Daar is twee aksies wat van die TLU SA bestuur verwag word. Die een is om dit wat verkeerd is en ’n impak op ons bedryf, en in besonder ons lede het, aan die kaak te stel met verklarings en gesprekke op radio en sosiale media. Die tweede is om oor te gaan in dade om die impak teen te werk. Die aksie word by hoofkantoor bespreek, daaroor word besin en dan word die aksie of veldtog bekend gestel.
Die sukses van so ’n veldtog of aksie hang af van die ondersteuning van die aksie deur ons lede en die breë gemeenskap daar buite.
Tot op hede het ons aksies meestal gevra vir ondersteuning vir die standpunt wat ingeneem word.
Een van ons nuutste aksies is egter iets anders. Ons het besluit dat genoeg nou werklik genoeg is. Ons moet iets meer daadwerkliks doen, en ons het die eiendomsbelasting protesaksie van stapel gestuur. Meer inligting oor hierdie aksie is op ons webblad beskikbaar.
Die beginsel wat geld is dat ons geregtig is op skoon, effektiewe, korrupsievrye munisipale strukture wat ʼn diens lewer. Ons weet dit gebeur nie. Die eiendomsbelasting wat betaal word land in ʼn bodemlose put, word wanbestuur en word gesteel.
As dit gebeur – en dit is die standaard van 90% van ons munisipaliteite – was die vraag: “Hoekom moet ons grondbelasting betaal wetende dat dit gesteel en wanbestuur gaan word?’
Ons weet dat daar elke jaar minder munisipaliteite is wat skoon oudits kry. Ons hou dus ʼn korrupte stelsel in stand. Almal is uitgesproke daaroor en dit is een van die TLU SA-veldtogte wat die meeste debatte oplewer. Tog is die fisiese ondersteuning daarvan swak.
Ons kan nie ‘n brief aan die minister skryf wat lui dat ons, en ons lede ernstig is oor ‘n saak as die einste lede die saak nie ondersteun nie. Dit is vir my moeilik om die alternatief te aanvaar dat ons lede wil voortgaan om ‘n korrupte stelsel te ondersteun, wetende dat ons te nagekom en onderdruk word.
In die stadium is ek redelik ontnugter en teleurgestel. Ons het almal geglo dat die veldtog die potensiaal het om eens en vir altyd vir die ANC te wys waartoe ons in staat is. Dat ons kan saamstaan, en dat ons nie ʼn korrupte stelsel finansieel sal onderhou nie.
Daar is geen vryheid sonder opoffering nie.
Ek pleit vandag by elkeen van ons lede en ondersteuners wat soos ons voel: Ondersteun die veldtog. Neem die stappe wat van jou verwag word om die korrupte stelsel omver te gooi.
Dit is die eerste stap na ‘n nuwe werkende Suid-Afrika, vry van korrupsie.
Boere Groete,
Louis Meintjes