Van toeka tot nou – boekhouding en fakture

Ek het groot geword op ’n plaas – in dieselfde omgewing as my niggies en neefs. Beide oupas en oumas was sommer net 10-minute se ry weg. Sommer net een groot familie wat Sondae by ouma-hulle geëet het. Skaapboud en aartappels, en daar was altyd nagereg. My ouma se vla was beter as enige vla wat ek nog ooit geproe het.

Daardie was goeie tye…om te ry saam met my oupa Tom in die veld, beeste tel, mielies bekyk…met ’n fles vol koffie wat ons sommer voor melktyd of etenstyd gaan klaar maak. Dit was ’n deftige fles; een van daardie flesse wat sommer twee koppies op gehad het as deksels. Die groot een vir oupa en die klein een vir my. Wanneer ons so op die plaas gery het, het Oupa my vertel van die Here en hoe Hy nog altyd voorsien het. Selfs die een jaar toe sy hele oes vernietig is deur hael. Hy het my “Prys die Heer” op die Voortrekkerwysie leer sing, en Psalm 23. Tot vandag nog kramp my hart en verlang ek terug wanneer ek dit sing.

Oupa het my vertel van die Groot trek, Wasbank, Bloukranz, en Bloedrivier. Van die Boereoorloë en die konsentrasiekampe. Deur sy vertellings het alles vir my lewend en kosbaar geword. Ek het geleer van die totstandkoming van die Unie en toe die Republiek. Ek was deeglik ingelig van al die politieke gebeure. Daardeur het ‘n hartstogtelike liefde in my hart gegroei vir hierdie land…

My oupa was my held.

Alles wat oupa gedoen het was reg in my oë. In die oggend het ons gou koffie en beskuit geëet voor ons lande toe ry. Dis juis waar ek verdrietig uitgevind het dat vyf beskuite suig al die koffie op van een beker. Ouma wou nog sê dat ek eet te veel, maar al wat oupa gesê het was: “Los die kind, maak vir haar nog koffie”. My oupa het gesê dat ons “praat nie die taal van die Engelse nie”. Dis seker hoekom my Engels nou nog soos lugtyd is in krisissituasies: dit raak sommer net op. Of soos oupa sou sê “finish en klaar”.

My oupa het Rembrandt van Rijn sigarette gerook. Daardie groot geel pakkies. Agter op daai pakkie was ’n lieflike gladde wit papier – die randjie het so ’n riffeltjie gehad. Daarop kon ons heerlik teken en skryf en baljaar – slegs wanneer dit jou beurt was. Binne-in was ‘n papierdun goue papiertjie wat ons op die interessantste maniere kon vou. Daar was heeltyd ’n getou trek onder die kleinkinders oor wie kry die pakkie sodat hulle kon agterop teken. Die een wat die pakkie kry mag nie ook die goue papiertjie kry nie. Oupa self het agter-op sy in-gebruik-pakkie somme gedoen, beplanning en selfs minimale boekhouding.

En toe word ek groot.

Bloedgrond…

En my mense.

Later jare het ek as klerk tussen die belastingpapiere wat ’n boer vir ons gebring het sulke pakkies gekry met die “melksyfers”. Met groot nostalgie het ek aan oupa gedink…dit was toe. Nou is ’n hele ander storie.

Nou is dit ’n gespook om kop bo water te hou op die plaas terwyl die Ontvanger van Inkomste jou probeer versuip. SARS het begin omvorm na ’n baie effektiewe geldinvordering masjien. Wanneer SARS die belastingbetaler wel geld skuld of foute moet regmaak aan hulle kant verander die masjien in ’n handploeg.

Al meer en meer belastingbetalers word geoudit. Vir ’n BTW uitbetaling is jy gewaarborg om geoudit te word. SARS vra dan die bewyse aan wat hy gekies het. Dit is krities om te verstaan dat die bewyslas van die eis berus op jou. Basies skuldig tot onskuldig bevind.

Alle strokies wat ’n bewys van ’n uitgawe is moet gehou word. In my praktyk is dit aanvaarbaar vir ’n kliënt om sy strokies in ’n plastieksak bêre en dit vir ons net so in die sak te bring. Jou strokies is letterlik geld werd.

Die volgende is die algemeenste punte waarop SARS let wanneer hy jou uitgawes nagaan:

  1. Fakture vir uitgawe

Jy moet ’n faktuur kry waarop staan “belastingfaktuur”, met die volle besonderhede van die transaksie, insluitende die datum en bedrag. Slegs ’n belastingfaktuur word aanvaar as bewys van uitgawe. Die faktuur moet aan die belastingbetaler uitgemaak wees.

