James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA dankbaar saak teruggetrek; stryd duur voort

TLU SA is dankbaar die saak teen boer Piet Kleynhans en sy voorman Etienne Meyer is teruggetrek, maar die stryd vir boere wat hul plase teen onwettige optrede beskerm, duur voort.

“Ons was van die begin seker dat Piet Kleynhans se inhegtenisname onwettig was, en steun nou aksie teen diegene wat hom wederregtelik arresteer het,” het mnr. Bertus van der Westhuizen, TLU SA Streeksvoorsitter: Vrystaat gesê.

“My vraag is egter nou: Wat is die standaard van die vervolgingsgesag? Hulle het selfs borgtog teengestaan. Hoe kon hulle nie die onregmatigheid in sy arrestasie raaksien nie? Ek het in die proses met die vervolgingsgesag geskakel, maar sonder sukses. TLU SA sou graag wou sien dat geregtigheid nou geskied. Om bykans ’n week tussen misdadigers in ’n sel te sit, is nie maklik nie.”

Kleynhans en Meyer is op 18 Oktober 2021 in hegtenis geneem nadat hulle op 16 Oktober vyf windhonde doodgeskiet het, wat onwettig op die plaas gejag het. Die honde se eienaars het toe klag van poging tot moord ingedien.

Kleynhans se geval is een van vele wat die afgelope jaar of wat onder TLU SA se aandag gebring is. Die regsproses is die pad byster as wetsgehoorsame landsburgers in die spervuur is.

“Dit wil voorkom asof misdadigers nou gerat is, om onmiddellik ’n klag vir die rig van ’n wapen, rassisme, poging tot moord, aanranding, intimidasie of selfs moord teen die boer by die polisie sonder enige bewyse aanhangig te maak. In meeste gevalle word die boer gearresteer, en bevind die wetsgehoorsame burger hom in die beskuldigdebank. Des te meer, gebeur daar niks met die persoon wat eerste die wet oortree het,” het mnr. Henry Geldenhuys, TLU SA President, vroeër gesê.

Volgens mnr. Geldenhuys wil dit voorkom asof die regstelsel nou omgeswaai word, om die krimineel te beskerm en nie na die belange van die wetsgehoorsame burgers te kyk nie.

“As jou plaas onwettig betree word, moet jy jouself kan beskerm! Maar nou moet jy skynbaar kies tussen om self geskiet te word of om tronk toe te gaan…

“ ’n Boer blyk skuldig te wees ongeag die omstandighede alvorens hy verhoor word. Geld die emosie van die gemeenskap nou baie meer in regspleging as wat billikheid en regverdigheid en die beginsel dat almal gelyk voor die reg is?”

Mnr. Geldenhuys sê verder die regstelsel is veronderstel om die misdaadelement vas te vat en behoort in ag geneem te word wie was die inisieerder van die situasie wat dan agterna van die boer ’n krimineel maak.

“As die kriminele in die eerste plek nie die grond onregmatig betree het nie sou daar geen voorval gewees het nie. Die vraag wat vandag bestaan is, wat dan van die boere se regte om hul wettige eiendom te beskerm.”

Mnr. Bennie van Zyl, TLU SA Hoofbestuurder, het bygevoeg: “Daar is op 3 Maart aan die Vervolgingsgesag ’n skrywe gestuur. Ons is uiteraard baie dankbaar dat Piet se saak teruggetrek is. Die groter probleem is dat ons ongelukkig te veel gebuk gaan onder onbevoegde of moedswillige regsdienaars.”

In die skrywe aan advokaat RJ de Kock, word verwys na die noodsaaklikheid dat die NVG ’n professionele en geloofwaardige benadering moet hê. As burgerlikes vervolg word wanneer hulle hul bates en persoon beskerm, kan geen samewerking verwag word nie.

“Die resultaat is ontevredenheid, wantroue en dislojaliteit,” het mnr. Van Zyl gesê.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA dankbaar saak teruggetrek; stryd duur voort