en by die geleentheid wil Thoko Didiza, minister van landbou, die AAMP afteken.
“TLU SA is ontnugter oor die hele proses wat rondom die AAMP se ontwikkelingsproses plaasgevind het. Daar is bepaalde ondernemings gegee ten opsigte van insette wat verreken en inaggeneem sal word. Om die rede het TLU SA reeds op 21 Mei 2021 sterk standpunte ingeneem in ’n skrywe bestaande uit 10 bladsye wat ingestuur is vir hantering. Daar was ondernemings gegee dat dit hanteer sou word, maar dit het nooit gebeur nie,” het mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder, gesê.
“Hier is nou op die einde van die proses en word daar vir ons gesê as daar enige verdere probleme is, moet ons dit maar met die Minister opneem, want hulle is nou klaar met die proses. Dit terwyl ons die gevaar van transformasie uitgewys het, want dit is die dilemma wat ons het ten spyte van ’n paar aspekte binne die plan waarmee ons kan saamgaan, maar hulle maak dit onderhewig aan transformasie en dit is ’n baie groot en duidelik rooilig vir landbou se pad vorentoe.”
Landbou is ’n ekonomiese proses en aan die einde van die dag moet die ekonomiese markkrag beginsel die bepalende faktor vir volhoubaarheid wees.
“Die resultaat van transformasie is duidelik sigbaar regoor alle fasette van Suid-Afrika. Die prys van transformasie is daar vir almal om te sien. Hierdie ANC beleid van die begin af omvat al die aspekte soos kaderontplooiing, SEB en daarmee saam al die korrupsie wat ons sien. Tans sit ons met ’n falende ekonomie wat nie funksioneer nie, daar is nie meer kwaliteit opleiding in skole nie, die gesondheidsdienste is in die drein af en dan praat ons nog nie eens van die veiligheidsdienste of die ineenstorting van ons land se infrastruktuur nie. Plundering en sabotasie vier hoogty.”
Volgens mnr. Van Zyl is daar groot kommer dat die rolspelers wat die plan nou afteken nie noodwendig primêre boere is nie.
“Ons is van die oortuiging dat as ons as organisasie die AAMP afteken, versaak ons elke kommersiële boere in die land – swart en wit – want ons plaas hulle onderdruk met die verkeerde soort beleidsontwikkeling wat noodwendig hieruit gaan voortspruit, want die ANC maak alles ideologies in plaas van ekonomies … hiermee het ons ’n baie groot probleem.
“TLU SA stel dit onomwonde dat die dokument nie onderteken mag word nie. Ons was bereid om saam te werk om seker te maak ons kom uit by ’n ekonomies gedrewe landbouplan in belang van al die rolspelers, maar ongelukkig blyk dit asof die ANC en van die ander rolspelers anders gekies het.”