  1. Brandstof by vulstasie

Dis belangrik om te onthou dat jou strokie wat jy by ’n vulstasie kry, soos die petrolstrokie, moet die kasregisterstrokie wees waarop die hoeveelheid liter asook die prys per liter en totaal aangetoon word. Dit is die enigste strokie wat SARS aanvaar as bewys van uitgawe.

  1. Koöperasie uitgawes

Die koöperasie se staat of afleweringsnota nie voldoende nie. Jy moet ’n belastingfaktuur kan toon vir dit wat op jou rekening is. SARS keur die staat af. Slegs belastingfakture word toegelaat.

  1. Tolgelde

SARS versoek die strokies wat jy by die tolhek self kry. Die blote feit dat dit op jou bankstaat toon is onvoldoende om dit te bewys as jou uitgawe.

Meeste mense is bewus daarvan dat die aankoop van tweedehandse goedere geëis kan word vir inkomstebelasting. Minder mense is bewus daarvan dat jy ’n geagte aftrekking kan kry vir BTW. Dikwels gaan hierdie geleenthede verlore vanweë̈ ontoereikende dokumentasie.

SARS vereis:

  • ’n Belastingfaktuur uitgemaak aan die belastingpligtige.
  • Die koper en verkoper moet duidelik beskryf word, asook
  • Die datum van die transaksie,
  • Presies wat gekoop is,
  • Asook die Randwaarde

Hierdie ouditproses kan opeindig in hoogs tegniese punte wanneer daar besware gemaak moet word. Jou belastingpraktisyn sal dan die nodige stappe neem. Indien jy nie ’n belastingpraktisyn het wat in jou beste belang kan optree nie is jy welkom om ons te skakel. Ons is gerieflik geleë̈ in TLU SA se kantore in Silverton.

Opgestel deur Marica Gerber van Camira Geregistreerde Rekenmeesters en Ouditeure, TLU Gebou, Silverton, tel: 0861115227

Hierdie artikel is opgestel volgens inligting aan ons beskikbaar en ons eie ervaring.  Dit verteenwoordig nie noodwendig die standpunt van SARS of enige iemand anders nie.

Kategorie:

Deel dit:

Windscreen Masters

Enige lid/vriend wat deur Windscreen Master hul ruit laat vervang, kan dit op die plek van sy keuse laat doen. Windscreen Master hanteer ook die skakeling met die lid/vriend se makelaar/versekeraar asook die registrasie van die eis indien van toepassing.

Verco Energy

Verco Energy lewer goedkoper diesel aan TLU SA affiliasies/lede/vriende in sekere afleweringsgebiede.

Timac Agro

Spesiale aanbiedinge om kunsmis teen beter pryse aan te koop, slegs vir TLU SA-lede.

Relevante artikels

NBM

TLU SA se ooreenkoms met NBM bepbaal dat TLU SA affilliasies/lede/vriende afslag ontvang op verskeie versekeringsprodukte

Hendrik de Swardt

082 852 8039

Philippie de Beer

083 230 4583

Relevante artikels

LWO

Die LWO ondersteun boere as werkgewers in alle aspekte rakende arbeidsregwetgewing.

MarketVest

MarketVest maak gebruik van gevestigde, gekontrateerde groenkaart tegniese kontrakteurs regoor die land wat vinnig hulp kan verleen met aanbevelings en installasies. Vir elke suksesvolle afgehandelde installasie wat deur TLU SA na MarketVest verwys word, ontvang TLU SA ʼn verwysingfooi.

Firearms Guardian

Firearms Guardian is ’n unieke korttermynversekeringspakket vir vuurwapeneienaars. Dit bied dekking teen regskostes en aanspreeklikheidseise, wat spruit uit selfverdediging, skiet-ongelukke, strafregterlike vervolging, jagtogte wat skeefloop, sportskiet-ongelukke, en vele meer.

Finco Finance

Finco Finance ondersteun TLU SA-lede met finansiering by handelsbanke.

Pitkos

Die Pitkos is TLU SA se nuusbrief slegs vir lede. Hierin gee ons vir lede inligting oor die aksies waarby ons betrokke is, standpunte wat ons inneem, spesiale aanbiedinge wat vir lede beding is, opkomende geleenthede en waardevolle inligting soos aankondigings in die Staatskoerant wat op landbou betrekking het.