Nuusdienste rapporteer toenemend die globale voorkoms van vernietigende veldbrande – tans selfs in die noordelike halfrond waar groot gebiede in vlam en as opgaan. Dit is opmerklik dat groter wordende vraagtekens oor verslegtende klimaatsverandering hang as een van die aanleidende oorsake. Hier in Suid-Afrika het ons na ‘n hele paar matige winterseisoene vanjaar ‘n besonder koue winter (wat met ryp, sneeu en snerpende koue gepaardgegaan het) beleef. Behalwe dat dit uitermate vlambare omstandighede tot gevolg het, moet aanvaar word dat dit kriminele brandstigters en -protesteerders soos ‘n handskoen pas (om nie van nalatige mede-landsburgers te praat nie) om omvattende skade te veroorsaak. Toegang tot diensbare brandbestrydingsuitrustings bly dus ‘n ernstige vereiste om landbouskades te beperk.





