TLU SA het Donderdag 7 November ’n dringende skrywe aan president Cyril Ramaphosa gestuur om ernstige kommer uit te spreek oor adjunkpresident Paul Mashatile se versoek om die onteieningswet so gou as moontlik te onderteken. In die skrywe het TLU SA duidelik uitgelig hoe hierdie wet ernstige gevolge vir die land se ekonomiese groei en beleggersvertroue kan inhou. TLU SA het pres. Ramaphosa versoek om die besluit met omsigtigheid te benader.
Die skrywe beklemtoon die noodsaaklikheid van ekonomiese stabiliteit en beleidsekerheid om werkloosheid en armoede aan te spreek. TLU SA stel dit duidelik dat ’n veilige omgewing en vertroue in beleid die grondslag vorm vir ekonomiese groei en dat beleggers – plaaslik én internasionaal – huiwerig bly om in Suid-Afrika te belê solank onteiening sonder vergoeding op die tafel is.
“Verskeie beleggers het al herhaaldelik hul kommer uitgespreek oor die beginsel van onteiening sonder vergoeding soos vervat in die onteieningswet,” verduidelik TLU SA. “Hulle is bekommerd oor die impak hiervan en is tans huiwerig om in die land se ekonomie te belê. Hierdie beleggings is absoluut noodsaaklik vir werkskepping en ’n gesonde ekonomie. Suid-Afrika kan eenvoudig nie bekostig om hierdie beleid toe te pas nie – ons jeug, wat reeds sukkel om werk te kry, het dit broodnodig.”
TLU SA het ’n beroep op pres. Ramaphosa gedoen om die belange van alle Suid-Afrikaners voorop te stel en die omstrede klousule van onteiening sonder vergoeding uit die wet te verwyder. “Ons mense het leierskap nodig wat hul welsyn en die land se toekoms eerste stel. Hierdie is ’n besluit wat elke burger en die hele ekonomie sal raak.”
TLU SA sal aanhou om op te staan vir die beskerming van eiendomsreg en om beleidsrigtings te ondersteun wat ware ekonomiese groei en volhoubaarheid vir Suid-Afrika bevorder.



