Klik hier en maak 'n bydrae tot die TLU SA Traumafonds
Maak 'n bydrae tot TLU SA Traumafonds: Klik hier

Deur Bennie van Zyl: Hoofbestuurder – TLU SA

Dit vraag is nie of landbouers die verhoging in minimum loon wil betaal nie, maar of hulle dit kan bekostig.

Dit is belangrik om ‘n holistiese beeld van die landbousektor in sy geheel te hê en so ook die plek wat elke boerdery binne die bedryf volstaan. Elke plaas moet in eie reg as ‘n volhoubare besigheid geag en bestuur word. Dit is dus die verantwoordelikheid van die eienaar om alle produksiefaktore en aktiwiteite op so ‘n wyse te bestuur dat die besigheid winsgewend en vooruitstrewend kan wees. Menslike hulpbronne (beide die eienaar en werknemers), finansiële faktore (kapitaal) en fisiese grondstowwe (die plaas) moet om die beurt op so ‘n wyse aangewend word dat die besigheid optimale winste kan geniet. Indien sekere faktore nie bydra tot die algehele sukses van die besigheid nie, rus die onus by bestuur om sekere aanpassings te maak om die volhoubaarheid van die besigheid te verseker.

Na aanleiding van ‘n onlangse studie, deur Professor Koos de la Rey, blyk landbou se opbrengs op kapitaal slegs 3% te wees. Hierdie syfers laat veel te wense.

Suid-Afrika se ekonomie was reeds voor die ingrepe van COVID-19 na rommelstatus afgegradeer. Verdere regulasies tydens die inperkingsperiode het ekonomiese aktiwiteite finaal tot stilstand gedwing en verwoestende nagevolge vir die Suid-Afrikaanse ekonomie ingehou. Gevolge soos die land se kommerwekkende werkloosheidsyfer van 42.6%. Hierdie statistiek verswak jaarliks onder die beleid van die heersende ANC.

Verder word die debat rondom minimumloon al hoe meer kompleks. In ‘n ideale “scenario” sou ‘n land poog om welvaart op so ‘n skaal te skep dat al sy burgers in diens geneem kon word, vir die hoogste moontlike salaris. Dit is egter ver van ons land se realiteit, gegewe die huidige ekonomiese klimaat. Dit kan veral nie opgelos word deur ‘n enkele afkondiging in die jaarlikse staatsrede nie. Daar bestaan wel ‘n kans vir verbetering indien die volgende areas dringend aandag geniet;

  • Daar moet ‘n klimaat geskep word waarbinne entrepreneurs veilig kan voel om winsgewend te boer. Dit beteken dat dit wat eiendom, bates en selfs die lewe van die eienaar bedreig onmiddellik aandag moet ontvang. Grondonteiening sonder vergoeding, grootskaalse diefstal van lewendehawe en beskadiging van infrastruktuur maak dit bykans onmoontlik vir enige landbouer om ‘n winsgewende bestaan te voer.

Om nie te praat van die katastrofiese effek wat moorde (ongeveer 59 ‘n dag) op beleggings in die landbousektor tot gevolg het nie.

  • Skep ‘n beleid waarbinne die staat se rol beperk word tot stabilisasie waar nodig en ondersteuning gebied word met die verskansing van sekere risiko’s.
  • Skep en onderhou ‘n program wat opgeleide werkers beskikbaar stel vir indiensname. Dit sal tot groot voordeel vir voornemende entrepreneurs wees as hulle toegang tot bekwame werknemers het wat wesenlik kan bydra tot ‘n suksesvolle produksieproses.
  • In ‘n poging om produktiwiteit te verhoog moet langdurige stakings en die beskadiging van infrastruktuur so gou as moontlik uit die weg geruim word.
  • Daar moet daadwerklike uitbreiding en verbetering binne produksiefaktore plaasvind. Dit sal slegs moontlik wees met die verkryging van addisionele kapitaal. Die uitdaging is dus om finansiering te bekom wat bekostigbaar en vrylik beskikbaar is. ‘n Tendens van wanbestuur en oneffektiwiteit by sulke instansies (Landbank) vertraag egter die proses.

