TLU SA kan en gaan ook nie langer net toekyk hoe individue onder finansiële druk aan die kortste end trek nie. Om dié rede het TLU SA aansoek gedoen om toe te tree in ’n hofsaak in die hof te Kimberley as vriend van die hof.
Dit beteken dat TLU SA die geleentheid gegun word om die hof mee te deel aangaande belange van boere in die algemeen en nie namens een van die partye van die saak nie.
Omdat dié saak ’n geskil is oor ’n aangeleentheid wat ’n belang vir boere is, kan die hof toelaat dat TLU SA toetree. As vriend van die hof mag TLU SA dan die hof toespreek oor die betrokke aangeleentheid.
Die posisie is tans dat ’n maatskappy, wanneer hy in finansiële knyp verkeer die hof kan nader vir sakeredding. Aldus kry die maatskappy ’n ‘skietstilstand’ met sy krediteure. Dié voordeel is nie beskikbaar vir individue nie en ook nie vir Trusts nie. Boere wat so boer het dus nie die voordeel van ’n ‘skietstilstand’ nie.
Hierdie posisie is diskriminerend vir boere en sakelui en omdat dit diskrimineer is dit in stryd met die land se Grondwet.
“Die situasie moet reggestel word en die regering moet deur die hof verplig word om toe te sien dat wetgewing in die verband reggestel word. Dit is hoekom TLU SA die aansoek bring,” het mnr. Bennie Van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA, gesê.
Indien die hof die aansoek goedkeur sal die aangeleentheid in die Konstitusionele hof dien en daar versoek word dat die bevel gegee word soos bovermeld. Boere se belange sal sodoende bevorder word.
“Ons kan nie die klimaat of die wêreld omstandighede aanspreek om die lewe vir ons boere makliker te maak nie, maar in die geval waar boere wéér aan die kortste end trek, wel ’n rol speel om verandering te bewerkstellig. Daar waar dit vir TLU SA moontlik is om ons land se boere te help en by te staan, sal ons alles in ons vermoë doen,” het mnr. Van Zyl bygevoeg.