Vanjaar is Suid-Afrika die gasheer vir die G20-beraad. Soos met enige groot internasionale geleentheid, sal daar sekerlik pogings wees om sekere roetes vir die besoekers te kies, dié wat nog ‘n positiewe beeld kan uitdra. Tog kan die ineenstorting van ons infrastruktuur nie weggesteek word nie; dit is ‘n seer oog wat moeilik met trots vertoon kan word. Die beraad bied egter ‘n belangrike geleentheid, die beleidsraamwerke wat hier bespreek en gevorm word, het ‘n direkte impak op die volhoubaarheid van landbou wêreldwyd, en veral in Suid-Afrika.
Vir ons land se boere en ander ekonomies aktiewe rolspelers is die vraag eenvoudig: Kan Suid-Afrika ‘n stelsel handhaaf waar privaat eiendomsreg en ‘n vryemark-ekonomie beskerm word, sodat dié wat die ekonomiese verantwoordelikheid aanvaar, ook werklik welvaart kan skep? Teenoor hierdie beginsel staan egter die werklikheid van ‘n ANC-geleide regering wat in sy optrede en uitsprake dikwels voortgaan asof welvaart eenvoudig bestaan en net herverdeel kan word, eerder as iets wat deur harde werk en belegging geskep word.
Die belastinglas en die formele ekonomie
Volgens beskikbare syfers is daar sowat 27 miljoen individue in Suid-Afrika wat by die Ontvanger van Inkomste geregistreer is. Van hulle dien net om en by 8 miljoen mense ‘n belastingopgawe in. Persoonlike belasting dra tussen 35% en 40% van die staatsinkomste by, terwyl BTW ongeveer 25% tot 30% lewer en maatskappybelasting sowat 20% tot 25%. Dit beteken dat die relatief klein groep wat produktief is in die formele ekonomie, nie net persoonlike belasting betaal nie, maar ook die maatskappye aan die gang hou wat ook daar belasting betaal.
Hierdie selfde groep finansier boonop al die sosiale toelaes wat aan sowat 28 miljoen ontvangers uitbetaal word. Dit is die harde werklikheid: ‘n Klein gedeelte van die land se inwoners dra die grootste deel van die finansiële las om die staat aan die gang te hou.
Die formele ekonomie word verder belas met die instandhouding van ‘n oorbetaalde en oorgelaaide staatsdiens. Teoreties moet hierdie belasting die nodige dienste van die staat finansier, soos byvoorbeeld infrastruktuur, veiligheid, gesondheid en onderwys. In die praktyk is die dienslewering egter so onvoldoende dat die privaatsektor ná belastingbetaling wéér moet opdok, vir privaat sekuriteit, gesondheidsorg, skole en selfs basiese infrastruktuur. Die ANC se beleid het eenvoudig ‘n te duur prys geword vir gewone burgers.
Die informele ekonomie, aan die ander kant, is grotendeels ‘n onbekende faktor. Buiten die heffing van BTW en sekere aksynsbelastings op aankope in die formele sektor, dra dit byna niks wesenliks tot die staatskas by nie. Wanneer die land se werklike bevolking, wat saam met onwettige immigrante ver bo die amptelike 64 miljoen styg, in ag geneem word, is dit duidelik dat die huidige model nie volhoubaar is nie.
Hulpbronne en grondgebruik
Suid-Afrika se natuurlike hulpbronne is reeds onder groot druk. Vir jare waarsku kenners dat ons waterbronne nie voldoende is om aan die groeiende vraag te voldoen nie. Daarby is die instandhouding van die waterinfrastruktuur vir drie dekades verwaarloos. Besoedeling in ons damme, riviere en selfs grondwater is in baie gevalle buite beheer. Die land se waterstelsel stuur op ‘n krisis af.
Grondgebruik is eweneens ‘n uitdaging. Suid-Afrika word internasionaal as marginaal vir voedselproduksie beskou – indien die geheel van die land oorweeg word, al is daar streke met uitstaande opbrengste. Tog is die politieke druk op grondbesit een van die grootste bedreigings vir volhoubare landbou. Privaat eiendomsreg, die hoeksteen van welvaartskepping, word toenemend bevraagteken. Die regering se eie grondoordragprosesse het hul al erken dat tot 95% van die oorgedraagde grond uit produksie gegaan het. Dit beteken dat die beleid wat sogenaamd geregtigheid moet bevorder, in werklikheid produksie, voedselvoorsiening en werkskepping kelder. Die gevolge van dié beleid ontneem inderdaad die land se inwoners hul van ‘n toekoms.
Beleidsomgewing en ekonomiese groei
Die huidige beleidsomgewing is eenvoudig onvriendelik vir ekonomiese groei. Die syfers oor groei, werkloosheid en belegging spreek vanself: Of dit nou in landbou of in ander sektore is, die ruimte vir uitbreiding en ontwikkeling word deur beleid en wanbestuur gestuit. Sonder vertroue in beleid en die beskerming van eiendomsreg sal beleggers hul kapitaal elders aanwend en Suid-Afrika verloor daarmee die geleentheid om sy ekonomie te versterk.
Landbou se stem by die G20
Teen hierdie agtergrond het die G20-lande se boere op 17 September in Stellenbosch byeengekom om gesamentlike standpunte te formuleer. Die doel is om by die beraad in November aan staatshoofde duidelike en praktiese insette vanuit die landbougemeenskap te bied.
Die kernboodskap is eenvoudig maar dringend: Die wêreld kan nie dobbel met voedselsekerheid nie. Elke beleidsomgewing moet uiteindelik daarop ingestel wees om volhoubare en winsgewende voedselproduksie moontlik te maak. Nêrens in die wêreld is daar ‘n groter bate as die vermoë om mense te voed nie.
Die G20-beraad plaas ‘n soeklig op Suid-Afrika, op sy infrastruktuur, sy ekonomiese beleid, sy hulpbronne en sy vermoë om sy mense en die wêreld se besoekers met trots te ontvang. Vir landbou is dit egter veel meer as ‘n simboliese geleentheid. Dit gaan oor die bestaansreg van ‘n sektor wat kernbelangrik is vir nasionale stabiliteit en wêreldwye sekuriteit.
Indien Suid-Afrika en die G20-lande nie die belangrikheid van volhoubare voedselproduksie en die beskerming van die ekonomiese beginsels wat dit moontlik maak, erken nie, word die toekoms van welvaart en vrede in gedrang gebring. Die pad vorentoe kan slegs gebou word op verantwoordelike beleid, die beskerming van eiendomsreg, en die aanvaarding dat welvaart geskep moet word en nie bloot iets is wat bestaan wat maar net verdeel kan word nie.
Hierdie artikel het op 3 Oktober in Pretoria FM se e-koerant, Nuusweek, verskyn.