Ons land benodig ekonomiese groei. Dit blyk egter dat ons regering hierdie stelling slegs aanraak tydens die jaarlikse staats- en  begrotingsrede, maar geen werklike oplossing implementeer nie. Hierdie soort van uitkyk kom rolspelers in die ekonomie duur te staan wanneer markkragte foute optel en ons verder afgradeer.

In enige boerdery word daar ‘n verhouding gebou tussen die landbouer en sy werkerskorps.  Oor die algemeen is hierdie ‘n gesonde verhouding aangesien hulle op ‘n unieke manier daagliks saam werk en leef. Dit is jammer dat die uitsondering op hierdie reël onder die vergrootglas gebring word en dan as “algemene verskynsel” aanvaar word.

Die verhoging in die minimum loon sal lei tot die afdanking van menige werkers binne die landbousektor. Die wynbedryf en groenteverbouing wat swaar steun op arbeidsintensiewe bedrywe sal veral swaar getref word. Die sosio-maatskaplike probleme wat reeds deur armoede en werkloosheid geskep word sal vererger en verdere stremming op ons ekonomie plaas. Dit is dus nie net in die belang van die werknemer nie, maar die hele land, dat hierdie beleid heroorweeg word. Dit is TLU SA se oortuiging, gegewe ons huidige ekonomiese werklikheid, dat dit beter is om mense die geleentheid te gee om wel ‘n werk te hê as ‘n beperkte toelaag vanaf die staat.

Indien Suid-Afrika se werkloosheidsyfer gering was met ‘n sterk ekonomie en vooruitstrewende besighede sou hierdie beleid moontlik vanpas wees. Dit is egter glad nie die realiteit waarbinne besighede tans funksioneer nie. Daar word reeds van werkgewers verwag om aan te pas by ‘n klomp ekonomiese uitdagings, sou hulle hoop om te oorleef.

Gevolglik sou dit veel beter wees indien die mark toegelaat word om self die prys vir arbeid te reguleer. Die regering se benadering het diskriminasie teen werklose burgers tot gevolg. Hulle word die geleentheid ontneem om ‘n werk te kry, omdat die mark nie die minimum loon kan bekostig nie. Die volgende vraag kan dus gestel word, “Wie praat vir die werkloses?”.

TLU SA stel dit teenoor die regering dat hulle in hierdie verband ‘n destabiliserende rol speel. Daar is reeds baie meer mense wat afhanklik is van maatskaplike toelae, as wat daar mense is wat werk en belasting betaal. Die regering se uitgangspunt is dus uiters kortsigtig en neem nie die groter ekonomiese geheel in ag nie. Dit wil voorkom of die regering sy burgers afhanklik hou van hierdie toelae, sodat hulle op so ‘n wyse stemme kan werf vir komende verkiesings. Ons vra dat die markkragte toegelaat word om hul werk te doen, ook met die regulering van arbeid. Die huidige benadering bied geen positiewe uitkoms vir die werklose burgers nie. Dit is nodig om die arbeidsmag te ondersteun sodat bekwame werkers rolle kan vul wat uiteindelik bydra tot die uitbreiding van ekonomiese aktiwiteite.

In die lig hiervan betreur TLU SA die minister van arbeid en indiensneming, asook die regering se implementering van die minimum loon vir plaaswerkers. Dit is tot die nadeel van landbou, werkers en Suid-Afrika.

Alle landbouers moet nou moeilike besluite maak oor die winsgewende benutting van die produksiefaktore. In sekere bedryfsvertakkings is arbeid ‘n wesentlike faktor en sal daar noodwendig in die verband bepaalde aanpassings gemaak moet word. Boere moet seker maak dat indien daar enige verandering in hul operasionele vereistes voorsien word, dit korrek gedoen moet word. TLU SA Beverly sterk aan dat boere gebruik maak van ‘n kundige instansie soos die LWO Werkgewersvereniging om hierdie beplande aanpassings korrek te hanteer.

Sluit aan

Nuusbriewe
Checkboxes

Kontak Ons