James Rylaan 194, Silverton

(012) 804-8031

navrae@tlu.co.za

Lede / Vriende sake: ledesake@tlu.co.za

TLU SA soek daadwerklike optrede oor Sondagsriviervallei-voorval

Die President van die TLU SA het vandag ’n skrywe aan die Minister en Nasionale Kommissaris van Polisie gerig waarin hy sy misnoeë te kenne gegee het oor die lukrake optrede van die SA Polisiediens om die situasie in die Sondagsriviervallei te beheer.

Mnr. Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA, het gesê dat mnr. Henry Geldenhuys (President TLU SA) in die skrywe die Minister en die Nasionale Kommissaris kennis gegee het dat, benewens eise om skadevergoeding, die betrokke persone ook persoonlik aanspreeklik gehou sal word deur die instelling van ’n klasaksie.

Mnr. Geldenhuys het vroeër ook met mnr. Peter Cloete Agri Oos-Kaap se President, gepraat oor die toepassing van gesamentlike druk en om ondersteuning te bied waar moontlik.

Mnr. Van Zyl het voorts gesê hy hoop dat onmiddellike en behoorlike optrede sal volg ten einde verdere skade in alle opsigte te beperk.

“Dit is duidelik uit wat ons hier sien gebeur het, dat die polisie nie oor die vermoë –of skynbaar die wil – beskik om wetsgehoorsame burgers op te pas en te beskerm nie. Ons doen ’n beroep op die polisie om uitgesproke te raak oor die feit dat wetsgehoorsame burgers van die land die reg het om hulself te verdedig teen kriminaliteit,” het mnr. Van Zyl verder gesê.

“Hier was onrealistiese verwagtinge gevolg deur misdadige optrede en die SAPD het gestaan en kyk hoe die misdaad gepleeg word. Die leiers van ons land se polisie en justisie moet hulself hard uitspreek teen kriminaliteit en daarop wys dat wetsgehoorsame burgers die reg het om bates en lewens te beskerm. Brandstigting verwoes nie net bates nie, maar stel lewens in gevaar.”

Daar is ook die verdere kommer uitgespreek oor die moontlikheid van verdere werksverliese in die land wat reeds gebuk gaan onder reuse-werkloosheidsyfers as boere besluit om meer op meganisasie te fokus om voorvalle en gevare soos dié te vermy.

Kategorie:

Deel dit:

TLU SA soek daadwerklike optrede oor Sondagsriviervallei-voorval