Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

TLU SA het onlangs te midde van die knellende droogte wat steeds in sekere dele van die land voortduur, hoop gebring vir ʼn klein groepie boere in die Calvinia-omgewing in die Noord-Kaap.

TLU SA het uit sy Traumafonds hulp verskaf aan behoeftige boere in die gemeenskap. “Die middele is nie daar om elke plaasboer te help nie,” sê Bennie van Zyl, Hoofbestuurder TLU SA. “Wat vir TLU SA belangrik is in die proses is dat ons nie iemand in nood se organisasie-affiliasie aanvra nie, maar eerder kyk waar is die grootste nood by die kommersiële sektor van ‘n distrik en daardie mense  te help met ‘n paar rand.”

Volgens Van Zyl help die bydrae dat talle gesinne vir ʼn paar weke kos op die tafel sal kan sit. “ʼn Baie belangrike aspek is egter dat die boere en al hul mense wel kan ervaar dat daar iewers iemand is wat omgee en dit gee hoop.”

Die Calvinia-boeregemeenskap het hul dankbaarheid teenoor TLU SA uitgespreek vir die skenking. “Ons mense is tans so broos. Elke geskenkbewys het ‘n boer in trane aangesien hulle die gerusstelling het dat hulle vir ses weke nie hoef te bekommer oor kos nie. Ons gemeenskap is hoop en moed gegee in ‘n baie moeilike tyd in hul lewens.”

TLU SA het sy waardering uitgespreek aan elke instansie wat op welke wyse ook al hulp aan boere koördineer ten einde ‘n mate van verligting te kan gee.

“Daar is individue en organisasies wat hulle hande diep in hul sakke steek om bydraes te maak om verligting vir mens en dier te bring,” het Van Zyl gesê.

TLU SA het aanvanklik ook veevoer geskenk op plekke waar die nood groot is, maar as gevolg van die groot koste verbonde aan die vervoer daarvan, het die landbou-organisasie eerder begin fokus om vir landbouers en hul werkers kos op die tafel te sit.

“Ons kom nie naastenby uit by die werklike nood nie, daarvoor is die skade reeds te groot,” het Van Zyl gesê. “Die dank wat egter telkens uitgestraal word maak dit wat TLU SA gee absoluut die moeite werd.

“Dit is dan eers wanneer mens regtig besef waardeur gaan dié boere. Daar kan en moet gebid word vir uitkoms. Goeie reën is al wat die situasie kan begin omdraai.”

TLU SA se uitvoerende komitee het ook besluit dat wanneer dit kom by iets soos droogtehulp daar nie enige administrasiefooi deur die organisasie gehef sal word nie, maar dat elke sent wat in die Art. 18A-fonds gestort word as donasie, ten volle aangewend moet word om bystand te lewer.

“Verskeie rolspelers dra by tot ons Traumafonds om te help en daarvoor het ons die grootste waardering,” het Van Zyl afgesluit.

As jy ‘n donasie aan die Traumafonds wil maak, kan jy die volgende bankbesonderhede gebruik:

Rekeninghouer: TLU Traumafonds

Bank: Absa

Rekeningnommer: 4051689914

 

 

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons