TLU SA erken en waardeer die media-rolspelers wat in 2024 uitnemend bygedra het om ons kernboodskap van ekonomiese volhoubaarheid in landbou oor te dra. Ons glo dat ekonomiese volhoubaarheid die hoeksteen is waarop die toekoms van landbou gebou moet word. Dit behels nie net die volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne nie, maar ook die skep van ‘n omgewing waarin boere finansieel kan oorleef, groei en voorspoedig kan wees ten spyte van uitdagende omstandighede soos klimaatsverandering, beleidsonsekerhede en wisselvallige markte.
Dit is daarom vir TLU SA noodsaaklik om voortdurend die ekonomiese beginsels wat volhoubaarheid verseker, onder die aandag van die publiek en beleidsmakers te bring. Ons werk daaraan om boere te ondersteun deur ‘n duidelike rigting te verskaf oor volhoubare boerderypraktyke, kostebestuursmaatreëls, en die behoud van landbougrond vir toekomstige geslagte. Hierdie beginsels vorm die hart van die TLU SA-boodskap en is die sleutel tot ‘n gesonde landbou-ekonomie wat voordelig is vir die hele Suid-Afrika.
Die media speel ‘n kritieke rol in die bevordering van hierdie boodskap en ons is dankbaar vir hul werk om TLU SA se visie aan die breër samelewing oor te dra. Tydens ons jaarlikse mediafunksie, wil ons graag ons opregte dank betuig aan al die lede van die media wat oor die afgelope jaar bygedra het om TLU SA se standpunt te kommunikeer.
Vanjaar stel ons met trots die TLU SA Sonneblom Toekenning vir Uitnemende Joernalistiek in Landbou bekend. Hierdie toekenning is ‘n eerbetoon aan ‘n joernalis wat die beginsels van ekonomiese volhoubaarheid in landbou op ‘n uitmuntende wyse belig het.
Ons kondig ook met trots die vyf genomineerdes vir die TLU SA Sonneblom Toekenning vir Uitnemende Joernalistiek in Landbou 2024 aan:
- Mariska Coetzer
- Nico van Burick
- Carien Kruger
- Glenneis Kriel
- Mia Slabbert
Elkeen van hierdie joernaliste het uitnemend presteer en ons sien uit daarna om een van hulle met die toekenning te vereer.