TLU SA waarsku landbouers regoor die land om paraat te wees en voorsorg te tref teen betreders wat onrus op plase wil saai.
“Ons het verneem van die EFF se sogenaamde “labour desks” asook mense wat hulself as arbeidsinspekteurs voordoen en so toegang tot plase en plaaswerkers kry,” sê mnr. Drickus Botha, die streeksbestuurder van TLU SA se Noordstreek. “TLU SA moedig alle landelike grondeienaars en -bewoners aan om by die veiligheidstruktuur in hulle omgewing aan te sluit. Landelike misdaad kan bestry word, indien ons almal deelneem.”
Die EFF maak allerhande dreigemente, gevolg deur protesoptogte waarin memorandums van eise aan plaaseienaars oorhandig word. Die eise is meestal onredelik, ongegrond en met geen wetgewing wat dit ondersteun nie. Die boere word dan gedreig om aan die eise te voldoen of ‘n tweede besoek van die party te wagte te wees.
TLU SA is bewus van sulke voorvalle in Groblersdal, Tolwe en Naboomspruit, waar aanranding plaasgevind en werkers uiteindelik ontslaan is.
“Ons ervaar dat werkers in so ‘n mate mislei word, dat hulle nie meer ware arbeidkwessies na die KVBA of aangewese departemente verwys nie, maar slegs na die EFF luister,” sê mnr. Botha. “Die EFF kan nie veel meer doen as om beloftes te maak oor wat tydens die verkiesing gaan gebeur nie.”
TLU SA beveel aan dat plaaseienaars die volgende stappe neem om hulleself te beskerm:
- Hou hekke gesluit en maak seker daar is ‘n bord waarop duidelik aangedui word dat die grond privaat is en oortreders vervolg sal word – die bord moet in meer as een taal wees;
- Sluit by ‘n plaaslike veiligheidstruktuur aan;
- Kry ‘n gebeurlikheidsplan in plek;
- Steun op ervare onderhandelaars om met betreders te praat;
- Beplan saam met die plaaslike polisie hoe en wanneer om op te tree;
- Steek kers op by kundiges oor wette met betrekking tot openbare byeenkomste en betreding;
- Geen personeelrekords mag sonder ‘n lasbrief of aan enigiemand sonder die nodige indentifikasie gewys word nie.
Uitgereik deur: TLU SA
Datum: 7 Desember 2020
Navrae: Mnr Henry Geldenhuys, President TLU SA,
Sel.: 083 560 1273
Mnr Drickus Botha, Streeksbestuurder TLU SA Noord,
Sel.: 082 774 9287