James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

Stygende dieselprys hou groot gevare in

Elke inwoner van Suid-Afrika word benadeel met die stygende dieselprys en landbou staan voor ’n ekstra groot uitdaging, want verskeie boere moet tans herbesin oor of hulle nog winsgewend kan plant en dit bring voedselsekerheid in gedrang.

Die nuwe plantseisoen het begin en insetkostes neem oor die algemeen toe, maar die soveelste styging in die dieselprys kan vir sommige boere die strooi wees wat die kameel se rug breek.

“Daar is geen twyfel nie dat daar verskeie boere is wat nou moet mooi somme maak of dit nog vir hulle winsgewend is om te plant met al die insetkostes wat toeneem. Die regering moet besef hier kom groot probleme as die situasie nie aangespreek word nie,” sê mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder.

“TLU SA wil weet wat die regering gaan doen om die stygende prys te stabiliseer, om boere in produksie te hou en so kos op mense se tafels te verseker.”

Mnr. Henk van de Graaf, TLU SA Streekvoorsitter: Noord, voeg by: “Die dieselprys word wel beïnvloed deur die verhoging van die olieprys, maar ook die verswakking van die Rand. En dit is as gevolg van ’n swak ekonomiese beleid en onseker ekonomiese toestande wat deur die regering geskep is. Dit is die regering se verantwoordelikheid om omgewing van vertroue te skep sodat die Rand nie aanhou verswak nie.”

Terwyl die stygende dieselprys – nou al amper R10 duurder as verlede jaar die tyd – landbou op ’n grootskaal beïnvloed, is daar ook kommer oor die implikasies vir die publiek in die algemeen.

“Ekonomiese groei word teengewerk en elke inwoner van die land word benadeel. Die regering is inderwaarheid besig om die land se burgers te verarm. Daar is ’n groot deel van ons bevolking wat nie meer die basiese kan bekostig nie en dit kan groot negatiewe gebeure tot gevolg hê,” sê mev. Erika Helm, TLU SA Plaaslike Regering.

Een van die eerste opsies om verligting te bring is ’n verhoging in die dieselrebat.

Kategorie:

Deel dit:

Stygende dieselprys hou groot gevare in