TLU SA neem met groot kommer kennis van die uitstel van die Minister van Finansies se begrotingsrede, wat vandag sou plaasvind. Hierdie stap dra nie net by tot bestaande ekonomiese onsekerheid nie, maar plaas ook verdere druk op landbou- en sakegemeenskappe wat afhanklik is van duidelike riglyne oor fiskale beleid en ekonomiese bestuur.
Volgens TLU SA openbaar hierdie uitstel nie noodwendig die effektiwiteit van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) nie. Dit beklemtoon eerder ‘n patroon van wanbestuur en onstabiliteit wat Suid-Afrika se ekonomie in ‘n steeds groter mate bedreig.
Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê: “Vandag se gebeure is dalk net ‘n simptoom van die kultuur wat in Suid-Afrika gevestig is. Die gebrek aan ‘n duidelike en tydige finansiële plan skep onsekerheid en bemoeilik strategiese beplanning vir besighede en boere. In die landbousektor is dit veral kommerwekkend, aangesien finansiële beplanningsbesluite dikwels afhanklik is van subsidies, belastingbeleide en insetkoste wat direk deur die begroting beïnvloed word.”
TLU SA is van mening dat die uitstel van die begrotingsrede ‘n nadelige impak op beleggersvertroue sal hê. Die vertraging stuur ‘n negatiewe boodskap aan plaaslike en internasionale beleggers dat Suid-Afrika nie ‘n duidelike rigting het met sy fiskale beleid nie. Dit kan verdere beleggingsonsekerheid aanmoedig en uiteindelik lei tot ‘n verswakte ekonomie, hoër werkloosheid en verminderde ekonomiese groei.
“Al besef ons dat die Minister van Finansies onder groot druk staan met ’n leë tesourie, wat nie meer geld het nie, en dat hy moet presteer, moet hy ook besef dat Suid-Afrika op hierdie oomblik belastingbetalers het wat nie in staat is om diefstal en wanbestuur te subsidieer nie,” sê Van Zyl.
In ‘n tyd waarin die land reeds sukkel met ‘n stygende skuldlas, swak ekonomiese groei en ‘n hoë werkloosheidskoers, is ‘n konsekwente en verantwoordelike ekonomiese beleid noodsaaklik.
TLU SA doen ‘n beroep op die regering om stabiliteit en beleggingsvriendelike beleid as prioriteit te stel. Die landbousektor, wat ‘n belangrike rol speel in voedselvoorsiening en werkskepping, kan nie bekostig om in ‘n omgewing van voortdurende onsekerheid te funksioneer nie.



