TLU SA eis dat die minister van polisie, mnr. Bheki Cele, duidelikheid gee oor of plaasaanvalle en -moorde die aandag ontvang wat dit dringend benodig. Selfs al het dit volgens hom nie meer die status van ‘n Nasionale Prioriteitsmisdaad nie.
Die minister het vandeesweek in die parlement, in antwoord op ‘n vraag van die DA, gesê dat hierdie misdade nie as prioriteitsmisdade geklassifiseer word nie omdat dit reeds onder ander misdade soos moord, poging tot moord, seksuele aanvalle, aanranding en roof as statistiek vasgelê word. Volgens hom word hierdie misdade onder die SAPD se Nasionale Landelike Veiligheid Strategie hanteer. Die strategie is op 1 Maart vanjaar geïmplementeer en sal vir die volgende vyf jaar in plek wees.
“Vir die minister gaan dit blykbaar oor die semantiek en nie die beskerming van menselewens nie,” sê mnr. Henry Geldenhuys, die president van TLU SA. “Navorsing het reeds bewys dat die tipe aanvalle en moorde op plase ander elemente as die ‘normale’ moord en roof-voorvalle het.
“Vir ons is die beskerming van ons lede – die landbouers wat elke dag die kos produseer wat Suid-Afrikaners eet – die belangrikste kwessie. Die minister moet ook weet dat landbouers saam staan en dat hulle die land kan lam lê indien voedselproduksie geaffekteer word.”
Die onlangse plaasaanvalle regoor die land gaan gepaard met uitermatige vlakke van geweld en rassespanning. Dit word verder op ‘n mespunt gedryf deur uitsprake van die EFF oor grondkwessies en die minister wat kommersiële boere as disrespekvol uitkryt en toelaat dat hulle verskree en beledig word.
“Die minister laat landbouers in die land in die steek,” sê mnr. Geldenhuys. “Ons grense word nie beskerm nie, veediefstal neem al hoe meer toe en plaasaanvalle word al hoe meer gewelddadig. Ons terugvoer wys ‘n kommerwekkende element van rassehaat in aanvalle. Dit is goed en wel dat die minister sê hy beskou die moord van enige Suid-Afrikaner as ernstig, maar dit is ook tyd dat hy besef dat ras wel ‘n rol speel wanneer dit by plaasaanvalle kom.”
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 22 September 2020
Navrae: Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,
Sel.: 083 560 1273
Genl. Maj Chris van Zyl (aft), Adjunk-Hoofbestuurder TLU SA,
Sel.: 072 716 9299